Toyota speel groot rol in reusevlag-projek

Die Kamdeboo-streek in die Karoo sal oor drie jaar die toneel van ’n unieke gesig (die eerste keer ter wêreld) wees – ’n reusagtige Suid-Afrikaanse vlag wat van die buitenste ruim af sigbaar sal wees. Toyota Suid-Afrika sal as amptelike voertuigvennoot die dryfkrag agter die Reusevlag-projek wees deur verskillende voertuie te skenk wat vir die aanloop tot en volhoubaarheid van die projek benodig word.

“Toyota is trots om ’n borg van hierdie projek te wees, wat saamval met die bekendstelling van ons Hilux Legend 45-reeks in die jaar dat ons 20 jaar se demokrasie in Suid-Afrika vier,” het Dr, Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika, gesê.

“Ons maatskappy is Trots Suid-Afrikaans en hierdie projek was ’n natuurlike aanvulling vir ons. Een van ons kernwaardes is om die omgewing te beskerm en as maatskappy te verseker dat ons impak op die omgewing so klein as moontlik is. Ons betrokkenheid is egter nie net om ’n omgewingsbewuste kultuur te kweek nie, maar ook om die plaaslike ontwikkeling wat hierdie projek sal bied, te ondersteun.”

Die Reusevlag sal ’n Suid-Afrikaanse vlag wees wat ’n oppervlak van 66 ha beslaan, en sal uit twee en ’n half miljoen gekleurde vetplante bestaan met ’n 4-megawatt-sonpaneelveld wat in die vlag geïnkorporeer is. Die omgewingsimpak van hierdie projek is nie al wat dit indrukwekkend maak nie – die voordele aan die plaaslike gemeenskap en ekonomie is van die allergrootste belang. Dit sluit in die skepping van meer as 700 werksgeleenthede vir die oprigting en om die vlag te plant, waarvan tot 60% vroue sal wees; die ontwikkeling en opleiding van plaaslike inwoners wat uit die aard van die saak ’n regstreekse invloed op die gemeenskap sal hê; en plaaslike toerisme wat uit ’n groot toerisme-aantrekking soos hierdie bevoordeel sal word.

Meer permanente voordele sal ook uit die projek spruit, soos indiensneming deur klein- en medium ondernemings (SME’s) wat as gevolg van die vlag-projek in die lewe geroep sal word.

Dit sluit in die ontwikkeling van konferensiegeriewe en ’n SME-gebied binne die vlagprojek onder die punt van die swart driehoek (die sonpaneelveld), waaronder groen geboue en ’n grootskaalse water-oes-ontwerp tussen die rye van die sonpaneelbanke, sowel as verskeie toerisme-aktiwiteite waaronder warmlugballon-vaarte en vlugte in mikroligte vliegtuie.

Die projek se hoofinkomste kom uit die verkoop van sonselle wat ’n skynwerklike digitale “voetspoor” van die projek sal voorstel. Elke sel sal $10 (tien Amerikaanse dollar) kos en sal deur die publiek gekoop kan word. Kopers sal die groei van hul sel deur Google se kaartdiens kan dophou.

“Die belangrikste aspek van hierdie projek is die lewensduur en die verreikende voordele wat dit die plaaslike gemeenskap bied. Toyota het ’n geleentheid om sy produkte en bates te gebruik om te help om ’n sukses van die projek te maak. Ons wil so veel as moontlik dele van ons onderneming inspan om sukses te waarborg,” het Dr. Van Zyl bygevoeg.

Toyota sal die vlag-span as voertuigborg van voertuie voorsien, waaronder die Hilux en Fortuner, wat vir die duur van die projek gebruik sal word. Die meeste van die voertuie sal in die konstruksiefase gebruik word om verskillende take te verrig, soos die vervoer van die vetplantjies en om personeel werk toe en terug te vervoer. Twee Prius-motors sal daarna as toervoertuie in en om die vlag gebruik word.

Ons glo die reusevlag sal die nasionale gees en trots wat deur die 2010-FIFA-Wêreldbeker en die viering van 20 jaar se demokrasie aangesteek is, weer laat opvlam. Ons hoop dit sal groot byval by ons werknemers, ons klante, Suid-Afrikaners in die algemeen, en die res van die wêreld vind. Ons wens almal wat daarby betrokke is, die grootste sukses toe,” het Dr. Van Zyl afgesluit.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota speel groot rol in reusevlag-projek