35 Jaar van agtereenvolgende markleierskap vir Toyota

 Toyota Quest assembly female

  • Toyota vier vergrote markleierskapsaandeel
  • Hilux Suid-Afrika se topverkoper-voertuig vir 2014
  • Voorste handelsnaam vir 12 agtereenvolgende maande regdeur 2014

 

ONTLEDING VIR DIE HELE 2014:

Marksegment Hele 2013 Hele 2014 %-verandering
Passasiersvoertuie 450 296 439 179 -2,5%
Ligte handelsvoertuie 167 996 173 790 3,4%
Medium handelsvoertuie 11 584 11 021 -4,9%
Swaar handelsvoertuie 4 692 4 765 1,6%
Ekstraswaar handelsvoertuie 8 619 9 490 10,1%
Busse 757 1 021 34,9%
Uitvoer 276 404 276 874 0,2%
Algehele plaaslike mark (uitvoer uitgesluit) 649 216 644 216 -0,7%

 

MAANDELIKSE ONTLEDING (DESEMBER):

Marksegment   Dec 2013 Dec 2014 % change
Passasiersvoertuie 32 853 35 924 9,3%
Ligte handelsvoertuie 11 301 12 965 14,7%
Medium handelsvoertuie 948 1 005 6%
Swaar handelsvoertuie 464 436 -6%
Ekstraswaar handelsvoertuie 478 621 29,9%
Busse 52 99 90,4%
Uitvoer 22 190 21 833 -1,6%
Algehele plaaslike mark (uitvoer uitgesluit) 46 482 51 461 10,7%

 

 

Toyota Suid-Afrika Motors het ’n ongelooflike suksesvolle 2014 afgeteken en sy posisie as markleier in Suid-Afrika die 35e agtereenvolgende jaar bevestig nadat 127 534 Toyota-produkte verlede jaar ’n nuwe tuiste gevind het.

Dit kom neer op ’n aandeel van 19,8% in ’n mark wat uiters veerkragtig was, hetsy met ’n effense daling teenoor die vorige jaar en ’n jaarlikse verkoopsyfer van 644 523 eenhede. Dit is die vierde agtereenvolgende jaar dat Toyota sy markaandeel verbeter het. Toyota was ook elke maand in 2014 die voorste handelsnaam in voertuigverkope.

Vanjaar se skitter-vertoning kan aan die maatskappy se immergroen Hilux toegeskryf word, wat sy oorheersing in die afdeling vir ligte handelsvoertuie (LHV) met 37 561 eenhede vir die jaar voortgesit het. Dit is 8 829 meer as sy naaste teenstander in die bakkie-mark, en maak die Hilux nie net die topverkoper-bakkie in Suid-Afrika nie, maar ook die algehele topverkoper-voertuig in al die segmente vir die hele 2014.

Wat die segment vir passasiersvoertuie betref, het Toyota sy markaandeel in hierdie segment met positiewe groei tot 15,5% verhoog. Dit is gesteun deur die bekendstelling van die nuwe Corolla (9 893 eenhede is sedert sy bekendstelling in Maart verkoop) en die Corolla Quest (7 976 eenhede is sedert sy bekendstelling in Mei van die hand gesit), sowel as die bekostigbare Etios wat ’n skitterende verkoopsyfer van 17 835 eenhede in 2014 gehaal het.

Ander topverkopers in die maatskappy se stal sluit in die Fortuner, wat die mark vir sportnutse lei met bestendige maandelikse verkope van meer as 600 eenhede en ’n algehele syfer van 10 088 eenhede vir die jaar. Die maatskappy se kleiner RAV4 met aandrywing deur al vier wiele het op soortgelyke wyse ewe goed gevaar en 5 012 eenhede is in 2014 verkoop. Die Quantum bly ook ’n gunsteling met verkope van 14 369 eenhede.

Wat die swaargewigte betref, het Toyota se vragmotorafdeling, Hino, sy derde posisie in die mark met verkope van 3 844 eenhede behou. Dit volg sy rekordverkope in Maart (425 eenhede) en Augustus (455 eenhede) en die opening van ’n nuwe Hino-aanleg van R55 miljoen in Prospecton in Mei  verlede jaar. Hino het ook sy beste Desember-verkope nog gehaal nadat 356 eenhede gedurende die feestyd verkoop is.

Soos Toyota se Senior Vise-President vir Verkope en Bemarking, Calvyn Hamman, dit stel: “Ons is ongelooflik trots op wat die maatskappy in ’n moeilike 2014 reggekry het – om 35 jaar se agtereenvolgende markleierskap te vier, is inderdaad ’n groot prestasie en ons wil ons klante en handelaars vir hul geloof in ons produk bedank.

“’n Sterk vraag regdeur ons hele handelaarsnetwerk het tot ’n styging van 3,2% van Toyota se verkope deur hierdie kanaal gelei, wat net weer beklemtoon hoe belangrik ’n gesonde handelaarskapsteenwoordigheid in Suid-Afrika is,” sê Hamman.

“Ons het ’n suksesvolle Desember gehad waar ons handelaars hard gewerk het om meer as 10 000 eenhede te verkoop, en die Hilux het hom veral goed van sy taak gewkyt en sy posisie as topverkoper in die LHV-mark herwin – altesaam 3 343 bakkies is verkoop,” sê Hamman.

Toyota se Desember-verkope verteenwoordig ’n 20,1%-markaandeel (10 372 eenhede) terwyl sy bydrae tot die uitvoermark op 5 319 eenhede (24,3%) te staan gekom het.

“Hoewel 2014 se verkope sonder twyfel bewys het hoe veerkragtig die mark was, was handelstoestande moeilik weens twee rentekoersstygings en bogemiddelde prysstygings vir nuwe voertuie,” sê Hamman en voeg by dat ekonomiese druk tot omsigtige en konserwatiewe verbuikersentiment lei.

“Ons is egter baie opgewonde oor die vooruitsigte vir 2015 en glo die goeie nuus van ’n stewige daling in die brandstofprys vandeesweek nog voorspel goeie dinge vir ’n positiewe nuwe jaar. Ons sal ontwikkelings op die gebied van maatskappymotor-belasting en moontlike rentekoersstygings in die tweede helfte van die jaar fyn dophou, aangesien dit ’n groot uitwerking op plaaslike verkope kan hê,” sluit hy af.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on 35 Jaar van agtereenvolgende markleierskap vir Toyota