De Villiers / Swan naaswenners in Secunda Motor tydren

Secunda rally

Die derde ronde van die 2015-Suid-Afrikaanse Tydrenkampioenskap, die Secunda-Motor-tydren, het die soort skouspel wat alles en almal verwag het, opgelewer – maar nie noodwendig om die regte redes nie. Die Castrol-Toyota-renspan het die byeenkoms met ’n puik tweede plek algeheel vir Giniel de Villiers en Carolyn Swan in hul Toyota Yaris S2000 afgesluit, terwyl Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee vierde algeheel was ná ’n ren wat op die eerste dag deur onvoorsiene terugslae gekenmerk is.

“Giniel en Carolyn het ’n puik ren gehad,” het die spanbaas, Glyn Hall, opgewonde gesê nadat die byeenkoms aan die oewer van die Umuzi-meer in die laeveldse dorpie Secunda in Mpumalanga geëindig het. “Hulle het hard gedruk toe dit nodig was, maar regdeur die byeenkoms bestendig gery en in die proses waardevolle punte aangeteken.”

De Villiers-hulle was in die vyfde plek op die punteleer ná die eerste twee tydrenne, maar sal nou ná hul tweede plek in die Secunda-Motor-tydren gewis opskuif.

Hul spanmaats Poulter/Coetzee het aanvanklik die uiteindelike wenners, Mark Cronjé en Robin Houghton (Ford), op hul tone gehou deur uiters mededingende sneltrajektye op te stapel. ’n Kortstondige konsenstrasie-glipsie het hulle in die derde sneltrajek egter duur te staan gekom.

“Ons het met die aansitterknop op die instrumentepaneel gesukkel,” het Poulter aan die einde van die eerste dag gesê. “Ek het voor die wegspring van die sneltrajek probeer vasstel wat fout was en uitgeklim om die enjinkap oop te maak en die knippe losgemaak. Maar toe Elvéne sê dit was tyd om te ry en vir die sneltrajek aan te meld, het ek teruggeklim en weer die aansitter probeer – en dié keer het hy foutloos gewerk. Ons was dus betyds vir die wegspring.”

Maar Poulter het in die haas om die probleem te soek en betyds te wees, vergeet om die enjinkap-knippe weer vas te maak.

“Hulle het heeltemal goed gery totdat die enjinkap skielik oopgevlieg en hul uitsig heeltemal versper het,” het Hall gesê. “Hulle het hul bes gedoen, maar uiteindelik 50 sekondes teen die stophorlosie verloor. Dit het hulle tot sewende algeheel laat terugsak, maar hulle het hard teruggeveg.”

Poulter/Coetzee het die volgende dag elk van Dag 2 se ses sneltrajekte gewen en hul weg op pad na ’n moontlike podiumposisie oopgekloof.

Hulle kon egter die Volkswagen-jaers Gugu Zulu en Hilton Auffrey net-net nié om die derde plek inhaal nie en moes uiteindelik met die vierde plek tevrede wees.

“Dit was nie juis wat ons wou gehad het nie,” het ’n teleurgestelde Poulter gesê, “maar dit is baie beter om sewe punte aan te teken as om met niks huis toe te gaan. Ons het nog baie werk om te doen om ons kampioenskap suksesvol te verdedig, maar dis nog nie heeltemal verlore nie – ons baklei terug.”

Wat klas S1600 vir voorwielaangedrewe tydrenmotors met enjins van 1 600 cc betref, het die verdedigende kampioene, Guy Botteril en Simon Vacy-Lyle (Yato Tools-Toyota Etios S1600), daarin geslaag om die meganiese terugslae in die eerste twee rondes te oorkom deur hul plaaslik ontwikkelde motor eerste oor die wenstreep te stuur. Hulle het in die eerste ronde in KwaZulu-Natal die derde plek op die naat van hul broeke gehaal, maar kon nie juis veel hond in die Sasol-tydren haar-af gemaak kry nie. Hul klasoorwinning in Secunda het hulle egter weer terug in die kampioenskapstryd, hoewel hulle nog baie werk het om te doen ten einde hul titel suksesvol te verdedig.

Botteril-hulle het ten spyte van elektriese probleme ’n bestendige tydren gehad en daarin geslaag om Richard Leeke en Rikus Fourie (Ford) wat hard in hul nekke geblaas het, in die tweede plek te hou. Die derde plek is deur Matthew Vacy-Lyle en Schalk van Heerden in ’n Fragram-geborgde weergawe van die Toyota Etios S1600 beklink.

Vacy-Lyle/Van Heerden was voor die naweek se Secunda-Motor-tydren in die tweede plek op die punteleer, maar hul puik vertoning in die derde ronde het hulle tot die boonste sport verhef. Hul sukses het ook gehelp om Toyota se spanprys vir die 2015-Secunda-Motor-tydren te besorg.

Die volgende ronde in die reeks van agt tydrenne is die Bela-Bela-Motor-tydren, wat verlede jaar uiters gewild was. Dié byeenkoms sal weer in Bela-Bela in Limpopo aangebied word, en word vir die naweek van 19 en 20 Junie beplan.

Secunda rally 2

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Innovation-groep, die Imperial Toyota-groep, Bosch, Donaldson, Edgecam, Ferodo, Smith Manufacturing, 4×4 Mega World, NGK, SKF en Spanjaard.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers / Swan naaswenners in Secunda Motor tydren