Castrol-Toyota-renspan vaar goed in 110km-voorren tot Kalahari-Botswana Woestytnren

desert sand driving

Die Castrol-Toyota-renspan het die 110km-voorren in die Toyota-Kalahari-Botswana-1000-Woestytnren vandag (Vrydag 26 Junie 2015) blitsig kafgedraf en die vinnigste en naasvinnigste tye opgestel. Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, het hul spanmaats Anthony Taylor en Dennis Murphy met ’n skrale 16 sekondes geklop.

“Ons is baie in ons skik met vandag se uitslag,” het Glyn Hall, hoof van die Castrol-Toyota-renspan, oor sy span se vertoning gesê. “Die dik sand het die buisraammotor-deelnemers egter naby aan ons laat eindig.”

Hulle is só naby dat die Century Racing-jaer Colin Matthews en sy navigator, Rodney Burke, net een sekonde agter Taylor/Murphy was. Maar al jaag die Century-voertuig in ’n ander klas, kan dit steeds ’n invloed op die uitslag van die produksievoertuigren hê.

“’n Mens moet verstaan dat dit in wese twee afsonderlike renne is wat terselfdertyd plaasvind – dié in die afdeling vir Produksievoertuie, en die ren vir Buisraammotors,” verduidelik Hall. “Ons deel egter die roete, wat beteken die twee klasse beïnvloed mekaar ongetwyfeld.”
Wat die produksievoertuie betref, is die twee Castrol-Toyotas voor, gevolg deur die Fords van Lance Woolridge en Gary Bertholdt nadat Woolridge die voorren 59 sekondes agter Poulter voltooi het. Die Horn-broers van Mpumalanga, Johan en Werner van die Malalane-Toyot-renspan, is drie minute agter die voorjaers in die vyfde plek vir die wegspring van Saterdagoggend se hoofren.

Die Toyota Hilux-jaers Heinie Strumpher en Henri Hugo het die vinnigste tyd in Klas S vir produksievoertuie met enjins tot vier liter en vaste-as-agtervering opgestel – net 19 sekondes voor Deon Venter en Jaco van Aardt, wat ook in ’n Toyota Hilux jaag.

Die eerste rendag van die Toyota-Kalahari-Botswana-1000-Woestynren begin Saterdagoggend 27 Junie om 8:30, en behels ’n roete van 500 km deur die Jwaneng-distrik. Die 2015-weergawe van die Woestynren sluit Sondag af ná nog 400 kilometer in dieselfde omgewing.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol-Toyota-renspan vaar goed in 110km-voorren tot Kalahari-Botswana Woestytnren