Tydren -kampioenskap skuif vir 5de rondte na Port Elizabeth

Rally 2015 2

Die verdedigende Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioene Leeroy Poulter  en sy navigator, Elvéne Coetzee, is daarop uit om hul goeie vertoning na die vyfde ronde van die 2015-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap, wat hierdie naweek op 17 en 18 Julie in en om Port Elizabeth beslis word, te neem.

Die Castrol-Toyota-Yaris-S2000-renspan se eerste oorwinning vir die jaar was in die vorige ronde, wat in en om Bela-Bela in Limpopo beslis is. Poulter-hulle het danksy dié oorwinning tot 13 punte agter die voorjaers op die punteleer gevorder. Die aksie verskuif nou na die Oos-Kaap waar hulle weer die kampioenskapsvoorloper, Mark Cronjé (Ford) gaan aandurf.

“Leeroy en Elvéne het die gaping agter Mark met hul oorwinning in Bela-Bela aansienlik verklein,” het die Castrol-Toyota-spanhoof, Glyn Hall, gesê voordat die span Port Elizabeth toe vertrek het. “Hulle het egter nog baie werk om te doen om hul titel suksesvol te verdedig, en dit begin by die Volkswagen-tydren wat gewoonlik baie uitdagend is.”

Die 2015-seisoen het hul spanmaats Giniel de Villiers en Carolyn Swan in hul identiese Castrol-Toyota-Yaris-S2000-tydrenmotor van wisselende sukses voorsien. Hulle is nou aan die vooraand van die tweede helfte van die seisoen ’n skrale 2,5 punte agter die Volkswagen-jaer Gugu Zulu, wat op die oomblik in die derde plek op die punteleer is. De Villiers/Swan het egter ’n voorsprong van tien punte teenoor Henk Lategan (VW) in die vyfde plek, en sal hierdie naweek daarop uit wees om Zulu die stryd in sy tuisbyeenkoms aan te sê.

Wat Klas S1600 vir voorwielaangedrewe tydrenmotors met enjins van 1600cc betref, het die verdedigende kampioene, Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle, hul seisoen uiteindelik weer op dreef gekry. Dié twee, wat in ’n Yato Tools-geborgde Toyota Etios S1600 jaag, het die jaar swak begin, maar is op die oomblik voor in die kampioenskap nadat hulle hul probleme onlangs uitgestryk gekry het. Hulle is nou op die vooraand van die vyfde ronde vier punte voor Matthew Vacy-Lyle en sy navigator, Schalk van Heerden (Fragram Toyota Etios).

Die Volkswagen-tydren word tradisioneel hoofsaaklik in en om die gedugte Longmore-plantasie naby Jeffriesbaai beslis. Sneltrajekte soos Culturama en King’s View het deel van Suid-Afrikaanse tydrenne geword, en was al male sonder tal die toneel van titaniese kampioenskapsgevegte. Die Volkswagen-tydren het vanjaar egter van ’n meer kompakte uitleg, en hoewel die woud-sneltrajekte behoue gebly het, skuif die opwinding nou nader aan die winderige en vriendelike stad Port Elizabeth.

Die tydren begin Vrydag 17 Julie met ’n seremoniële wegspring by die VW Auto Pavillion in Uitenhage. Die tydren behels twaalf sneltrajekte waarvan ses Vrydagmiddag net ’n kort afstand van Uitenhage af beslis sal word. Die tydren word Saterdag met ’n sneltrajek in Buffelshoek hervat voordat die byeenkoms na die Longmore-plantasie verskuif vir wat die Sinkdam-snektrajek genoem word. Van daar af kronkel die tydren terug na Uitenhage en Port Elizabeth vir die laaste sneltrajekte – waaronder twee super-sneltrajekte waar twee motors gelyktydig teen mekaar en die stophorlosie jaag – en die tydren op skouspelagtige wyse afgesluit word.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on Tydren -kampioenskap skuif vir 5de rondte na Port Elizabeth