Castrol Toyota Renspan slaggereed vir terugkeer na Sugarbelt Veldren

Poulter Howie 2

Die naam “Sugarbelt” is sinoniem met Suid-Afrikaanse veldrenne. En nou, nadat die byeenkoms in 2014 oorgeslaan is, is die deelnemers weer besig om hulle vir hierdie ikoniese ren, wat vanjaar op 8 en 9 Mei beslis word, voor te berei. Die ren is laas in 2013 aangebied en is op daardie geleentheid oorheers deur die Castrol-Toyota-jaers Anthony Taylor en Dennis Murphy, wat hierdie naweek sal probeer om dit weer te doen wanneer hulle vir die tweede ronde van die Donaldson-veldtydrenkampioenskap aantree.

“Die Sugarbelt is ’n steunpilaar van Suid-Afrikaanse veldrenne,” het die Toyota-spanhoof, Glyn Hall, tydens die voorbereiding op die ren gesê. “Dit is ’n ren met ’n stewige geskiedenis, en ’n oorwinning in Kwazulu-Natal is altyd ’n soete oorwinning, veral omdat dit die tuiste van die Ford Performance-renspan is.”

Die stryd teen die Fords – met die oudkampioen Chris Visser en die jong Lance Woolridge agter die stuur – was ’n alledaagse deel van die afgelope twee seisoene waar Toyota ten spyte van strawwe mededinging telkens koning gekraai het. Maar om die Fords die stryd in hul eie agterplaas aan te sê, kan nogal ’n tameletjie afgee.
“Ons sal maar net so hard as moontlik in die voorren moet jaag,” verduidelik Taylor, die verdedigende kampioen, wat in die eerste ren van die 2015-seisoen derde was. “As ons ’n goeie wegspringposisie vir die hoofren kan beklink, het ons ’n goeie kans om die Fords te klop. Alles kom dus op Vrydag se kwalifiserende voorren neer.”

Die terrein van die Sugarbelt wissel aansienlik en behels ’n mengsel van vloeiende paaie en rowwe gedeeltes vol hindernisse. Die navigasiewerk bied ook ’n uitdaging, veral wat die deelnemers se posisie op die pad betref. Die res word egter hoofsaaklik oor ’n bekende roete beslis, en die meer ervare spanne sal gewis munt uit hierdie voordeel kan slaan.

“Ek het nog nooit hier gejaag nie, maar ek sien baie daarna uit om die omgewing te leer ken,” sê Leeroy Poulter, wat die voorpunt in die kampioenskap beklee. Poulter en sy navigator, Rob Howie, het hul eerste oorwinning saam in die RFS-Uithouren, die openingsren van die 2015-seisoen, behaal.

Die nuwe formaat vir die 2015-seisoen behels ses renne waarvan sekeres tot ’n renafstand van bykans 700 km verleng is. Dié renne staan nou as uithourenne bekend, terwyl die Toyota-1000-Woestynren die enigste marathon-ronde van die seisoen is. Die oorblywende renne, wat die Sugarbelt-450 insluit, staan nou as naelrenne bekend, en gebruik die meer gewilde formaat wat uit ’n algehele renafstand van net 450 kilometer bestaan.
“Nog ’n verandering aan die reëls vir die 2015-seisoen beteken dat elke ren tel,” verduidelik Hall. “Voorheen het net die beste sewe van die agt rondes getel en ons kon uit die aard van die saak ons swakste vertoning buite rekening laat. Vanjaar tel elke ren egter vir die kampioenskap, wat beteken ons moet ’n goeie vertoning in elk van die reeks se ses rondes aanteken.”

Die Sugarbelt-450 word in Kwazulu-Natal in die omgewing van Eston, sowat 30 minute suid van Pietermaritzburg, beslis. Die voorren oor 100 km begin Vrydag 8 Mei om 11:30. Die hoofren bestaan uit twee rondtes oor 160 km elk en begin Saterdag 9 Mei om 8:30. Toegang tot al die toeskouerpunte is gratis, en die ren word by die Beaumont-Eston-boereklub gehou.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersyds voordelige borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Innovation-groep, die Imperial Toyota-groep, die Imperial-Toyota-groep, Bosch, Donaldson, Edgecam, Ferodo, Smith Manufacturing, 4×4 Mega World, NGK, SKF en Spanjaard.

Poulter Howie

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol Toyota Renspan slaggereed vir terugkeer na Sugarbelt Veldren