Toyota skuif dwarslat hoër met nuwe hoëromp-Hilux 2.5 D-4D SRX Xtra Cab

Min maatskappye het die soort houvas wat Toyota in die bakkiemark geniet, veral wanneer dit by werkesels kom. Toyota het dus pas nadat hy met alles vorendag gekom het vir die Legend 45-pakket wat nou deel van al die Hilux-modelle aan die bopunt van die reeks is, op die meer praktiese sy van sake begin fokus met ’n behoorlike herbewerking van die Hilux 2.5 D-4D SRX.

Die hoëromp-weergawe (Raised Body) van die Hilux 2.5 D-4D SRX Xtra Cab vervang die vorige weergawe met die gewone bak. Die nuwe weergawe van die langkajuit-bakkie het in reaksie op klante se insette ’n hoër ry- en grondvryhoogte sowel as ’n verbeterde invals- en vertrekhoek om uitdagende terrein makliker baas te raak. Swaardiens-16”-wiele vul die hoër vering aan ten einde sy verrigting op rowwer paaie te versterk.

 

  Bestaande Xtra Cab SRX Nuwe hoëromp-Xtra Cab SRX
Ewenaar 3.583 3.909
Grondvryhoogte 181 212
Invalshoek 21 grade 30 grade
Vertrekhoek 18 grade 23 grade
Bande 205 / 70R 15C 205 R16C 6J

 

Daarbenewens is die toerusting wat in die nuwe hoëromp-weergawe aangetref word, in pas met dié van ander SRX-modelle gebring om by die praktiese gebruik van die voertuig te pas en bestendigheid regdeur die hele produkreeks te bewerkstellig. Die nuweling is in ooreenstemming met sy geharde voorkoms van die meeste van sy chroomafwerking gestroop en pronk nou met praktiese swart afwerking vir die deurhandvatsels en deurspieëlhulsels. Die binnekant van die SRX het nou ook meer geharde doekstofbekleedsel wat effens growwer is.

Nog goeie nuus is sy prys – die nuwe Hilux 2.5 D-4D Xtra Cab-model is ten spyte van die algehele onlangse prysverhoging vir die laaste kwartaal net effens duurder. Die nuwe kleinhandelprys is R298 700, wat net R5 000 meer as dié van die vorige model is.

Kern-toerusting:

  • 2.5 D-4D-viersilinder-dieselenjin met dubbele bonokasse (DOHC) en 16 kleppe, gekoppel aan ’n 5-gang-handratkas
  • 75kW @ 3600 r/min
  • 260Nm @ 1600-2400 r/min
  • Modderklappe voor en agter
  • Lugversorging
  • Klankstelsel met Bluetooth en RDS
  • Stuurgemonteerde skakelaars
  • Elektriese vensters
  • Kragstuur
  • USB-sok
  • Middelkonsole-kissie
  • Diefweerstelsel – sirene/alarm en immobiliseerder
  • Dubbele lugsakke voor
  • Sluitwerende remme (ABS)
  • Diensplan van 5 jaar / 90 000km

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota skuif dwarslat hoër met nuwe hoëromp-Hilux 2.5 D-4D SRX Xtra Cab