Lexus ES : ’n Straatmotor genaamd Desire

Lexus ES

Die Lexus ES, die topverkoper sedan in die indrukwekkende Lexus-stal, is ’n goeie definisie van wat alles in ’n weeldesedan moontlik is. Dit is met die onthulling van Lexus se opwindende nuwe 2016-ES by die Shangai-Motorskou duidelik dat hierdie neiging sal voortduur. Die 2016-ES het ’n opwindende, meer sportiewe houding wat beklemtoon word deur ’n elegante dog progressiewe buitekant-stilering, ’n gevorderde en weelderige binneruim sowel as die nuwe veiligheidstelsel wat die Lexus Safety System+ genoem word.

“Ons konsep vir die ontwikkeling was om die ES tot die volgende vlak op die gebied van luukse weelde te neem,’” het die ES se hoofingenieur, Toshio Asahi, gesê. “Die Lexus ES is bekend vir sy vernuwende buitekantstilering en luukse binne-ontwerp. Ons wou daarop voortbou en hom selfs nog meer elegantmaak, terwyl ons die motor ook van die jongste tegnologie wat Lexus kan bied, toegerus het. Ons glo die nuwe Lexus ES sal ’n leier in sy klas wees en baie aandag trek.”

Die nuwe Lexus ES met sy vars voorkoms en sekere bykomende toerusting* maak sy Suid-Afrikaanse buiging in die tweede helfte van 2015.

’n Elegante, dinamiese nuwe voorkoms

Lexus se ontwerpers het vir 2016 ’n uitdagende nuwe vorm vir die hersiene ES gegiet. Sy kragtige vooraansig met Lexus se kenmerkende uurglasvormige sierrooster wat ’n satynverchroomde omlysting het, gee die nuwe ES ’n nuwe sin vir weelde en onderskei hom oombliklik van die res. Buiten die sierrooster het die nuwe ES ook nuutontwerpte kopligte met ligdiodes, terwyl “L”-vormige pylpunt-dagligryligte (DRL) tot buite die koplighuls strek en hom ’n kenmerkende voorkoms gee wat die nuwe model met ander Lexus-modelle koppel.

Die hersiene misligte is na die onderste buitehoeke van die voorkant verskuif ten einde die voertuig se breë houding te beklemtoon.

’n Hersiene vooraansig verbind die enjinkap wat dit laat lyk asof die motor beweeg – selfs wanneer hy stilstaan.
Die slanke vorm strek voort tot in die ES se grasieuse daklyn wat moeiteloos na agter vloei waar ’n verbeterde en moderne stertligontwerp die “L”-vorimige tema met ’n oombliklik herkenbare naggloei oorneem.

Die agterkant het ook ’n hersiene chroomomlysting vir die nommerplaathouer wat visueel tot in die deursigtige dele van die stertligte vloei om die motor se bestendigheid op die pad oor te dra.

Nuutgevormde reghoekige verchroomde uitlaatpyppunte voeg heelwat styl by die voertuig se reeds sportiewe geaardheid.

Die nuwe vorm wat reeds ’n goeie impak maak, word verder deur ’n keuse van twee nuutontwerpte 17”-sierwiele met rigtingsgewyse speekpatrone aangevul. Die motors wat nie hibriedaandrywing het nie, kan donkergrys metaalvlokkiekleurige twintigspeekwiele wat in lae afgeskuur is, as bykomende toerusting kry, terwyl die hibriedmodelle ’n tienspeek-ontwerp met masjienafwerking oor medium grys het.

Nuwe buitekleure word by die bestaande ES-kleurkaart gevoeg: Amber, Nightfall Mica, Caviar, en Eminent White Pearl. Elke kleur maak net soos die bestaande ses keuses gebruik van Lexus se vernuwende en hipermoderne verftegnologie wat ontwerp is sodat die verf se deurskynende vernislaag vanself van ligte krappies kan herstel. Elk van die tien kleure wat nou beskikbaar is, is versigtig gekies om die ES se dinamiese oppervlak te beklemtoon, en kom tot hul reg deur die hersiene veelvoudige verfproses wat Lexus-modelle hul diep, juweelagtige glans gee.

Lexus ES iNTERIOR

Weelderige opgekikkerde kajuit met nuwe gesofistikeerde hoogtepunte

Wanneer dit by weelde en verfyning kom, het Lexus geen gelyke nie. Die ES, wat ontwikkel is om ryvertroue in die beste gemak te bied, omring sy insittendes met ’n weelderige eietydse kajuit. Die ES gee ’n mens met elke aanraking – van die vloeiende voorpaneel wat so verteenwoordigend van moderne argitektuur is tot sy uiters spontane uitleg tesame met die fynste materiale en oppervlakke denkbaar – ’n gevoel van absolute gehalte.

