De Villiers naaswenner in sneltrajek 7 van Dakar 2015 terwyl Poulter ondersteunend jaag

Dakar 2014 stage 7

UYUNI – Asof die Dakar-veldtydren nie erg genoeg is soos dit is nie, moes die deelnemers Sneltrajek 7 in Bolivië op hul eie gaan aandurf – sonder die steun van hul diensspanne wat altyd aan die einde van ’n rendag op hulle wag. Dit was egter ’n fantastiese ‘uitstappie’ vir Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz in hul Toyota-Imperial-Hilux, en hulle het die sesde vinnigste tyd vir die dag opgestel. Daarmee het hulle drie minute op die voorsprong van die voorloper, Nasser Al-Attiyah (MINI) ingehaal.

Dié marathon-sneltrajek is tussen Iquique aan die Chileaanse noordkus en Uyuni in soutpanwêreld in Bolivië beslis. Die sneltrajek, waar die deelnemers vir 321 km volspoed op ’n hoogte van 3 600 m bo seevlak jaag voordat hulle in Salar de Uyuni op ’n hoogte van 4 000 m eindig, gaan sonder die gerief van ’n volskaalse oornagtentkamp gepaard. Die deelnemers moet hul eie voertuie diens en enige herstelwerk self doen – een van die ou tradisies van die oorspronklike Dakar-ren.

“Ons het ’n puik dag gehad,” het De Villiers by die oornaghalte in Uyuni gesê. “Ons het nie net die druk op Nasser volgehou nie, maar ook daarin geslaag om ’n bietjie van sy voorsprong weg te skaaf. Ons moet nou net so voortgaan en druk wanneer ons kan. Die ren is nog lank nie verby nie, dus weet niemand hoe dit verder gaan verloop nie.”

Al-Attiyah het vroeg in die sneltrajek verkeerd gery, wat die Toyota-span laat verbyjaag het. Dit het beteken dat De Villiers/Von Zitzewitz voor gejaag het en die pad moes “vee”, wat die navigasiewerk bemoeilik het. Die Hilux-jaers het egter weer die betroubaarheid van hul Toyota-Imperial-inskrywing beklemtoon, en die voertuig het foutloos in die sielkundig moeilike sneltrek gevaar.
“Ons het geen moeilikheid met die stygende deel van die roete tot in Uyuni gehad nie, en hoewel ons bekommerd was oor die dun lug so ver bo seevlak, waar ons turbolose V8-enjin die spit afbyt, het ons steeds daarin geslaag om die gaping teenoor die voorjaer effens in te kort – en al die eer behoort aan ons renvoertuig.”

Intussen het Leeroy Poulter en Rob Howie, wat in die tweede Toyota-Imperial-Hilux jaag, die elfde vinnigste tyd in die sneltrajek opgestel en tot 17e algeheel opgeskuif. Dit was ’n puik vertoning wat hulle tot onder die top-wegspringposisies sou laat opskuif het, maar Sneltrajek 8 is eintlik ’n verlenging van Sneltrajek 7, wat beteken die renvolgorde op die pad bly dieselfde. Hulle moet dus weens hul moeilike dag in Sneltrajek 6 weer in die 40e posisie wegspring.

“Die eerste beheerpunte het verbygevlieg,” het Poulter aan die einde van die sneltrajek gesê. “Ons het baie goed gedoen deur aan die begin so vinnig te wees, maar het toe weer effens tyd teenoor die voorjaers verloor. Die Hilux het alles gedoen wat ons van hom verwag het – en meer – en ons is steeds in ’n goeie posisie vir Sneltrajek 8.”

Die terugtog van die groot hoogtes van Uyuni terug tot Iquique aan die kus eindig met die lang, steil afdraande van die bekende duin agter die oornagtentkamp.

“Ons sien nogal daarna uit om weer laer te wees,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê nadat hy gehoor het die twee Toyota-Imperial-Hilux’e het veilig in Uyuni aangekom. “Die manne hier by die oornaghalte staan reg om ’n bietjie liefdevolle aandag aan die renvoertuie te gee wanneer hulle ná die marathon-sneltrajek hier aankom, en as al twee ons jaers net kan aanhou doen wat hulle vandag gedoen het, sal ons die rusdag in ’n baie goeie posisie wees.”

Sneltrajek 8 neem die deelnemers van die soutvlaktes naby Uyuni in Bolivië terug na die kusgebied in Chile.
Die roete is 500 km lank, en sluit die lang afdraande teen die massiewe sandduin waarvoor Iquique bekend geword het, in. Daarna vol die rusdag, wat tradisioneel die halfpadmerk van die Dakar is – maar dit beteken ook dat die Toyota-Imperial-SA Dakar-span weer teen laer hoogtes sal kan jaag, wat baie meer by die turbolose V8-enjin wat in die Toyota-Imperial-Hilux gebruik word, pas.

Dakar stage 7

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers naaswenner in sneltrajek 7 van Dakar 2015 terwyl Poulter ondersteunend jaag