Toyota oorgehaal vir 2015 veldtydren- en tydrenkampioenskappe

elvine

• Leeroy Poulter/Elvene Coetzee in Toyota Yaris S2000-tydrenmotor
• Giniel de Villiers sluit by Castrol Toyota-span in tweede Yaris S2000 aan
• Carolyn Swan word De Villiers se navigator
• Anthony Taylor/Dennis Murphy jaag in Toyota Hilux-veldtydrenvoertuig
• Leeroy Poulter/Rob Howie jaag in tweede Toyota Hilux
• Castrol steeds amptelike spanborg

Toyota Suid-Afrika Motors het ná ’n goeie motorsport-oesjaar in 2014 ’n indrukwekkende span talentvolle en ervare deelnemers vir die 2015-Suid-Afrikaanse veldtydren- en tydrenkampioenskappe aangekondig.

Toyota Motorsport Suid-Afrika, wat onder die vaandel van die Castrol Toyota-renspan deelneem, het die 2014-veldtydren-jaers-, navigators- en vervaardigers-kampioenskap sowel as die tydren-jaers- en navigatorskampioenskappe gewen en sodoende ook ’n 23e vervaardigerskampioenskap by hul reeks titels gevoeg.

“Dit was absoluut ’n fantastiese jaar,” sê die spanhoof, Glyn Hall, oor verlede jaar se uitslae. “Ons het al twee kampioenskappe met byeenkoms-oorwinnings afgeskop, en kan maar net hoop om vanjaar weer so te begin.”
Die span, wat weer deur Castrol – soos die afgelope drie dekades – geborg word, het gewis die talent en ervaring om die uitdagings wat hulle in 2015 die hoof gaan bied, aan te durf. Die Castrol-Toyota-renspan, wat verdedigende kampioene in al twee renformules het, het alle rede om optimisties te wees.

Leeroy Poulter, wat verlede jaar sy eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap gewen het, jaag weer in die beproefde Toyota Yaris S2000-tydrenmotor. Elvéne Coetzee, wat in 2014 die eerste vrou in meer as vyf dekades geword het wat die navigatorskampioenskap wen, is Poulter se navigasievennoot. Hulle het hul staal gewys deur vier van die 2014-kampioenskap se agt rondes te wen, en was twee keer die naaswenners.

“Ons is baie in ons skik met ons 2014-uitslae; dit was werklik ’n jaar wat Toyota Motorsport Suid-Afrika nog lank gaan onthou. Ons is baie trots op die onfeilbare vasberadenheid en genadelose passie vir motorsport van elkeen in die span. Ons ondersteun hulle ten volle in hul stryd om nuwe hoogtes te bereik,” sê Calvyn Hamman, Toyota Suid-Afrika Motors se Senior Vise-President van Verkope en Bemarking.

Toyota Motorsport 2

Die Dakar-veteraan en veelvuldige Suid-Afrikaanse motorsportkampioen Giniel de Villiers sluit hom vir die 2015-seisoen by Poulter/Coetzee aan. De Villiers, wat pas as naaswenner in vanjaar se Dakar-veldtydren in Suid-Amerika teruggekeer het, sal die dienste van die hoogs ervare Carolyn Swan langs hom in die navigatorsitplek van hul Toyota Yaris S2000 hê.
“Giniel het hom die afgelope twee seisoene in die Imperial-Toyota Yaris S2000 bewys,” sê Hall. “Hy het verlede jaar die Toyota-Kaap-handelaarstydren gewen, en is van 2012 die Toyota-staatmaker in die moordende Dakar-byeenkoms. Sy deelname in die hoofspan sal hom ook in staat stel om sy tydrenvaardighede verder te ontwikkel.”

Die span het soos altyd baie tyd daaraan bestee om die Toyota Yaris S2000 vir die komende seisoen te verfyn, hoewel die grootste visuele verskil was om die tydrenmotor dieselfde as die produksieweergawe van die Yaris te laat lyk.

Wanneer dit by veldtydrenne kom, kan daar nie juis veel twyfel oor Anthony Taylor en Dennis Murphy se vermoë wees nie. Hulle het die Donaldson-veldtydrenkampioenskap in 2013 en 2014 gewen, en sal gewis daarop uit wees om in 2015 ’n driekuns aan te teken.

“Anthony en Dennis was ongelooflik bestendig,” sê Hall. “Hulle het die onheilspellende vermoë om altyd hul pad te kry, en het duidelik die perfekte balans gevind tussen hard jaag en die uiters betroubare Toyota Hilux in een stuk terug te bring.”

