Uitdaging wag op Castrol-Toyota Renspan in Bela -Bela

Driving water and gravel

Die 2015-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap bererik sy halfpadkerf met die Bele-Bela-Motor-tydren die naweek van 19 en 20 Junie in Limpopo. Die byeenkoms sal vir die verdedigende kampioene, die Castrol-Toyota-jaer Leeroy Poulter en sy navigator Elvéne Coetzee, ’n stywe uitdaging bied ten einde hul kampioenskap suksesvol te verdedig.

“Leeroy en Elvéne het ’n moeilike wegspring aan die begin van die seisoen gehad weens ’n string ongelukkige terugslae en klein foutjies wat saamgespan het om hulle van beter uitslae te ontneem,” sê die spanhoof, Glyn Hall. “Hulle het egter steeds daarin geslaag om twee tweede plekke in die eerste twee rondes los te jaag, maar ’n vierde plek in die derde ronde verlede maand in Secunda het hul veldtog ’n groot knou toegedien.”

Poulter/Coetzee is steeds tweede op die algehele punteleer met ’n agterstand van 17 punte teenoor die voorjaers, die voormalige kampioene Mark Cronjé en Robin Houghton (Ford). Die Ford-jaers het al drie tydrenne tot dusver vanjaar gewen, en dit sal baie verg om hulle in te katrol, wat beteken ’n goeie uitslag vir Toyota in Bela-Bela is van kardinale belang.

Poulter-hulle was in die eerste Bela-Bela-tydren in die 2014-seisoen uiters mededingend, maar die Toyota Yaris-S2000-tydrenmotor wat verlede jaar soos klokslag geloop het, het ’n geheimsinnige enjinkets op die tweede dag van die byeenkoms opgedoen en hulle het hulle aan die byeenkoms onttrek.

“Ons kan nie dat verlede jaar se terugslag ons denke beïnvloed nie,” sê Poulter. “Ons fokus op een tydren op ’n keer, en hierdie keer besef ons ons moet vir ’n oorwinning mik.”

Giniel de Villiers, wat met die hulp van Carolyn Swan in die navigatorsitplek jaag, het die seisoen met ’n vierde plek in die Tour Natal-tydren afgeskop, maar die feit dat hulle nie die Sasol-tydren, die tweede ronde van die 2015-seisoen, voltooi het nie, het hulle ver op die punteleer laat terugsak. De Villiers-hulle het daarna herstel en was die naaswenners in die volgende byeenkoms, wat hulle terug tot die vierde plek op die punteleer laat opskuif het – net 1,5 punte agter die Volkswagen-jaer Gugu Zulu.

Wat Klas S1600, Suid-Afrika se vooraanstaande klas vir tweewielaangedrewe tydrenmotors met enjins van 1,6ℓ betref, beleef die verdedigende kampioene, Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle, ’n wipplank-vertoning tot dusver. Hulle was derde in die openingstydren, het die tweede byeenkoms nie voltooi nie en hul klas in die derde ronde gewen.

Dit beteken dié Yato Tools-geborgde Toyota Etios-jaers is nou in die derde plek op die Klas S1600-punteleer – net een punt agter die naasvoorlopers (Paul Franken, VW) en drie punte agter die huidige kampioenskapsvoorlopers.

Die voorlopers is nog ’n Toyota Etios-span in die vorm van Matthew Vacy-Lyle en Schalk van Heerden, wat deur Fragram Tools geborg word. Vacy-Lyle en Van Heerden het hul stem al voorheen om die louere in die kampioenskap dik gemaak, en ’n bestendige wegspring in die seisoen (’n tweede plek en twee derde plekke) plaas hulle aan die vooraand van die vierde tydren bo-aan die punteleer.

Die Bela-Bela-Motor-tydren begin Vrydag 19 Junie om 12:00 met die amptelike wegspringseremonie by die Bela-winkelsentrum. Dag een behels vier sneltrajekte met ’n algehele renafstand van 56 km. Dag twee begin om 8vm met die eerste van ses sneltrajekte wat die algehele renafstand vir die byeenkoms op 179 km te staan bring.

Die tydrenhoofkwartier is weer soos verlede jaar by die ou woonwa-terrein in die middedorp oorkant die ingang na die Forever-oord. Toegang tot die gebied is gratis, en maklike toeskouertoegang is orals beskikbaar. Die byeenkoms is minder as 40 minute se rytyd van Pretoria af.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Innovation-groep, die Imperial Toyota-groep, Bosch, Donaldson, Edgecam, Ferodo, Smith Manufacturing, NGK, SKF en Spanjaard.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel

Posted on by jonckie

Comments Off on Uitdaging wag op Castrol-Toyota Renspan in Bela -Bela