Padgebruiker pleit vir aktiewe wetstoepassing op pad tussen Pretoria en Krugersdorp

Ons deel hiermee graag die e-pos ontvang van ‘n besoeker aan die Arrive Alive webwerf:

“Ek pendel vanaf die 1ste Augustus op ‘n daaglikse basis tussen Pretoria en Krugersdorp. Soggens tussen 5h00 en 6h00 en smiddae tussen 14h00 en 18h00, afhangende van hoe laat ek by die werk wegkom. Ek word op ‘n daaglikse basis deur aggressiewe padbuffels, wat die spoedgrens ver oorskrei, getreiter.

Ek handhaaf my spoed met behulp van die spoedbeheerder op 124km/h omdat dit vir my kar se brandstofverbuik die effektiefste is. Dit was nog pikdonker tot ‘n week of twee gelede, daarom moet ek al my aandag op die pad hou om seker te maak dat ek nie ‘n voetganger raakry nie. Soos julle seker weet, stap die inwoners van Diepsloot tussen die motors wat teen 120km/h ry deur. Ek vrees die dag wat ek een van hulle sou raak ry en wil nie eens daaraan dink dat ek vir die dood van so ‘n persoon verantwoordelik sou wees nie. Beide motors en trokke wag tot mens by hulle is as jy in die regterkantste baan ry om verby te gaan. Dan ry hulle reg voor jou in, teen ‘n slakkepas, en sonder om enige flikkerligte te gebruik – met die gevolg dat ek dikwels gevaarlik moet rem om ‘n ongeluk te vermy.

Die probleem kan ek hanteer. Ek het oë in my kop, en ek kan soort van vooruitskat dat die ou wat so op die lyn ry, besig is om my baan oor te vat sonder om sy plan aan te dui. Dus kan ek stadiger ry, en selfs gevaarlik rem as dit nodig is.

Die probleem is dat bestuurders, wat ver bo die spoedgrens jaag, my – wat reeds bokant die spoedgrens ry, van agter injaag en uiters gevaarlik bestuur. Hulle jaag op ons af, gooi hulle ligte en verwag van ons om te rem om agter ‘n kar in die stadige baan in te skuif sodat hy of sy verby kan gaan. Indien mens dit nie doen nie, jaag hy of sy so naby aan jou dat ek nie eens sy kar se ligte kan sien nie. In die daglig kon die bestuurder net sowel my passassier gewees het. Die persone kan sien dat mens besig is onm verby te steek, maar hulle sal nie hulle volgafstand aanpas nie en dan haal hulle hul woede uit op die bestuurder wat net soos hulle ook op pad werk toe is en wat geen rede bied om aggressief te word nie. Ek ry nie onder die spoedgrens nie, daarom is ek seker dat ek ryvoorrang het as ek eerste in die regterkantste baan was om verby te gaan. Ek het nog nooit voor so ‘n padvark ingery dat dit die persoon se aggressie kon aanwakker nie, dus het ek regtig nou hulp nodig om daagliks lewendig by my werk uit te kom.

Laat ek ‘n paar voorbeelde noem van wat die afgelope maand nie net met my nie, maar ook met die ander padgebruikers gebeur het:

  • Vandag (22 September om 15h15-20): Ek was deel van ‘n string karre wat in die regterkantste baan gery het om by ‘n vragmotor verby te gaan en ek was amper langs die regteragterkant van die trok toe ‘n silwer Volkswagen CC met die nommer CT 93 Jl GP in die linkerkantste baan verby al die karre agter my jaag en reg voor my insny. Ek moes gevaarlik rem om ‘n ongeluk met hom te vermy, sonder om eers te kyk hoe ver die kar agter my was. Indien hy of sy te naby aan my gery het, het ons almal in ‘n lelike kettingbotsing beland en dalk gesterf. Dit het die man nie gekeer nie, hy het soos ‘n maniak verder gejaag en dit verskeie kere gedoen voordat hy oor die horison verdwyn het. Ek het maar liewers nie reageer nie, want
  • Dieselfde het verlde week gebeur, maar dit was ‘n Mercedes. Ek het vir die man ligte gegooi om hom te sê dat hy onverantwoordelik is, en toe stop hy byna doodstil reg voor my in die regterkantste baan. Ek het egter reeds stadiger gery toe hy so naby aan my verbygegaan het. Sy soort wys duidelik dat hulle die kar voor hulle van die pad gaan vee. Ek het al stadiger en stadiger gery en hy moes maar besluit of hy sy tyd gaan mors om vir my te wag. Die punt is dat ek ‘n hele kan pepersprei by my het, en dat ek nie sal skroom om dit te gebruik as hy my sou wou aanval soos daardie malle op die Youtube video nie. Ek weet egter nie of so ‘n mens gewapen is nie, ek weet nie of sy vrou hom gelos het en of hy of sy sy of haar werk verloor het en of net wag om sy of haar woede op iemand uit te haal nie. Dus kyk ek nie in sy of haar rigting as hulle om my verbyjaag en amper in die motor in die stadiger baan vasjaag nie.
  • Ek kan ook nie weer waag om agter ‘n stadiger kar in te skuif dat padvark kan verbykom nie – want dan moet ek spoed verminder om dit reg te kry sonder om in die ou vas te ry. Ek het dit nou die dag gedoen, toe jaag die mal man in sy groot wit bakkie op my af om my in die linkerkanste baan van die pad af te probeer druk. Hy het sy spoed en die spoed van die kar voor my onderskat en moes terugswenk – en so het hy amper beheer oor sy motor verloor en stert tussen die bene weggejaag. Ek en die bestuurder voor my was egter in ‘n toestand. Ek sal sowaar in so ‘n geval by die man stop, vir hom vertel Ÿou are the weakest link” en verder ry sonder om enige hulp aan te bied. Vir my sal dit beslis beteken dat daar een jaende, swetsende gevaar minder op die pad is.
  • Sommige van die bestuurders sny so kort voor jou in dat ek vrees dat ek nog ‘n ongeluk gaan maak. Ek is altyd verstom as mense vra hoe iemand op ‘n reguit pad ‘n ongeluk kon gemaak het. Die antwoord is eenvoudig na my mening – ‘n padvark het teen ‘n verblindende spoed aangejaag gekom, die ou voor hom (wat binne die padreëls bly) is van die pad gejaag of die malle het beheer oor sy kar verloor.