Hulle sal hierdie seisoen in die nuwe Dakar-toegeruste voertuig jaag – ’n voertuig wat hom in die gedugte Dakar-veldtydren bewys het toe De Villiers en sy Duitse navigator Dirk von Zitzewitz verlede jaar in die tweede plek geëindig het.

Die voertuig sal egter nie vir Leeroy Poulter en Rob Howie, wat vanjaar weer saam met Taylor/Murphy jaag, so vreemd wees nie. Hulle het die Dakar-veldtydren vroeër vanjaar in ’n identiese voertuig voltooi en die 16e plek algeheel beklink. Poulter, wat nou in maar sy tweede volle seisoen in veldtydrenne jaag, sal nie net daarop uit wees om die verdedigende kampioene as sy spanmaats te ondersteun nie, maar ook om op sy vierde posisie in die 2014-kampioenskap te verbeter.

“Die jongste weergawe van die nuwe ren-Hilux is identies aan die voertuig wat ons in die Dakar gebruik het,” verduidelik Hall. “Dit is dus ’n bekende omgewing vir Leeroy en Rob. Anthony en Dennis het egter in die laaste ronde van verlede jaar se kampioenskap in dieselfde voertuig deelgeneem, en hulle sal ook heelwat toetswerk doen voordat die seisoen begin.”

Die nuwe voertuig pronk met ’n magdom veranderings en verfynings wat die voertuig tesame met die splinternuwe vering-uitleg nie net makliker maak om te bestuur nie, maar ook heelwat vinniger maak – veral oor rowwe terrein. Die vering-uitleg is soortgelyk aan dié wat in vanjaar se Dakar gebruik is waar die Toyota Hilux hom bewys het deur nie net tweede algeheel te eindig nie, maar regdeur die byeenkoms ook talle topdrie-sneltrajektye op te stel.

“Die Dakar bied die uiterste wat wisselende terrein betref,” sê Hall. “Dit is dus ’n onvergelykbare hulpmiddel om met die opstelling van die voertuig vir die plaaslike kampioenskap te help.”
Toyota Suid-Afrika Motors is ook trots op sy verbintenis met talle private jaers wat ’n groot verskeidenheid Toyota-voertuie in motorsportbyeenkomste gebruik. Die mees noemenswaardige vertonings in 2014 was dié van Guy Botterill in Klas S1600 van die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap, en Johan Horn in Klas T van die Donaldson-veldtydrenkampioenskap.

Botterill en sy navigator, Simon Vacy-Lyle, het ses van die agt rondes in die Klas S1600-kampioenskap gewen en die titel met nog een ronde oor reeds beklink. Hulle jaag in ’n plaaslik ontwikkelde Toyota Etios R2, wat deur Yato geborg word.

Die Horn-broers Johan en Werner was ongetwyfeld die verrassingspakket van die 2014-Donaldson-veldtydrenkampioenskap. Hulle jaag in die Malalane-Toyota-Hilux, ’n gewese fabrieksmotor, en het hul eerste algehele oorwinning in die Sun City-450 beklink. Hulle het die seisoen as naaswenners afgesluit.

Dié twee spanne jaag vanjaar weer saam met ’n string private Toyota-jaers.

“Dit is belagrik dat ons die deelname van private jaers in ons motors erken, en ons is dankbaar vir hul bydraes in ons vervaardigerskampioenskappe in al twee renformules,” sê Hall.

“Ons wil al ons spanne alles van die beste in hul onderskeie kampioenskappe toewens. Ons hoop dat die Yaris, die Etios en ons getroue Hilux weer koning sal kraai,” se Hamman. (Quote TBC)
Die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap, wat uit agt rondes bestaan, is die Tour Natal-tydren in KwaZulu-Natal. Die byeenkoms word die naweek van 27 en 28 Februarie 2015 beslis, en sal weer in Scottburgh aan die suidkus begin en eindig.

Die eerste ronde van die Donaldson-veldtydrenkampioenskap wat vanjaar uit ses rondes bestaan, word die naweek van 27 en 28 Maart in en om Harrismith in KwaZulu-Natal beslis.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersyds voordelige borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, Donaldson, Edgecam, Ferodo, Smith Manufacturing, 4×4 Mega World, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan by motorsport.toyota.co.za
Twitter: www.twitter.com/toyotasa
Facebook: www.facebook.com/toyotasouthafrica

Toyota Motorsport

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota oorgehaal vir 2015 veldtydren- en tydrenkampioenskappe