Toyota stel die Fortuner “Epic” bekend

Almal is altyd op soek na iets anders wanneer dit by ’n nuwe motor kom. Maar elke nou en dan duik ’n produk op wat regmerkies vir alles kry. Eienskappe soos ’n perfekte vermenging van praktiese bruikbaarheid, veelsydigheid, waarde vir geld, betroubaarheid, koeëlvaste reswaardes, foutlose pad- en veldry-gedrag sowel as ’n goed toegeruste kajuit, beteken die Toyota Fortuner is juis daardie soort voertuig.

Die verkoopsukses van die Fortuner is klinkklare bewys hiervan. Die voertuig het sedert sy buiging op die plaaslike mark in 2006 ’n bestendige syfer van gemiddeld 900 verkope per maand aangeteken, of om dit meer in perspektief te stel: nagenoeg 50 persent van alle mediumgrootte* sportnutsvoertuie wat in Suid-Afrika verkoop word, is Fortuners.

Kerry Roodt, Hoofbestuurder van Bemarkingskommunikasie vir Toyota SA Motors, beaam dit en skryf die Fortuner se sukses toe aan die feit dat die voertuig “vierkantig in die smaak van Suid-Afrikaners val”.

“Die Fortuner is die volkome alsydige speler, en is pasreg vir gebruik in verskillende situasies – van stedelike snelweë en bergpasse tot sandduine en die bosveld. Die ‘gaan oral; doen enigiets… en doen dit in styl’-karakter van die Fortuner vul die avontuur-leefstyl aan van buitelug-Suid-Afrikaners wat ’n behoefte aan die dubbeldoelige vermoë van ’n veldry- en stadsvoertuig het. As daar al ooit ’n raak beskrywing vir so voertuig was, is dít op die Fortuner van toepassing: ‘Vryheid is inderdaad aantreklik’.”

Die 4×4-weergawe van die Fortuner pronk met voltydse aandrywing deur al vier wiele met laestrek en ’n Torsen-vastrapewenaar (LSD) met ’n ewenaargrendel. Die 4×2-weergawes is danksy ’n ewenaargrendel ewe goed toegerus om die bos aan te durf. Hulle deel ook dieselfde gekunstelde swaardiens-vering met hul 4×4-stalmaats, wat bestaan uit ’n dubbelmik-hoëliguitleg voor en ’n vierskakel-stelsel met laterale beheer agter.

Die voertuig-statistiek vir al twee weerkawes (4×4 en 4×2) bevestig net weer die Fortuner se veldry-geskiktheid:

 

Invalshoek 30 grade
Vertrekhoek 25 grade
Grondvryhoogte 220 mm
Waterry-diepte 700 mm

 

“Die Fortuner het ook wat ons die prys/grootte-balans noem, net reg. In wese beteken dit kopers kry ’n groter voertuig as wat hulle verwag, teen ’n laer prys as wat hulle verwag, wat dit ’n skitterende waarde-vir-geld-kopie maak,” sê Roodt.

Nog iets wat die Fortuner se gewildheid beklemtoon, is die feit dat dit ’n trots Suid-Afrikaanse model is. Die Fortuner, wat by Toyota se Prospecton-aanleg in Durban vervaardig word, word deur nie minder nie as 2 483-monteerlynwerkers op die IMV-monteerlyn (vernuwende of innoverende veeldoelvoertuiglyn) langs sy Hilux-stalmaat gebou.

’n Vinnige kykie na die Fortuner se tydlyn onthul dat die model ’n aantal verbeterings en opgraderings ondergaan het om hom danksy gebruikersterugvoer in pas met markvereistes en klanteverwagtinge te hou. Soos Roodt dit stel: “Die klant se stem is van die uiterste belang en dit het grootliks tot baie van die verbeterings van hierdie topverkoper gelei.”

2006 Plaaslik vervaardigde Fortuner maak sy buiging in Suid-Afrika sam met die
7e-geslag-Hilux.
2009 Toerustingveranderings gee die Fortuner stabiliteitsbeheer as deel van sy standaard-toerusting, en hy kry ook 17”-wiele.
2011 Die Fortuner se voorkoms word opgekikker en hy kry ’n aantal gemak- en geriefsitems by. ’n Waarde-georiënteerde 2.5 D-4D-handratweergawe word die eerste keer by die reeks gevoeg.
2012 2.5 D-4D-outomaties word bekend gestel.
2013 “LTD Edition” vir die 3.0 D-4D- en 4.0 V6-modelle.
2014 Fortuner “Epic” maak sy buiging tesame met kosmetiese verbeterings vir die hele reeks.

 

Toyota Fortuner “Epic”

Toyota se immergroen Fortuner-sportnuts word weereens vir die 2014/15-modeljaar hersien met ’n string verbeterings om dié gunsteling-gesinsportnuts se oorheersende posisie in sy marksegment te hanhaaf.

Stileerspesialiste het die Fortuner vir ’n bietjie kosmetiese snykunde geneem. Die herontwerpte voorkant kry nuwe kopligte met swart detail. Die ander treffende veranderings is die traandruppelvormige verchroomde skuins omhulsels vir die voorste misligte. Al die buite-truspieëlhulsels het nou chroombedekking pleks van kleurgepaste hulsels. Nuwe stertligte – ook met swart afwerking wat soos dié van die kopligte lyk – rond die veranderings aan die agterkant af.

Die “Epic”-behandeling maak selfs ’n nog sterker ontwerpstelling met deurdagte stilerings- en praktiese verbeterings vir 50 persent (meer as twee maande se produksie) van al die 3.0 D-4D- en 4.0 V6-weergawes. Hierdie unieke weergawe kry aan die voorkant ’n verchroomde nerfstamper met unieke “Epic”-kentekens, en van die kant gesien die donkergrys 17”-allooisierwiele wat hom nog meer laat uitstaan. Die “Epic”-modelle kry nog bykomende praktiese toerusting by – ’n trekstang sowel as ’n drumpelskermplaat om laaiwerk van groot goed net so effens makliker en meer moeitevry te maak.

Pryse

Fortuner 3.0 D-4D 4×2 Epic                           R461 800

Fortuner 3.0 D-4D 4×2 outo Epic                   R474 700

Fortuner 4.0 V6 4×2 outo Epic                        R493 100

Fortuner 3.0 D-4D 4×4 Epic                           R513 400

Fortuner 3.0 D-4D 4×4 outo Epic                   R526 500

Fortuner 4.0 V6 4×4 outo Epic                        R544 500

 

*Sluit modelle soos die Chevrolet Trailblazer, BMW X3 en Hyundai Sante Fe in.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota stel die Fortuner “Epic” bekend