Drie in ‘n ry vir Castrol Toyota Renspan in woestyn tydren

Desert Race Podium• Eerste algeheel vir Anthony Taylor en Dennis Murphy
• Derde algeheel vir Leeroy Poulter en Rob Howie
• Toyota eerste en tweede in Klas S

Die Castrol-Toyota-jaer Anthony Taylor en sy navigator, Dennis Murphy, het ‘n driekuns behaal deur die ikoniese Toyota-Kalahari-Botswana-1000-Woestynren hierdie naweek die derde agtereenvolgende keer in hul Toyota Hilux te wen. Hul spanmaats, Leeroy Poulter en Rob Howie, was derde nadat hulle vroeg op die tweede dag tegniese probleme opgedoen het.

“Leeroy en Rob het vanoggend in die eerste plek en met ‘n voorsprong van 14 sekondes weggespring, maar ‘n probleem met een van die remknypers het hulle reg aan die begin van die dag sowat 20 minute gestrand gelaat,” het die Castrol-Toyota-spanhoof, Glyn Hall, gesê.

“Hulle het egter herstel en die res van die renveld tot 14 sekondes agter die naaswenners, die Ford van Gary Berthold, ingehaal en die derde plek beklink.”

Poulter en Howie se teenspoed was egter ‘n meevallertjie vir Taylor en Murphy. Hulle het net 4km na die wegspring by hul gestrande spanmaats gestop, maar Poulter het gesê hulle moet voortjaag omdat hulle nie juis sou kon help nie.

“Ons het Leeroy en Rob langs die pad gekry en gevra of ons kon help,” het Taylor by die aangewese dienspunt in Jwaneng gesê. “Hulle het gesê ons moet aangaan, en dit is presies wat ons gedoen het.”

Poulter en Howie se dag het later nog moeiliker geword aangesien hulle eers met hul Toyota Hilux se stukkende remknyper en toe ‘n koppelaarprobleem gesukkel het.

“Die Hilux het ten spyte daarvan goed geloop en ons het die stadiger motors voor ons ingehaal,” het Poulter by die eindpunt verduidelik. “Dit was hartverskeurend om die dag met ‘n voorsprong van 14 sekondes te begin net om dit in die eerste 5km van die roete weer te verloor.”

Poulter-hulle is ten spyte daarvan steeds los voor in die Donaldson-veldtydrenkampioenskap danksy die feit dat hulle die eerste dag van die tweedaagse Woestynren gewen het. Dit was hul derde skofoorwinning in drie renne, terwyl Taylor/Murphy steeds stewig in die tweede plek is.

Wat Klas S vir voertuie met enjins van vier liter en met vaste-as-agtervering betref, was die Toyota Hilux van Heinie Strumpher en Henri Hugo die vinnigste. Hul oorwinning het Toyota gehelp om die vervaardigersprys vir die Woestynren te wen.

Die naaswenners in hierdie klas was Deon Venter en Jaco van Aardt in nog ‘n Toyota Hilux.

Die volgende ronde in die Donaldson-veldtydrenkampioenskap is die Malalane-450, wat vroeg in Augustus 2015 plaasvind. Dit is die vierde ronde van die kampioenskap wat uit ses byeenkomste bestaan.

Besoek ook:

Veilige Bestuur op Grondpaaie

Posted on by jonckie

Comments Off on Drie in ‘n ry vir Castrol Toyota Renspan in woestyn tydren