Toyota en Toyota Vrystaat Cheetahs weer by Nampo Oesdag

Hilux SRX

Die Nampo-oesdag is en bly ’n hoogtepunt op die landbou-kalender, en soos dit jare lank al die geval was sal Toyota Suid-Afrika Motors vanjaar weer daar wees en sy vooraanstaande posisie vir die 2015-skou behou.

“Die landbougemeenskap ondersteun die Toyota-handelsnaam geskiedkundig nog altyd – veral die Toyota Hilux,” sê Nicole August, Senior Bestuurder vir Promosies en Borgskappe by Toyota Suid-Afrika Motors. “Hulle was die eerste mense wat die Stout-bakkie begin aanskaf het toe Dr Albert Wessels dit destyds – meer as 50 jaar gelede – na Suid-Afrika gebring het. Dit is dus vir ons van die uiterste belang om daardie verhouding met hierdie gemeenskap te koester, en dit is een van die talle redes waarom ons elke jaar by die Nampo-oesdag is.”

Die Toyota-uitstalling sal vanjaar ’n kleinhandelsware-gedeelte behels, sowel as ’n voertuiguitstalling van gewilde voertuie en die immer gewilde 4×4-aantrekking, die sogenaamde Urban Tracks. Die winkel-gedeelte sal alle besoekers aan Nampo die geleentheid gee om eksklusiewe Toyota-ware te koop, waaronder die nuwe Hilux-reeks – egteleer-baadjies, beursies en handsakke en ’n verskeidenheid dra-sakke. Voertuie van Toyota, Lexus en Hino sal uitgestal word terwyl handelsnaam-abassadeurs sowel as tegniese raadgewers ook beskikbaar sal wees. Mense wat die adrenalien ’n bietjie wil aanjaag, kan regdeur die skou by Urban Tracks, ’n 4×4-baan wat spesifiek ontwerp is om die 4×4-vermoë van Toyota-voertuie ten toon te stel, gaan aanklop.

Daarbenewens sal die Toyota-Vrystaat-Cheetahs vir handtekeninge en foto-geleentheide beskikbaar wees.

Toyota is in saam met Veeplaas ook die amptelike borg van die Toyota-Jong-Afslaers-kompetisie. Afslaers is ’n inherente deel van die lewendehawe-bedryf, maar dit is ’n moeilike bedryf om te betree. Sewe streeksrondes word gehou om die beste gladdebek-afslaers regoor Suid-Afrika in vier verskillende afdelings te kies. Die eindronde word by die Nampo-skou gehou waarna die wenner van die Junior afdeling hom by die Drienasie-afslaerskompetisie sal aansluit.

“Ons is baie opgewonde om ’n belowende jong afslaer die kans te gee om teen die beste ter wêreld mee te ding.

“Ons glo hierdie kompetisie sal die weg vir die wenners baan om ’n voet in die deur van hierdie uiters mededingende bedryf te kry,” sê August.
Die Nampo-oesfees word jaarliks in Bothaville in die Vrystaat gehou en duur vanjaar van 12 tot 16 Mei.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota en Toyota Vrystaat Cheetahs weer by Nampo Oesdag