Wat is die verskil tussen Veldtydrenne, Veldrenne en Tydrenne?

Dakar rest day

Die verskil tussen Veldtydrenne, Veldrenne en Tydrenne: Die Dakar-ren is ’n veldtydren waar voertuie tussen GPS-punte jaag pleks van op bestaande paaie. Die motors jaag in ’n tydren (soos die WRC) op geslote paaie. In ’n veldren volg die deelnemers roetes wat nie geskik is vir motors nie, maar hulle het steeds ’n bepaalde roete wat hulle moet volg.

Wat die Dakar-ren betref, word die byeenkoms ’n veldtydren genoem, hoewel dit nie aan die definisie van ’n tradisionele tydren voldoen nie. Die byeenkoms bestaan uit renroetes (sneltrajekte) teen die stophorlosie en ooppadgedeeltes waar hul tyd nie geneem word nie, maar hulle moet dit steeds teen ’n sekere voorafbepaalde tyd aflê en voor die spertyd inteken om tydboetes te vermy.

’n Tydren werk op soortgelyke wyse, maar gebruik talle kort sneltrajekte (sowat 25 – 35 km elk; nagenoeg 5 of 6 sneltrajekte per dag; 2 – 3 dae per byeenkoms).

In veldrenne bestaan die byeenkoms uit ’n kort voorren en een lang sneltrajek wat op een enkele dag beslis word, en ’n byeenkoms duur gewoonlik twee dae.

Die Dakar duur 14 dae en dek ’n renroete oor 4 752 kilometer, wat saam met sneltrajekte en ooppadgedeeltes ’n algehele afstand van 9 295 km behels. Die byeenkoms word deur ’n rusdag by die halfpadmerk onderbreek, en is amptelik die langste motorsportbyeenkoms ter wêreld (wat afstand en tyd betref).

Posted on by jonckie

Comments Off on Wat is die verskil tussen Veldtydrenne, Veldrenne en Tydrenne?