Grypdiewe hoef nie altyd aan die wenkant te wees nie!

‘n Gereelde besoeker aan die Arrive Alive webwerf het fotos gestuur van ‘n onlangse “gryp-en-steel” [smash-and-grab] wat lelik verkeerd geloop het vir die misdadigers. Die hele doel van hierdie aksie is om vinnig besittings te neem en dan weg te hardloop! In hierdie geval is die grypdief egter vasgevang en ‘n bietjie saamgeneem vir iets wat nie as ‘n genotsrit beskou kan word nie!

Ons deel graag hierdie storie soos dit gepubliseer is deur Media 24:

” Jy gaan nié my goed vat nie,” het die hoof van ’n opleidingskollege aan ’n rower by ’n verkeerslig gesê voordat hy die boef se arm vasgegryp en weggetrek het. Hy het die man bykans 450 meter ver langs sy motor gesleep.

“Hy het heelpad soos ’n maer vark geskree,” vertel Hennie Fick, hoof van die Hartland-kollege in die Pretoriase middestad.  “Die verkeerslig het groen geword en ek het sy arm vasgegryp en gery. Hy het letterlik op sy skoensole langs die kar geski.”

Die voorval is deur die Tshwane-metropolisiediens se kringtelevisiekameras opgeneem en drie mans is ’n halfuur ná die voorval in hegtenis geneem.

Fick het Donderdag net voor 17:00 in sy motor geklim en via Nelson Mandela-rylaan huis toe gery. Hy het by die kruising met Proesstraat stilgehou.

“Dit was soos enige gewone Donderdagmiddag. ’n Mens wil vars lug hê en ek het met my venster oop gery. “Daar was ’n paar motors en ’n vragmotor voor my by die verkeerslig. Net toe ek stilhou, kom twee mans van agter af en buk by die oop venster.” ’n Derde man het ’n ent verder op sy makkers gewag. Een van die mans het sy hand by die motor ingedruk en die sleutel probeer gryp. Hulle het begin vloek en vir Fick geskree hy moet uit die motor klim.

“Ek het sy hand probeer wegslaan. Hy het met die ander hand ’n mes uitgehaal, my net bokant die elmboog in die linkerarm gesteek en toe weer probeer om my sleutels te gryp. “Ek het sy hand vasgegryp en weggetrek. Sy makker is in die proses weggestamp. Ek het anderkant Proesstraat laat los en hy het agteroor geval.”

Fick het mediese hulp gaan soek. Die Tshwane-metropolisiediens het hom ’n halfuur later gebel en in kennis gestel dat drie mans reeds aangekeer is. “Hulle het my selfoonnommer deur my nommerplaat nagespeur. Ek is werklik beïndruk! “Die polisie het my ’n oomblik gegee om met die rowers te praat. Een het homself natgemaak en ’n ander het op sy knieë neergeval en my om vergifnis gesmeek.

“Ek het regtig closure gekry en hoop dit spoor ander mense aan om ’n saak te maak en deur te voer as dit hulle oorkom. Ons moet terugbaklei.”

Die metropolisie het die voorval bevestig. Die mans word in die Pretoria-Sentraal-polisiekantoor aangehou en sal binnekort in die hof verskyn.”

Besoek die Arrive Alive webwerf vir wenke om te beskerm teen hierdie grypdiewe:

Road Safety and Preventing Smash and Grab 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Grypdiewe hoef nie altyd aan die wenkant te wees nie!