Toyota verbeter Etios-wenformule net nog meer

EtiosToyota se immer teenwoordigende Etios, wat pal op die topverkoperlys is, het nog verfynings vir die 2015-modeljaar bygekry.

Hoewel sy buite-opkikkering tot ’n nuwe rompkleur – Jet Grey-metaalvlokkieverf (’n glimmende middelmatige silwer) – beperk is, is die meeste veranderings aan die binnekant aangebring. Sy splinternuwe antrasietkleurige doekstofbekleedsel met ’n beskeie dog netjies ontwerpte stippellyn gee die binne-afwerking van die Xs-modelle ’n meer volwasse gevoel.

Daarbenewens word ’n nuwe klankstelsel vir die Etios ingespan (standaard vir die Xs). Hierdie fabrieksgemonteerde dubbeldin-eenheid bied Bluetooth-werking en is netjies in die voorpaneel ingebou. Die klavierswart afwerking met verchroomde beslag weerspieël die metaalagtige groefies wat die instrumente in die middel en die lugvloeikontroles versier.

Die gehaltegevoel word voortgesit deur die bagasieruim-bedekking wat nou in al die luikrugmodelle opgelig kan word.

Hier is ’n opsommende lys van al die gehalte- en estetiese verbeterings wat die Etios sedert sy oorspronklike bekendstelling in Mei 2012 ondergaan het:

• ’n Nuwe sierrooster.
• Kleurgepaste buitespieëlhulsels en deurhandvatsels regdeur die reeks.
• ’n Nuwe lugdinamiese ontwerp vir die buitetruspieël met lugdinamiese vinne.
• Nuwe stertligte.
• Herontwerpte voor- en agtersitplekke met verstelbare kopstutte in die Xs-modelle.
• Die bestuurder se elektries beheerde venster kan outomaties toemaak.
• Herontwerpte instrumentehuisie in die middel met ysblou-agtergrondbeligting, ’n groter vloeikristalskerm wat duideliker is, en ’n syferhorlosie – laasgenoemde net in die Xs-modelle.
• Waarskuwingsgonser vir die ligte sowel as sitplekgordels en deure wat nie op knip is nie (Xs).
• Ergonomies en esteties verbeterde luguitlaatkontroles.
• Verbeterde geraas- en vibrasiepakket wat ’n oorskakeling van rubber-enjinmonterings na meer verfynde klankabsorberende hidrouliese monterings insluit.
• Die knaldemper is hersien en demperverstellings is aangepas om die oordrag van veringgeraas uit te skakel en ritgehalte te verbeter.
• Beter gehalte matte vir die bagasieruim.
• Bagasieruimbedekking wat kan oplig.
• Nuwe herontwerpte beslag vir die Xs-modelle.

Dieselfde viersilinder-enjin van 1,5 liter (wat aan ’n 5-gang-handratkas gekoppel is) en ’n noemenswaardige 66 kW teen 5 600 r/min en 132 Nm se wringkrag teen 3 000 r/min lewer, skuil steeds onder die blinknuwe dop en bied die liggewig Etios die beste versnelling in sy klas – minder as elf sekondes tot 100 km/h. Sy brandstofekonomie in die gekombineerde siklus kom op 5,9ℓ / 100 km vir die sedan en 6ℓ / 100 km vir die luikrug te staan.

Toyota gebruik die kaizen-beginsel, ofte wel voortdurende ontwikkeling, en die jongste weergawe van die Etios is bewys daarvan dat dit regtig werk. Sy klasbeste enjin van 1,5 liter, ruim toerusting, puik veiligheidspakket, bekostigbare prys en nou selfs nog meer nuwighede danksy sy jongste verfyning maak die Toyota Etios is ’n waardige topverkoper.

Die beste nuus is dat al hierdie verbeterings nie ’n gat in kopers se sakke gaan ruk nie… Die jongste opkikkering het tot ’n simboliese prysstyging van net R100 regdeur die hele reeks gelei. (Neem asseblief kennis dat ’n diensplan oor twee jaar of 30 000 km deel van al die Etios-modelle se prys is.)

Etios 1.5 HB Xi – 134 500
Etios 1.5 HB Xs – 143 600
Etios 1.5 SD Xi – 141 100
Etios 1.5 SD Xs – 150 000
Etios Cross – 164 700

Besoek ook:

Vehicle Finance, Car Insurance and Road Safety

Buying and Selling a Vehicle – Informed decisions and the Vehicle Retailer

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota verbeter Etios-wenformule net nog meer