 

Dit is ook nie moeilik om padvarke se motors te herken nie :

  • dit is plat Mercedeses,
  • spesifiek groot wit bakkies, meestal met kappies op
  • swart, plat motors (ek ken nie die maak nie)
  • Audies,
  • BMW’s en
  • SUVs – veral Kia
  • klein, baie ou Golfies wat die afgelope maand soos vuurpyle verby my gejaag het.
  • en gewone karre wat blou ligte aan het wat iewers oor die gril van die kar mal gaan

Ek het gedink mens moet advertensies begin maak wat met sulke mense spot. Een so een sou wees:

Dink voor jy doen:

  1. Man ry in sy motor in die regterkantste baan, besig om verby te gaan (sien sy spoed is 122km/h)
  2. Skeilik is malle met flitsende ligte op sy gat, maar hy kan nêrens heen pad gee nie
  3. Malle gooi ligte en die een in die voorste motor word intensief bewus van die teenwoordigheid van die persoon, wat minute gelede nie daar was nie en hy besef – die ou jaag baie ver bo die spoedgrens, want dit is onmoonllik om hom in te haal as mens binne die spoedgrens bly
  4. Malle kom ry styf teen hom verby en hy sien uit die hoek van sy oog die profiel (byna altyd ‘n haarlose man – of bles as hy oud is, of baie kort geskeerde as hy jonger is)
  5. Malle het nou die volle aandag van die bestuurder
  6. Malle sny skerp in en sy nommerplaat is daglig duidelik leesbaar vir die bestuurder + meer detail soos maak van kar, kleur van kar, hoeveel mense in die motor is
  7. Malle rem (en bestuurder het tyd om die nommer en detail te memoriseer
  8. Malle doen presies net so met die bestuurder voor hierdie ene – ‘n tydbom wat gekeer moet word
  9. Bestuurder stop, sms die detail na julle en julle beheersentrum stuur verkeersbeamptes of polisiemanne in die omgewing om malle voor te keer
  10. Julle kyk na sy kar se beheerstelsel – en alle detail is daar want malles hou mos van karre met die toebehore – afstand gery, gemiddelde speod oor die afstand. Ek ry nou ‘n CC, en sy gee net die gemiddelde afstand van die betrokke rit. My BMW het die gemiddelde afstand oor tyd ook aabgedui.
  11. Julle het meer as een klagte oor malle gekry en sluit hom toe om oor sy sondes te dink – die bewyse is mos daar,
  12. Julle maak seker dat sy lisensie nie hernu word voordat hy of sy vir bestuursklasse by een van die duurste en beste bestuurskole gegaan het nie
  13. Indien daar weer klagtes is, word die lisensie summier teruggetrek.
  14. en dan eindig dit met iets soos – jy is verkeerd, dis maar lekker dom om jou teenwoordigheid en die verkeerdheid van jou dade so deeglik onder die aandag van mede-padverbruikers te bring.
  15. En eindig met selfde scenario – maar die jaende man sit nie die andag op hom nie.
  16. En die bestuurder van die ander kar het geen rede om die man te verkla nie – hy of sy kan in elk geval ook nie die nommerplaat lees of die detail van die motor sien om hom of haar te verkla nie.

 

Ons word elke dag in lewensgevaar geplaas as gevolg van die N14 wat NOOIT spoedlokvalle het of sigbaar gepolisieer word nie – tussen Krugersdorp (Cradlestone Mall) en die N14 afdraai by Centurion.

