De Villiers en Von Zitzetwitz tweede in sneltrajek 6

Dakar stage 6

IQUIQUE – Giniel de Villiers en Dirk von Zitzetwitz (#303) het in hul Toyota-Imperial-Hilux die tweede vinnigste tyd in Sneltrajek 6 van die 2015-Dakar tussen die Chileaanse dorpies Antofagasta en Iquique opgestel. Hulle was ná 255 km se dolle gejaag net 37 sekondes agter die sneltrajekwenner, die algehele voorloper Nasser Al-Attiyah (MINI).

“Ons het nogal hard gedruk vandag en kon maklik by Nasser se spoed kers vashou,” het De Villiers by die oornagtentkamp by Iquique gesê. “Die Hilux het steeds perfek geloop en ons was duidelik net so vinnig as die MINI’s.”

Die dag het ook goed vir Leeroy Poulter en Rob Howie (#327) in die tweede Toyota-Imperial-Hilux begin. Hulle was die 11e en 12e vinnigste by die meeste beheerpunte, maar het effens tyd in die sandduine naby die eindpunt verloor. Hulle moes noodgedwonge lug uit die bande laat, en kon naby die eindpunt as gevolg daarvan nie so vinnig jaag as wat hulle wou nie.

“Ons het geen probleem gehad wat ons algehele spoed betref nie,” het Leeroy ná die sneltrajek gesê. “Ons was naby die toptye in die sneltrajek totdat dinge in die duine verkeerd geloop het. Ons het vandag ongelukkig ook een van die beheerpunte misgery, wat beteken ons kry ’n stewige tydboete van 40 minute, en dan is daar nog die verlore tyd toe ons gesukkel het om die GPS-punt op te spoor. Dit is ’n groot terugslag, maar ons sal aanhou om so hard as moontlik te jaag om daar te wees as Giniel en Dirk dalk hulp nodig het.”

Poulter en Howie het saam met die boetetyd tot 21e algeheel teruggesak, maar hulle het nog een gelukskaart – ’n moontlike geleentheid om hul posisie op die pad te verbeter.
Hulle sal dit vir die wegspring van Sneltrajek 7 gebruik, en as alles volgens plan verloop, sal hulle in die voorste groep op die roete bly ten spyte van die feit dat hulle op die algehele posisielys teruggesak het.

“Dit is uit die aard van die saak teleurstellend dat Leeroy en Rob gestraf is omdat hulle ’n beheerpunt misgery het,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Maar ons is terselfdertyd baie in ons noppies met Giniel en Dirk se vertoning tot dusver. En moenie vergeet nie – daar is nog baie van die ren oor, wat met twee marathon-sneltrajekte begin.”

Die sogenaamde marathon-sneltrajekte beteken die deelnemers jaag in die eerste weg van die tentkamp en diensspanne af, en keer met die volgende een terug – sonder enige tegniese steun tussen-in. Sneltrajekte 7 en 8 word op agtereenvolgende dae beslis, en die deelnemers sal tot hoogtes van 4 000 m klim op die roete van Iquique na die berugte soutvlaktes by Uyuni. Hulle sal ná die oornaghalte in Bolivië met ’n ander roete terugkeer Iquique toe en in dié kusdorpie eindig nadat hulle teen die bekende groot duin agter die oornagtentkamp afgery het.

“Geen diensspanne word op dié deel van die roete toegelaat nie,” het Hall verduidelik. “As enigiets breek, mag net die bemanning daaraan werk. Ons stuur ’n volledige dienspakket vir elke motor saam, wat heelwat gewig byvoeg, maar dit is noodsaaklik. Ons het ook ’n plan in plek om nuwe bande vir die terugtog aan Giniel en Dirk se motor te kry. Dit is egter ’n benoude tydjie aangesien ons magteloos is om te help as iets gebeur. Die motors het egter nog geen groot probleme tot dusver gehad nie, dus verwag ons nie probleme nie.”

Die deelnemers kry ’n effense blaaskans wanneer hulle van Bolivië af terugkom voordat die ren op 13 Januarie ná die rusdag met die laaste Chileaanse sneltrajek van Iquique tot Calama hervat voordat hulle vir die laaste skof van die 2015-Dakar terugkeer Argentinië toe.

De Villiers stage 6 dakar

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers en Von Zitzetwitz tweede in sneltrajek 6