Dakar 2015: Toyota renvoertuie en toerusting veilig op pad na Suid-Amerika

Dakar 2015

Die span by Toyota Motorsport het Vrydag 12 Desember 2014 ’n groot sug van verligting geslaak toe die twee Suid-Afrikaans ontwikkelde en plaaslik geboude Imperial-Toyota-Hilux-renvoertuie die werkswinkel in Barbeque Downs verlaat het – op pad Buenos Aires toe. Die twee nuwe renvoertuie (een elke vir Giniel de Villiers/Dirk von Ztizewitz en Leeroy Poulter/Rob Howie) en ’n derde bakkie wat vir die Saoediese WRC-jaer Yazeed Al-Rajhi gebou is, sal op 4 Januarie op die wegspringstreep vir die 2015-Dakar-veldtydren in die Argentynse hoofstad wees.

Dit het ’n massiewe poging vereis om die renvoertuie nie net te bou, te toets en vir verskeping voor te berei nie, maar ook om die spertyd vir die verpakking van ses ton se bykomende toerusting wat die voertuie vergesel, te haal.

Die grootste hoeveelheid van die toerusting is soos voorheen deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens se vragafdeling, SAA Cargo, na Suid-Amerika vervoer. Dit sal aanvanklik met vragmotors van Buenos Aires na Toyota Argentinië se monteergeriewe by Zerate geneem word. Die deels gemonteerde renvoertuie sal by Zerate aanmekaar gesit en vir toetswerk op 2 Januarie voorberei word.

“Baie goed moet vinnig gebeur wanneer ons op 27 Desember in Buenos Aires aankom,” sê die spanhoof, Glyn Hall. “Die span is egter beter voorberei as voorheen, en is soos altyd hoogs gemotiveer.”

Hoewel die amptelike wegspring vir die Dakar-ren eers op 4 Januarie is, het die ren vir die Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-span in werklikheid aansienlik vroeër reeds begin.

“Dit is amper soos ’n fynbeplande militêre aanval om alles betyds vir die ren gereed te kry,” sê Hall. “Ons moes die voertuie bou en toets, onderdele – waarvan daar amper 4 000 is – vervaardig, ’n katalogus van al die komponente opstel en elke enkele item lys. Toe moes ons nog alles in spesiale vraghouers en letterlik honderde genommerde plastiekhouertjies verpak. Alles sal met ons aankoms in Suid-Amerika in ons logistieke vragmotors verpak word.”

Dit is Toyota Suid-Afrika Motorsport se vierde jaar van deelname aan die wêreld se moeilikste motorsport-byeenkoms. Die span is dus ’n goedgeoliede masjien, en daar is groot afwagting in hul geledere danksy seker veranderings in die reëls en die uitgebreide toets- en ontwikkelingswerk wat in 2014 gedoen is.

“Baie moet egter steeds gedoen word voordat ons op die wegspringstreep vir die eerste sneltrajek kan aantree,” sê Hall. “Ons sal dit een dag op ’n keer doen. Die Dakar-ren is nie maklik om te wen nie – baie mense probeer – en ons ervaring wys die beste taktiek is om elke dag as ’n afsonderlike uitdaging aan te durf.”

Die ren skop op 4 Januarie 2015 in Buenos Aires af. Die roete strek tot in Chili en Bolivië voordat die deelnemers vir die einde na Argentinië terugkeer. Vanjaar se ren behels ’n reusagtige sirkelroete dwarsoor die vasteland, en eindig op 17 Januarie weer in Buenos Aires.

Dakar 2015 pack

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, Spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

dakar 2015 pack 2

Posted on by jonckie

Comments Off on Dakar 2015: Toyota renvoertuie en toerusting veilig op pad na Suid-Amerika