Die res van die N14 tot in Pretoria word daagliks met ‘n spoedkamera beman en almal ry stadig. Soms kom ene aangejaag, maar hulle lus word vinnig geblus as die kamera te laat gesien word. Daarom wil ek regtig smeek dat die N14 tussen 05h00 en 09h00 soggens en tussen 14h30 en 18h00 saans beman word. Ek het net een keer gery om eers nede-uur in Pta te wees en sal dit beslis nie weer doen nie. Die jaende padvarke kom by die afrit by die nuwe winkelsentrum naby Pta in die geelstrepe verbygejaag, druk voor in en jaag net verder.

Dit is tyd dat sulke mense leer om hulle tyd beter te bestuur dan hoef hulle nie te jaag om tyd in te haal nie. Dit gaan nie net hul eie lewns nie, maar ook die van hulle mede-padgebruikers spaar.

Diepsloot is lewensgevaarlik. Die inwoners kruis die pad die hele tyd omdat motors vir hulle stop om hulle op te laai. Ek dink ‘n muur sal die gevaar om ‘n mens dood te ry, aansienlik verlaag. Alhoewel motors nie op ‘n deurpad mag stop nie, steur nie een van die motors wat stop hulle daaraan nie.

Ek vra dan ook vir ‘n eenvoudiger manier om padvarke te verkla – die nommer van die motor moet beslis gegee word of ‘n deeglike beskrywing van die kleur en soort motor. Maar dit is regtig nodig dat mense kan kla sonder om hulle eie detail weer te gee, Vir al wat ek weet, kla ek by die padvark oor sy gedrag op die pad. En so het hy al m details om my aan te rand. Sy aggressiewe houding het reeds gewys dat hy ‘n man is wat nie sal skroom om mens te vermorsel nie. Tog is hulel gedrag van so aard dat hulle van die pad verwyder moet word om te leer om te bestuur.

Hierdie blad van arrive alive kan ‘n plek bied waar sulke gevalle aangemeld kan word sodat ‘n databasis van padvarke saamgestel kan word. As tien of meer mense weekliks oor een bestuurder kla, is hy of sy beslis ‘n gevaar op die pad. Ek dink dit is tyd dat ons en die verkeerspolisie hande vat om die gevaar van die pad af te haal. En onthou asb een ding – ek moet darem baie ontsteld wees oor wat gebeur het voor ek die moeite sal doen om die saak aan te meld. Om die waarheid te sê, ek is bereid om sulke bestuurders by die polisie aan te meld. Ek dink egter dat dit hulle taak sal vesrwaar, omdat hulle mense in nood moet help. Arive alive kan egter beslis iets aan die saak doen.

Ek is heeltemal bereid om saam te werk om ‘n opvoedkundige strategie uit te werk – ‘n kompetisie of iets wat kinders leer hoe om reg te bestuur – en hulle daarvoor vergoed.

Meriete van die saak – nou weet mense nie wie bereid is om hulle geld en tyd te gebruik om hulle te verkla nie – elkeen op die pad is ‘n potensiële persoon wat swak gedrag sal aangee. Om die waarheid te sê, ek het ook al gevaarlike gedrag op video opgeneem terwyl my man of kind bestuur. Die videos kan as bewysstukke ingedien word – en die finale spyker in die kop van die jaende padvark se swak gedrag kap.

Ek wonder of julle daarvan bewus is dat die vrou in die kar geen beheer oor die man het nie. Sy kan huil, baklei, vloek, raas, smeek en selfs weier om saam met hom te ry. Dit het geen impak op hom nie en sy vrou en kinders en ander mense wat saam met hom ry se lewens is in gevaar – dit kan ook ‘n goeie advertensie maak. Die biddende smekende vrou en kinders, die mal man en ‘n ongeluk waarin hulle almal omkom – behalwe hy. Want dit is die feite – hulle het nie beheer oor hom nie.

Persoonlik dink ek sigbare polisëring is die vinnigste oplossing, maar nie langdurend nie. Begin net asseblief al vyfuur soggens. In Australië kla mense mense aan wat nie by die reëls bly nie – en hulle is in die moeilikheid. Hier hou almal hulle blind en ons paaie se sterftesyfers is skrikwekkend hoog.

Begin net asseblief reeds vyfuur in die oggend. Selfs al word daar net ‘n kemara opgesit wat flash as ‘n jaagduiwel verbygaan. So ‘n flash in die donker sal beslis die gewenste uitwerking hê. 😉

Dankie dat u luister, die juffrou in my glo dat mense kan verander -as hulle weet dat hulle mede-padgebruikers nie sal skroom om hulle te verkla nie.”

Mooi aand

Christa

Besoek ook:

Reporting of Bad Driving

Posted on by jonckie

Comments Off on Padgebruiker pleit vir aktiewe wetstoepassing op pad tussen Pretoria en Krugersdorp