Toyota spring weg met i-Road-motordeeldiens in Tokio

iRoad

Die Toyota i-Road tree van April af in Tokio aan as deel van nuwe motordeeldiens in die middestad. Dié uiters kompakte elektriese driewielvoertuigie het reeds sy waarde as deel van ’n gekoördineerde openbarevervoerstelsel in Grenoble, Frankryk, bewys en is ook in Toyota-stad in Japan deur sy passies gesit.

Die nuwe proeflopie plaas die i-Road in Park 24 se Times Car Plus-diens wat lede in staat stel om ’n vloot deelmotors wat beskikbaar is, te eniger tyd van die dag te gebruik. Die stelsel span ook sekere elemente van Toyota se Ha:mo-stedelikevervoerstelsel in wat ook vir die Grenoble-projek gebruik word.

Die proeflopie in Tokio word tot die einde van September 2015 beplan. Gebruikersdata en

-terugvoer sal ingesamel word om gemak van gebruik, veranderings in gebruikers se aktiwiteitsgedrag en openbare aanvaarding van nuwe mobiliteitstelsels soos hierdie te bestudeer.

Die fokus is op die i-Road wat vir eenrigtingreise na sake-ondernemings, winkels en uitkykpunte ingespan word. Gebruikers sal hul voertuig by die Times-stasie by die Yurakucho ITOCiA-winkelsentrum afhaal en dit later by enige van vyf liggings regoor die stad terugbesorg.

Park 24 sal dié diens aan korporatiewe lede van Times Car Plus en ’n aantal individue beskikbaar stel. Gebruikers sal besonderhede oor beskikbaarheid deur ’n webblad kan kry en ook afsprake kan maak. Voornemende huurders sal egter eers ’n i-Road-opleidingskursus moet voltooi voordat hulle die voertuig mag bestuur. Die diens sal 412 jen (nagenoeg R38) vir 15 minute kos, en die langste toegelate gebuikstyd is twee en ’n half uur.

Park 24, wat ’n netwerk parkeerterreine regdeur Japan bestuur, het Times Car Plus op die been gebring om openbare mobiliteit selfs nog meer te vergemaklik. Die diens het sowat 430 000 lede en bied ’n uitgebreike reeks voertuie wat gehuur kan word.

Toyota doen al van Oktober 2012 af proeflopies van Ha:mo in Grenoble, Frankryk, en in Toyota City.

Die stelsel is daarop gemik om verkeersdruk te beperk, lugbesoedeling te verminder en mobiliteit te verbeter. Die stelsel koppel private en openbare vervoernetwerke en word tussen spoorwegstasies en openbare geriewe regdeur die onderskeie stede op die proef gestel.

Die Toyota i-Road in ’n oogopslag

Die Toyota i-Road is ’n opwindende ultra-kompakte elektriese driewielvoertuig wat die gemak van motorfietsry met die gerief en stabiliteit van ’n motor kombineer.

 

Lengte: 2 345 mm
Breedte: 870 mm
Hoogte: 1 455 mm
Kragbron: Elektriese motor
Topspoed: 60 km/h
Battery: Lithium-ioon

iRoad 2

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota spring weg met i-Road-motordeeldiens in Tokio