Castrol Toyota Renspan wen Donaldson -Veldtydrenkampioenskap


• Toyota 1e en 2e algehele 2014-kampioenskap
• Toyota 1e en 2e in Klas S-kampioenskap
• Toyota 2e, 3e, 4e, 5e en 6e in Atlas Copco-Gold 450-veldtydren vir produksievoertuie
• Toyota 1e en 2e in Atlas Copco Gold 450-veldtydren in Klas S
• Toyota wen al die klasse in al die kampioenskappe (veldtydrenne en tydrenne) waarvoor hy in 2014 ingeskryf het

Die verdedigende veldtydrenkampioene Anthony Taylor en Dennis Murphy (Castrol-Hilux) het die 2014-Donaldson-veldtydrenkampioenskap in ’n ren met meer verrassende kinkels en hart-in-die-keel-oomblikke as ’n televisiesepie by die Castrol-Toyota-renspan se totaal vir die jaar gevoeg toe hulle vyfde algeheel – goed genoeg om die algehele kampioenskap te beklink – in die Atlas Copco-Gold-450-veldtydren was. Hulle het ’n teleurstellende voorren gehad wat hulle tot heel agter in die hoofren se wegspringrooster gedwing het.

“Anthony en Dennis het egter ’n fantastiese ren gehad,” het die spanhoof, Glyn Hall, aan die einde van die seisoen se laaste ren gesê. “Hulle was deel van die massa-wegspring, maar het hul pad op genadelose wyse deur die renveld oopgeveg en toe die stof sak, uiteindelik in die 5e plek geëindig. Dit was goed genoeg om die 2014-titel met wat uiteindelik ’n gerieflike voorsprong was, te beklink.”

Taylor/Murphy was in ’n tweestryd met die Malalane Toyota-jaers Johan en Werner Horn, wat ironies genoeg in dieselfde Toyota Hilux gejaag het waarmee Taylor verlede jaar se kampioenskap gewen het. Die twee spanne is voor die laaste ronde deur net 14 punte van mekaar geskei, en toe dinge nie vir Taylor/Murphy in die kwalifiserende voorren (waarin die wegspringposisies vir die hoofren bepaal word) volgens plan verloop nie, het dit duidelik geword dat die stryd tot by die wenvlag gevoer sou word.

“’n Verdwaalde klip in die voorren het een van ons voertuig se agterrempypies beskadig,” verduidelik Taylor.
“Ons het bykans ’n halfuur verloor om die probleem op te los, en hoewel ons uiteindelik weer aan die gang kon kom, moes ons daarmee vrede maak dat ons van heel agter af as deel van die massa-wegspring sou moes begin – nie juis die soort wegspringposisie om ’n kampioenskap te wen nie.”

Kampioene word egter nie kampioene omdat hulle nie deursettingsvermoë het nie, en Taylor/Murphy is bewese kampioene. Hulle het vir die hele 350 km van die roete van die hoofren hard teruggeveg en ’n indrukwekkende aantal deelnemers verbygesteek om hulself in ’n posisie te plaas om munt te slaan uit enige probleme wat dalk die voorjaers kon kniehalter. Dit het gewis vrugte afgewerp en hulle het in die 5e posisie – net twee plekke agter die Horn-broers – geëindig, wat goed genoeg was om hul tweede agtereenvolgende kampioenskap te beklink.

Leeroy Poulter en Rob Howie, wat in die tweede Castrol-Toyota Hilux gejaag het, het goed begin. Hulle was ten spyte van ’n pap wiel in die voorren net sewe minute agter die vinnigste motor, en het in die hoofren met mening weggespring. ’n Ongelukkige voorval het daartoe gelei dat hulle in een van die buisraammotors voor hulle op die pad vasgery het, wat aansienlike skade aan hul Toyota Hilux se olieverkoelingstelsel veroorsaak het. Hulle moes hulle aan die ren onttrek, wat hulle in die vierde plek in die algehele kampioenskap laat eindig het.

Die 4×4 Meg World-jaer Deon Venter en sy navigator, Jaco van Aardt, het Klas S vir ouer veldrenvoertuie in hul Toyota Hilux beklink toe hulle die nuwe klaskampioene Jannie Visser en Joks le Roux (Ruwacon Racing-Toyota Hilux) met tien minute geklop het. Venter/Van Aardt moes ten spyte van hul klasoorwinning met die tweede plek in die algehele kampioenskap tevrede wees.

“Ons is baie in ons skik met ons motorsportuitslae vanjaar,” sê Hall. “Ons het ook danksy die puik vertoning van sommige van die private jaers wat ook in Toyota-produkte jaag, elke klas waarin ’n Toyota vir 2014 ingeskryf was, gewen – nie net in die Donaldson-veldtydrenkampioenskap nie, maar ook die 2014-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap.”

Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee het die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap in hul Castrol-Toyota Yaris S2000 gewen.
Die private jaers Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle het dieselfde in Klas S1600 in hul Yato Tools-Toyota Etios R2 reggekry.

In die veldtydrenreeks was dit Taylor/Murphy wat Klas T (die top-klas vir produksievoertuie) gewen het, terwyl Visser/Le Roux sake in Klas S oorheers het.

“Dit was ’n fantastiese jaar vir ons,” het Taylor as 2014-kampioen gesê. “Die span het fantasties gevaar, en die Hilux was so betroubaar soos altyd. Dis ’n ongelooflike gevoel om twee kampioenskappe ná mekaar te wen!”

Die Castrol-Toyota-span het ook die nuwe Dakar-Toyota Hilux-renmotors in die Atlas Copco-Gold-450 getoets. Dieselfde voertuie sal op 15 Desember na Suid-Amerika vertrek om op 4 Januarie 2015 vir die wêreld se langste en moeilikste motorren op die wegspringstreep te wees.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersyds voordelige borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, DeWalt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, 4×4 Mega World, FreeM, NGK, Robor, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan op Twitter, www.twitter.com/toyotasa, en Facebook by www.facebook.com/toyotasouthafrica

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol Toyota Renspan wen Donaldson -Veldtydrenkampioenskap