Vreugde toe De Villiers / Von Zitzewitz op Dakar Podium eindig

Dakar trophies

BUENOS AIRES – Die eindpunt van die 2015-Dakar in Buenos Aires was die ene vreugde en trots ná die einde van Sneltrajek 13, die laaste van die byeenkoms, toe Giniel de Villiers van Suid-Afrika en sy Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz, op die rostrum parkeer om hul trofee as naaswenners te ontvang. Hulle was 35 minute 34 sekondes agter Nasser Al-Attiyah van Qatar (MINI), wat sy tweede algehele oorwinning in die byeenkoms aangeteken het.

“Dit was ’n puik Dakar,” het ’n glimlaggende De Villiers by die eindpunt in die Argentynse hoofstad gesê. “Ons was die hele tyd reg in die middel van die stryd. Ons Toyota-Imperial-Hilux het soos klokslag geloop, en ons het aan ’n ieder en ’n elk gewys ons is gewis daartoe in staat om die grootste name die stryd aan te sê.”

Al twee die Toyota-Imperial-Hilux-bakkies het die meer as 9 000 km van die wêreld se langste en moeilikste ren deur Argentinië, Chile en Bolivië voltooi. De Villiers en Von Zitzewitz het hul Toyota-Imperial-Hilux (#303) net meer as ’n uur voor die jaer in die derde plek, Krzysztof Holowczyc (MINI) van Pole oor die eindstreep gestuur.

“Daar was oomblikke dat ons binne trefafstand van die voorste posisie was,” het die spanhoof, Glyn Hall, ná die ren gesê. “Ons het egter ’n paar haakplekkies op pad gehad, en hoewel dit nie só ernstig was nie, het dit ons verhinder om ’n werklik ernstige aanval vir die eerste plek te loods.”

Dakar team

Toyota was vir die hele ren in ’n uiters sterk posisie met die Saoediese private jaer Yazeed Alrahji in die derde plek in ’n Hilux wat identies aan dié van die Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-span was.
Dié talentvolle jaer is deur net ’n elektroniese probleem gekniehalter terwyl hy in sy heel eerste deelname aan die Dakar na ’n podiumposisie op pad was.

“Ons is net so trots op wat Yazeed in die 2015-Dakar vermag het,” het Hall oor die Saoedi-Arabiese jaer gesê. “Sy ervaring in die Wêreld-tydrenkampioenskap was ’n groot hulp, en dit was hartseer dat hy net drie sneltrajekte voor die einde van die ren noodgedwonge die handdoek moes ingooi.”

Die 2015-Dakar het vir Leeroy Poulter en Rob Howie (#327) in die tweede Toyota-Imperial-Hilux oomblikke van suiwer genot sowel as groot teleurstellings ingehou. Hulle was blitsvinnig, maar ’n veringkomponent wat vroeg in die ren gebreek het, het hulle aansienlik tyd gekos. Hulle het in een sneltrajek ook ’n kontrolepunt gemis, en is met 40 minute gestraf.

Die gevolg was dat hulle uiteindelik sestiende algeheel was, maar was goed op pad om die laaste sneltrajek van die byeenkoms te wen. Die organiseerders het Sneltrajek 13 tussen Rosario en Buenos Aires egter ná die eerste beheerpunt weens oorstromings op die roete gekanselleer. Dit beteken die Amerikaanse jaer Robby Gordon, wat voor was toe die sneltrajek gekanselleer is, is as wenner van die sneltrajek aangewys. Poulter/Howie was net 25 sekondes agter hom.

“Ons het ’n goeie ren gehad, en vanjaar weer baie geleer,” het Poulter gesê nadat hulle ná die ooppadgedeelte in die Argentynse hoofstad aangekom het. “Hierdie is nie die soort ren wat ’n mens met jou eerste probeerslag wen nie, en blykbaar ook nie die tweede keer nie. Dit neem tyd om te verstaan hoe dinge in die Dakar-ren werk, maar ek voel werklik ons het vanjaar baie gevorder.”

Dit was die derde podiumposisie vir die Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-span in vier jaar – derde in 2012, tweede in 2013 en nou weer tweede in 2015. De Villiers en Von Zitzewitz het die podium in 2014 gemis, maar hul Toyota-Imperial-Hilux steeds in die vierde plek algeheel oor die wenstreep gestuur.
“Die 2015-Dakar was ’n fantastiese ervaring,” het Hall gesê. “Nog ’n podiumposisie beklemtoon net hoe mededingend ons geword het vandat ons die eerste keer aan hierdie fantastiese ren deelgeneem het. Al die eer gaan aan die span wat moeiteloos gewerk het om die fantastiese renmotors te ontwikkel, te bou en te toets – die Toyota-Imperial-SA-Dakar-span sou net nie sonder hulle bestaan het nie.”

Noudat die ren verby is, sal die span al hul gereedskap, onderdele en ander toerusting verpak om terug na Suid-Afrika verskeep te word. Die renspan, tegnici en ander personeel kom Maandag 19 Januarie om 13:40 op die O.R. Tambo-lughawe aan.

Dakar 2015 podium

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

Dakar 2015 pofium sa

Posted on by jonckie

Comments Off on Vreugde toe De Villiers / Von Zitzewitz op Dakar Podium eindig