Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-spanne tevrede na eerste skof van Dakar 2015

Dakar stage 1

VILLA CARLOS PAZ, Argentinië. – Die twee Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-spanne het gister al twee ’n sug van verligting geslaak nadat hulle sneltrajek 1 van die 2015-Dakar-veldtydren met groot sukses voltooi het. Daarbenewens het motor #303, met Giniel de Villiers en sy Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz, in die kajuit, die vierde vinnigste tyd vir die dag aangeteken. Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, wat in die tweede Toyota-Imperial-Hilux (#327) jaag, was 14e algeheel nadat hulle in die 27e plek weggespring het.

Die deelnemers moes in die eerste sneltrajek van die 2015-Dakar-veldtydren ’n relatiewe kort sneltrajek oor 170 kilometer aandurf. Dié sneltrajek het die byeenkoms 144 km noord van die Argentynse hoofstad, Buenos Aires, afgeskop. Dié kort sneltrajek het lang, reguit dele met skerp draaie en kruisings op gladde oppervlakke behels, en was soortgelyk aan tradisonele tydrenroetes eerder as die uitgestrekte oop terrein wat meer getrou aan die Dakar-ren is.

“Ons het ’n relatiewe goeie, skoon lopie gehad,” het De Villiers gesê nadat hy by die oornag-tentkamp van die 2015-ren aangekom het. “Die Hilux het absoluut perfek geloop en ons het geen risiko’s so vroeg in die ren gewaag nie.”

De Villiers/Von Zitzetwiz is net 1 minuut 12 sekondes agter die vroeë voorloper, Nasser Al-Attiyah (MINI). Die Argentynse jaer Orlando Terranova (MINI) is in die tweede plek, gevolg deur die Amerikaner Robbie Gordon (Gordini Buggy) wat die derde plek net agt sekondes voor De Villiers ingeneem het.

Poulter en Howie het intussen teen verbysterende spoed begin en was tweede vinnigste by die eerste kontrolepunt.
Hulle het egter gou van die stadiger deelnemers voor hulle ingehaal en het langer as 140 kilometer in hul stof gesit. Die gevolg was dat hulle die 14e vinnigste tyd aangeteken het, hoewel hulle duidelik gewys het dat hulle tot baie meer in staat is.

“Dit was ’n baie frustrerende dag,” het Poulter by die kontrolepunt ná die sneltrajek gesê. “Ons was soveel vinniger as die ou voor ons, maar daar was net nie plek om verby te kom nie. Ons moes maar net in die stof aankruie. Ons het darem stewig teenoor ons wegspringposisie verbeter.”

Poulter-hulle het in die 27e posisie weggespring en reg van die begin van die sneltrajek af begin opskuif, maar hul rentyd, wat net 4min 40sek stadiger as dié van die voorjaer was, het hulle aan die einde van die dag tot 14e laat opskuif.

Die groot nuus van die dag was dat die verdedigende kampioen, Nani Roma (MINI), uitgeval het. Sy motor is na die oornaghalte ingesleep nadat hy oliedrukprobleme opgedoen het. Dit is te betwyfel of hy die wegspringstreep vir sneltrajek 2 sal haal.

Dakar stage 1 pic 3

“Ek is relatief tevrede met ons verrigting op die eerste dag,” het die Toyota Motorsport-spanhoof, Glyn Hall, by die oornag-tentkamp gesê. “Die twee Toyota-Imperial-Hilux-renvoertuie het goed geloop, en dis ’n verligting dat die eerste sneltrajek nou agter die rug is. Leeroy het sy geduld vandag bewys deur agter die stadige duinebesie te bly en nie kanse te waag nie, wat nogal bemoedigend is. Ek het verwag dat ons vandag op dié laagste hoogte van die byeenkoms bo seevlak vinniger sou wees. Hoewel ons darem ’n bietjie verligting van die FIA se enjinregulasies gekry het (die lugbeperker is nou 1mm groter), is dit duidelik nie naastenby genoeg nie. Die roete klim van hier af en ons kraglewering sal teenoor dié van die turbomotors begin daal, wat steeds ’n groot kommer vir ons is.”

Die langste sneltrajek van die 2015-Dakar kom volgende aan die beurt, en behels 518 km oor wisselende terrein wat ná ’n kort ooppadgedeelte van 26 km aanbreek. Sneltrajek 2 begin net buite die dorpie Villa Carlos Paz, en behels harde grond- en klippaaie aan die begin, met lang, stowwerige gedeeltes in die middel. Dié monster-sneltrajek eindig met ’n lang sanderige stuk waarna die deelnemers ’n ooppadgedeelte van 81 km tot by die volgende oornag-tentkamp by San Juan aflê.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota:

Addisionele inligting

Die verskil tussen Veldtydrenne, Veldrenne en Tydrenne: Die Dakar-ren is ’n veldtydren waar voertuie tussen GPS-punte jaag pleks van op bestaande paaie. Die motors jaag in ’n tydren (soos die WRC) op geslote paaie. In ’n veldren volg die deelnemers roetes wat nie geskik is vir motors nie, maar hulle het steeds ’n bepaalde roete wat hulle moet volg.

Wat die Dakar-ren betref, word die byeenkoms ’n veldtydren genoem, hoewel dit nie aan die definisie van ’n tradisionele tydren voldoen nie. Die byeenkoms bestaan uit renroetes (sneltrajekte) teen die stophorlosie en ooppadgedeeltes waar hul tyd nie geneem word nie, maar hulle moet dit steeds teen ’n sekere voorafbepaalde tyd aflê en voor die spertyd inteken om tydboetes te vermy.

’n Tydren werk op soortgelyke wyse, maar gebruik talle kort sneltrajekte (sowat 25 – 35 km elk; nagnoeg 5 of 6 sneltrajekte per dag; 2 – 3 dae per byeenkoms).

In veldrenne bestaan die byeenkoms uit ’n kort voorren en een lang sneltrajek wat op een enkele dag beslis word, en ’n byeenkoms duur gewoonlik twee dae.

Die Dakar duur 14 dae en dek ’n renroete oor 4 752 kilometer, wat saam met sneltrajekte en ooppadgedeeltes ’n algehele afstand van 9 295 km behels. Die byeenkoms word deur ’n rusdag by die halfpadmerk onderbreek. Dit is amptelik die langste motorsportbyeenkoms ter wêreld (wat afstand en tyd betref).

Dakar  stage 1 pic 2

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-spanne tevrede na eerste skof van Dakar 2015