Castrol-Toyota Renspan mik om 2de Algeheel by 2014-Nasionale Tydrenkampioenskap te voeg

Noudat die 2014-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskapstitel reeds in die hande van die Castrol-Toyota-jaer Leeroy Poulter en sy navigator Elvéne Coetzee is, is die kollig vir die laaste ronde in vanjaar se kampioenskap op hul spanmaat Hergen Fekken – ’n voormalige dubbele tydrenkampioen – om as naaswenner van die seisoen uit die stryd te tree.

“Ons sien baie uit na die uitdaging wat die Bela-Bela Motor-tydren gaan bied,” sê die spanhoof, Glyn Hall. “Ons voel Hergen en sy navigator, Carolyn Swan, wie se naaste teenstanders net vyf punte voor hulle is terwyl daar nog 25 punte op die spel is vir ‘n oorwinning, het ’n realistiese kans om die tweede plek in die algehele kampioenskap in te neem.”

Fekken en Swan, wat in ’n Castrol-Toyota Yaris S2000 jaag, het nog nie vanjaar ’n tydren gewen nie, maar was al twee keer derde en een keer dié seisoen die naaswenners, wat hulle net 5 punte agter die Hollandse jaer Hans Weijs Jr, wat op die oomblik tweede op die punteleer is, plaas. Die reëls bepaal egter dat elke span die punte van een ren buite rekening moet laat, en vir Weijs-hulle beteken dit hulle sal 5,5 punte moet afskryf. Dit plaas hulle dus ’n aks agter Fekken-hulle, wat weens die feit dat hulle reeds vanjaar een tydren glad nie voltooi het nie, geen punte hoef te laat vaar nie.

“Daarbenewens is dit ’n splinternuwe byeenkoms op die tydrenkalender,” sê Fekken oor die laaste byeenkoms van die jaar, “en niemand weet regtig wat die sneltrajekte vir ons sal inhou nie. Ons is egter vol vertroue dat dit ’n regverdige stryd sal wees. Iets wat gewis nie betwyfel kan word nie, is dat ek en Hans mekaar goed gaan opkeil.”

Die Dakar-veteraan Giniel de Villiers, wat saam met sy navigator, Greg Godrich, in die Imperial Toyota Yaris S2000 jaag, is op die oomblik in die vyfde plek in die kampioenskap. Die tien punte wat hulle en die 2013-kampioen Mark Cronjé skei, beteken De Villiers is dalk net te ver agter om ’n aanval op die vierde plek algeheel te loods, hoewel dit steeds wiskundig binne sy bereik is – iets wat beteken hy sal gewis nie gras onder sy voete laat groei om sy posisie te probeer verbeter nie.

Toyota het reeds die algehele kampioenskap (Leeroy Poulter/Elvéne Coetzee) beklink en die Klas S2000-Uitdaging aan die hand van ’n puik seisoen deur die Namibiese jaer Wilro Dippenaar en sy navigator, Kes Naidoo, gewen. Hulle het die kampioenskap in die vorige ronde in hul PZN Panelbeaters-Toyota Auris afgerond, terwyl die jong Guy Botterill en sy navigator, Simon Vacy-Lyle, dieselfde in Klas S1600 in hul Yato-geborgde Toyota Etios R2 gedoen het.

Matthew Vacy-Lyle, wat in die Fragram Tools-Toyota Etios R2 jaag, is tweede in die 2014-tydrenkampioenskap vir Klas S1600, maar is net vier punte voor sy naaste teenstander, Brian Heine. Vacy-Lyle het dus ’n stewige vertoning nodig om as naaswenner te eindig, maar is ’n taai kalant in hierdie sportsoort wat altyd onvoorspelbaar is.

Die Bela-Bela Motor-tydren, die laaste ronde in die 2014-Suid-Afrikaanse Tydrenkampioenskap oor agt rondes, begin Vrydag 21 November by die Bela-winkelsentrum. Die tydren is baie kompak uitgelê en alles is binne maklike bereik van dié Limpopo-dorp wat voorheen as Warmbad bekend gestaan het. Bykans elke sneltrajek is binne 10 kilometer van die tydrenhoofkwartier by die Forever-oord en die Dunlop-dienspunt net oorkant die pad, en is op maklike toegang vir toeskouers gerig. Vier sneltrajekte word Vrydag beslis, gevolg deur nog ses wat Saterdag 22 November aangedurf sal word.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersyds voordelige borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, DeWalt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, 4×4 Mega World, FreeM, NGK, Robor, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa en Facebook by www.facebook.com/toyotasouthafrica

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol-Toyota Renspan mik om 2de Algeheel by 2014-Nasionale Tydrenkampioenskap te voeg