Toyota bly markleier in April met algehele voertuigverkope

 Toyota Quest assembly

 

Marksegment April 2014 April 2015 %-verandering
Passasiersvoertuie 30 778 30 184 -1,9%
Ligte handelsvoertuie 12 851 12 077 -12,2%
Medium handelsvoertuie 815 777 -4,7%
Swaar handelsvoertuie 404 442 9,4%
Ekstraswaar handelsvoertuie 1 098 939 -14,4%
Busse 79 84 6,3%
Uitvoer 16 802 23 615 40,5%
Algehele mark (plaaslik) 46 016 44 503 -3,3%

 

Toyota Suid-Afrika Motors het sy markleierskap in ’n moeilike kleinhandelmaand behou en 7 916 eenhede verkoop, wat op ’n markaandeel van 17,7% neerkom. Dit dui daarop dat een uit elke ses voertuie wat in April van die hand gesit is, ’n Toyota-model was.

“April is gewoonlik ’n kort maand, maar vanjaar was dit selfs nog korter weens die feit dat baie klante ’n langer breuk in die laaste week van die maand benut het. Ons glo die verkope sal in Mei hierdeur bevoordeel word,” sê Calvyn Hamman, Toyota Suid-Afrika se Senior Vise-President van Verkope en Bemarking. “Toyota het egter daarin geslaag om ten spyte van ’n uiters mededingende mark die vierde agtereenvolgende maand bo te bly.”

Iets wat veral interessant is, is die minder Quantums wat in April afgelewer is en die gevolglike daling in die algehele ligtehandelsvoertuigsegment (LHV). “Die Quantum is gewoonlik een van ons beste verkopers en haal gewoonlik oor die 1 200 eenhede per maand. Die getalle was in April egter aansienlik laer weens ons voorbereiding vir die plaaslike vervaardiging van die Quantum Sesfikile,” sê Hamman, en voeg by dat die maatskappy verwag om hierdie syfers te herwin sodra die nuwe aanleg hervat.

Hino Suid-Afrika het die sukses wat hy in Maart behaal het, voortgesit en 301 verkope in April vir sy Hino- en Dyna-modelle aangeteken, wat die Hino-handelsnaam met ’n markaandeel van 13% in die tweede plek geplaas het.

“Die beleggingsgedrewe medium en swaar handelsvoertuigsegmente dui op ’n geleidelike daling wat hoofsaaklik aan ’n vermindering in aankope weens vervangingsiklusse wat gewoonlik op ’n vyfjaargrondslag werk, tesame met ’n algemene daling in sakevertroue, toegeskryf kan word,” sê Hamman.

Die mark het in sy geheel effens met 3,3% in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar gedaal. “Verbruikers bly onder voortgesette druk weens die onsekerheid oor die brandstofprys en verwagte prysstygings vir dienste en voedsel. Hoewel die mark steeds hierdie druk beleef, is ons nog vol vertroue vir ons voorspelling van 630 000 voertuie vir 2015.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota bly markleier in April met algehele voertuigverkope