Bestendige vertoning vir De Villiers, hartseer terugslag vir Poulter op sneltrajek 5 van Dakar

Dakar Toyota Maintenance

ANTOFAGASTA – Die Dakar is bekend as ’n genadelose ren, en Sneltrajek 5 van die strafste motorsportbyeenkoms ter wêreld was ’n keerpunt vir die Toyota-Imperial-Hilux-jaers Leeroy Poulter en Rob Howie (#327). Hulle het bykans ’n uur teenoor die voorjaers verloor nadat ’n kortsluiting oor rowwe terrein die motor viervoet laat vassteek het.

“Ons het sterk weggespring en was die 11e vinnigste deur die eerste twee beheerpunte,” het ’n moeë Poulter aan die einde van die 458 km-sneltrajek tussen Copiapo en Antofagasta gesê. “Maar die enjin het skielik uitgesny, en dit het ons amper ’n uur geneem om die probleem op te spoor. Op die ou einde was dit maklik om reg te maak, en ons was summier teen volspoed terug.”

Poulter-hulle het ten spyte van die feit dat hulle aan die einde van die sneltrajek blitsig was, net die 39e vinnigste tyd vir die dag opgestel, wat hulle tot 18e algeheel laat terugsak het.

“Dit was ’n baie teleurstellende dag wat Leeroy en Rob betref,” het die spanhoof, Glyn Hall, by die tentkamp naby die kusdorpie Antofagasta aan die weskus van Chile gesê. “Hulle het gister goed ingehaal, net om dit vandag te verloor. Hulle sou gewoonlik in die 39e plek weggespring het, maar omat Leeroy die vorige dag 9e was – onder die voorste 16 plekke – kan ons nog ’n veiligheidskaart gebruik om hul wegspringposisie te verbeter. Afhangende van die volgorde sal Leeroy onder die voorste 20 wegspring, wat groter stofgapings beteken.”

Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, het ’n aansienlik beter dag in die sneltrajek gehad en hulle het die 6e vinnigste tyd vir die dag opgestel.
Hulle het 2:20 teenoor die voorloper, Nasser Al-Attiyah (MINI), afgestaan, maar bly in ’n gerieflike tweede plek algeheel.

“Ons het besluit om nie juis kanse te waag nie. Dit was ’n lang lopie met ’n moeilike roete en baie plekke waar dinge verkeerd kon loop. Op hierdie tydstip moet ons seker maak dat ons elke dag in ’n billike posisie afsluit eerder as om te probeer om ’n sneltrajek te wen, wat ons die ren kan kos. Ons doelwit is om binne bereik van Nassar te bly, en daar is nog baie kilometers oor,” het De Villiers oor sy vertoning gesê.

Volgende aan die beurt is Sneltrajek 6 van Antofagasta tot Iquique aan die verre noordkus van Chile. Dié sneltrajek bestaan uit 255 km se klipperige terrein en massiewe sandduine, wat ná die eerste 69 km deur ’n kort ooppadgedeelte van 22 km onderbreek word. Die algehele ooppadgedeelte is bykans 400 km, waarna die deelnemers by die kusdorpie Iquique, wat op 1 April 1 2014 deur ’n aardbewing getref is, aankom.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

Posted on by jonckie

Comments Off on Bestendige vertoning vir De Villiers, hartseer terugslag vir Poulter op sneltrajek 5 van Dakar