Die 2016-model neem weelde tot die volgende uiterste met ’n versameling nuwe binneruim-kleurkombinasies, wat windmakertemas met veelvuldige kleure behels en elegansie verteenwoordig.
Daarbenewens word ’n verhewe patroon vir die gemaklike dog goed-ondersteunende sitplekke ingespan. Bykomende beslagverbeterings aan die deuroppervlakke aan die binnekant en die middelsole voeg die binneruim se hoëklasgevoel en -ontwerp saam.

Kleurgepaste bekleedsel word ook in die middelkonsole aangetref waar dit by ’n nuwe leerhulsel vir die rathefboom aansluit.

Die nuwe sportstuurwiel sorg vir beter betrokkenheid agter die stuur. ’n Nuwe volkleur-dunfilmskerm (TFT) plaas noodsaaklike voertuig- en roete-inligting sowel as multimedia-inligting gerieflik voor en in die middel. Die 2016 gebruik ook nuwe “enter”-kontroles aan weerskante van die raakvlakskerm om die gebruik van die RTI te vergemaklik.

Verfyning op ’n nuwe vlak

Lexus het nog van die begin af voertuie gebied wat stil en soepel is. Die 2016-ES bou voort daarop danksy ’n magdom verbeterings wat die bestuurder ’n opwindende ervaring bied.

Lexus se ingenieurs het vir die 2016-ES verskeie strukturele versterkings ontwikkel om die stewigheid van die eenstukromp verder te verbeter. Die soort rompinstelling, wat van die Lexus IS-sportsedan af oorgedra word, gee die ES ’n aansienlike beter ritgehalte en verbeterde hantering. Daarbenewens het die nuwe ES ’n bykomende klankdempende laag agter die voorpaneel om enjingeraas nog meer doeltreffend uit die kajuit te hou.

Nog iets wat nuut vir die 2016-model (in sekere markte) is, is ’n tweeliter-viersilinderenjin met regstreekse inspuiting. Die nuwe D4-enjin, wat ontwikkel is om aan China se brandstofekonomievereistes te voldoen, sal in lande soos China, Rusland en Taiwan beskikbaar wees. Die weeldesedan vir die Suid-Afrikaanse mark sal sy uiters soepel L4-enjin van 2,5 liter sowel as die petrol-elektriese hibriedkragbron wat die 300h genoem word, behou.

Aan die voorpunt van veiligheid – die Lexus-veiligheidstelsel Lexus Safety System +

Die ES pronk met Lexus se nuwe veiligheidstelsel wat die Lexus Safety System+ genoem word. Dié stelsel kombineer toonaangewende vernuwende veiligheidstegnologie in ’n netwerk in ’n enkele pakket.
Dit behels onder meer die botsvoorkomingstelsel (PCS), wat ander voertuie en voetgangers in sekere omstandighede kan bespeur, sowel as die gebruik van millimeter-golglengte radar en ’n kamera in die neus om die noodremhulp (BA) aktiveer.

Die stelsel het ook ’n baandwaal-waarskuwing (LDA) wat ’n kamera gebruik om die sigbare strepe tussen bane dop te hou en die bestuurder deur middel van ’n alarm en vibrasie aan die stuurwiel te waarsku wanneer die motor sonder bedoeling uit sy baan begin dwaal.

Die outomatiese hoëstraalkoplig (AHB) bespeur die kopligte van aankomende verkeer en die stertligte van ’n motor voor die ES, en verstel dan die hoë- en dompelstrale outomaties om die beste sig in die donker te bewerkstellig.

Die radar-spoedbeheer gebruik millimeter-golflengte radar om die spoed van verkeer voor die ES te bepaal en pas die spoed van die spoedbeheer outomaties aan ten einde ’n voorafbepaalde volgafstand te handhaaf. Die stelsel gebruik ook millimeter-golflengte radar en ’n kamera om te bepaal wanneer ander verkeer van bane verwissel sodast die ES soepel kan versnel of rem.

“Die verbeterde verrigting, groter enjinkeuse en ’n stiller en uiters luukse binneruim in die hersiene vorm van die nuwe ES bou doeltreffend voort op dit wat hom reeds een van die gewildste weelde-sedans ter wêreld gemaak het, en ons is vol vertroue dat hierdie jongste weergawe van die ES op sy vorige suksesse sal voortbou,” het Asahi afgesluit.

* Die volledige Suid-Afrikaanse spesifikasie- en toerustinglys sal nader aan die amptelike bekendstelling in die tweede helfte van die jaar aangekondig word.

Lexus side

Posted on by jonckie

Comments Off on Lexus ES : ’n Straatmotor genaamd Desire