Toyota Imperial Dakar span gereed vir dakar 2015 veldtydren

Januarie is in die taal van motorsportgeesdriftiges sinoniem met net een ding: die Dakar-veldtydren. Die 2015-ren hou groot belofte in om gestand te doen aan die legende wat in die 35 vorige byeenkomste een van die wêreld se mees ikoniese motorsportbyeenkomste geword het. Die Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-span sal weer soos in 2012, 2013 en 2014 met die beste Toyota Hilux-renbakkie nog op die wegspringstreep wees.

“Ons is baie tevrede met die jongste weergawe van ons beproefde Toyota Hilux-Dakar-bakkie,” sê die spanhoof, Glyn Hall. “Dit is die derde generasie van die voertuig wat in sy heel eerste deelname aan die Dakar-ren in die derde plek was. Iets wat egter baie belangriker is, is dat die jaers net so in hul noppies is as ek.”

Die renjaers vir die 2015-Dakar is dieselfde as die vorige byeenkoms: Giniel de Villiers, wat die byeenkoms in 2009 gewen het, sal weer aan die voorpunt van Toyota-Imperial-Suid-Afrika se Dakar-aanslag wees. Dit sal De Villiers se 12e jaar van deelname aan die byeenkoms wees. Hy jaag weer saam met sy jare lange navigator, Dirk von Zitzewitz (Duitsland), wat met 15 Dakar-renne agter die rug self ’n Dakar-veteraan is.

Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, sal weer in die tweede Toyota-Imperial-Hilux jaag. Hulle het hul merk vroeg in die 2014-ren gemaak toe hulle die derde vinnigste tyd in Sneltrajek 3 opgestel en ná die 13 sneltrajekte waaruit die ren bestaan het, uiteindelik 33e algeheel geëindig het.

Die nuwe Toyota-Imperial-Hilux is in wese ’n ontwikkelde weergawe eerder as ’n algehele nuwe ontwerp. Die voertuig is op die sterk punte van die vorige weergawes gegrond, hoewel die 2015-voertuig op visuele gebied die grootste veranderinge ondergaan het.

Iets wat opvallend is, is dat die spaarwiele nie meer agter op die motor is nie. Die een wiel is nou onder die kajuit, en die ander twee aan die sykante agter die deure. Dit het ’n beduidende hoeveelheid gewig (120 kg) van die wiele af na tussen die asse verskuif, wat die swaartekragmiddelpunt verlaag het.

 

“’n Mens kan ’n massiewe verskil voel,” het die Dakar-veteraan Giniel de Villiers oor die nuwe uitleg gesê. “Die nuwe bakkie is baie vinniger in dele met skerp draaie, en ons het ook baie werk aan die vering gedoen wat die bakkie beter ná ’n spronge te lande laat kom.”

Die uitleg kon hoofsaaklik verander word danksy nuwe reëls wat die Toyota-Imperial-Hilux 60 kilogram ligter maak. Die span het besluit om die gewig te herverdeel en die beste van die minder gewig van die voertuig te maak, wat beter hantering en balans tot gevolg gehad het.

Benewens die minder gewig maak die nuwe reëls ook voorsiening vir ’n effens groter lugbeperker vir die enjin. Dit is gedoen in ’n poging om die speelveld gelyker te maak vir die verskillende soorte enjins wat in dieselfde klas gebruik word – hoofsaaklik die turbodiesels wat beter teen groot hoogtes bo seevlak en in dik sand as petrolenjins soos dié van die Toyota-Imperial-Hilux vaar.

Die nuwe Imperial-Toyota-Hilux het terselfdertyd ’n nuwe veerstelsel gekry wat geheel en al in Suid-Afrika ontwerp is, sowel as ’n nuwe lugverorger en talle ander verfynings teenoor die oorspronklike renvoertuig wat die eerste keer gejaag het.

Dit sal alles op die proef gestel word wanneer die 2015-Dakar-ren op 4 Januarie in Buenos Aires in Argentinië aan die gang kom. Die 2015-roete bestaan uit ’n sirkelroete oor die landsgrense van Argentinië na Chile en Bolivië voordat die deelnemers op 17 Januarie vir die einde in Buenos Aires terugkeer.

Die Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-span sal nie die enigste span met die Suid-Afrikaans ontwikkelde Toyota Hilux-renvoertuie wees nie.

Die SA span sal op die byeenkoms self weer logistieke en infrastruktuur-steun van die Belgiese Overdrive-span geniet. Overdrive steun ook ’n string ander Toyota Hilux-deelnemers, onder wie gevestigde deelnemers soos Lucio Alvarez (Argentinië), Bernhard ten Brinke (Nederland) en Yazeed Alrajhi (Saoedi-Arabië).

Die twee Suid-Afrikaanse Toyota Hilux-renbakkies vertrek op 15 Desember na Argentinië, en die vervoer sal weer deur SAA Cargo geborg word. Suid-Afrikaanse Dakar-aanhangers kan die Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-span op Facebook by www.facebook.com/toyotasouthafrica en op Twitter by www.twitter.com/toyotasa volg.

 

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, Spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Imperial Dakar span gereed vir dakar 2015 veldtydren