De Villiers behou 2de Posisie ten spyte van probleme met navigasie tydens sneltrajek 9

Dakar stage 9

CALAMA – Die 2015-Dakar het ’n wipbal in Sneltrajek 9 geboul wat nie net ’n uitdagende roete van Iquique na Calama was nie, maar een beheerpunt wat veral moeilik was om te kry, het die deelnemers op soek na die ontwykende baken in die stof van die Atacama-woestyn laat rondskarrel. Hoewel party spanne aansienlik tyd verloor het, het die Toyota-Imperial-Dakar-jaers Giniel de Villiers en sy navigator, die Duitser Dirk von Zitzewitz, daarin geslaag om hul tydverlies tot net 15 minute te beperk.

“Ons het besef ons sou vandag iets spesiaals moes doen,” het ’n teleurgestelde De Villiers by die oornagtentkamp in Calama gesê. “Dirk het ’n effense korter roete vir ons uitgewerk, en as alles reg verloop het, sou ons heelwat tyd teenoor Nasser (Al-Attiyah, die voorjaer) ingehaal het. Dit was uiteindelik die verkeerde besluit, en die hele situasie is vererger deur die feit dat ons gesukkel het om een van die bakens in die digte stof op te spoor.”

Hoewel die meeste jaers gesukkel het om dié GPS-punt te kry, was die voormalige wenner Nani Roma (MINI) en sy spanmaat Al-Attiyah eerste daar. Roma het die sneltrajek gewen, met Al-Attiyah wat ses minute later gevolg het. Toe die stof uiteindelik oor Sneltrajek 9 sak, het Al-Attiyah ’n voorsprong van 23 minute 58 sekondes teenoor De Villiers/Von Zitzewitz gehad, met hul mede-Toyota-jaer Yazeed Alrahji 16 minute verder agter stewig in die derde plek.

“Dit is in ’n ren soos hierdie van groot belang om op alles positief te fokus,” het die spanhoof, Glyn Hall, by Calama gesê. “Giniel en Dirk het vandag probeer om iets buitengewoons te doen, maar dit het net nie alles volgens plan verloop nie. Maar as dit uitgewerk het, kon ons reg op Al-Attiyah se stert of selfs die nuwe Dakar-voorjaers gewees het.
“Giniel het vandag werklik uitgehaal so wat hy kan en was daarop ingestel om Al-Attiyah in te haal. Hy was vir ’n groot deel van die sneltrajek voor, maar toe kom die probleem met die kontrolepunt. Soos sake nou staan, het ons tyd teenoor die voorjaer afgestaan, maar terselfdertyd ons voorsprong teenoor Alrahji in die derde plek vergroot. Dit was dus eintlik ’n goeie uitslag as dit nie vir die ontwykende GPS-punt was nie.”

Leeroy Poulter en Rob Howie, wat in die tweede Toyota-Imperial-Hilux jaag, het ook met die versteekte kontrolepunt gesukkel.

Dakar stage 9 3

“Toe ons dit uiteindelik kry, was die terrein erg omgedolwe. Dit is in ’n gebied vol poeierstof, en die jaers voor ons het almal rondgejaag om die punt te kry. Ons kon dus nie baie sien nie, en dit het ons langer as ’n uur geneem om die baken te kry voordat ons verder kon jaag,” het Poulter ná die sneltrajek gesê.

Hulle het die 27e vinnigste tyd in vandag se sneltrajek opgestel, maar weens die feit dat ander spanne ook tyd in die digte stof verloor het, het hulle hul 18e posisie algeheel behou. Dit beteken hulle begin Sneltrajek 10 in die 27e wegspringposisie op die pad, wat hulle reg tussen baie van die stadiger jaers – en reg in die stof wat daarmee gepaard gaan – plaas.

“Ons het nog vier sneltrajekte oor, dus is dit nog lank nie verby nie,” het Hall bygevoeg. “Die werklikheid is egter dat ons Nasser ná vandag waarskynlik nie op die gebied van spoed sal kan inhaal nie. Maar enigiets kan in die Dakar-ren gebeur, en dit is dikwels die geval. Ons probeer dus nog so hard as wat ons kan om te sien hoe die kaarte op 17 Januarie in Buenos Aires gaan val.”

Sneltrajek 10 is volgende, waar die hele Dakar-sirkus die grens na Argentinië op ’n ooppadgedeelte van 385 km oorsteek. Die mededingende deel van die sneltrajek strek oor 358 km, en begin sodra die deelnemers oor die grens is.
Die roete in Argentinië neem hulle oor sand, grond en ’n kort stukkie teer, en styg van 3 600 m bo seevlak tot oor die 4 500 m voordat dit tot 3 400 m daal. Dit is die laaste deel van die dorre woestyn-sneltrajekte voordat die Dakar na die groener omgewing van Argentinië terugkeer.

Dakar stage 9  worker

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers behou 2de Posisie ten spyte van probleme met navigasie tydens sneltrajek 9