Waarom word roekelose bestuurders nie dadelik toegesluit nie?

Die afgelope week is daar heelwat fotos op die internet geplaas van roekelose bestuurders wat deur ander afgeneem is terwyl hul allerlei verkeersoortredings began. Die belangrikste hiervan is die roekelose en onwettige verbygaan van ander voertuie.

Die Arrive Alive Twitter skakel @_ArriveAlive het verskeie hiervan ook gedeel om verdere bewusmaking te skep. Dit het egter ook die vraag laat ontstaan  – wat word gedoen aan hierdie bestuurders en waarom word hul nie vervolg nie?

Dit is baie belangrik dat ons moet verstaan hoe moeilik dit is om iemand skuldig te bevind aan ‘n kriminele oortreding en daarvoor aanspreeklik te hou!

In ons reg is daar die beginsel dat iemand onskuldig beskou word totdat hy skuldig bevind word. Die staat moet daardie skuld bewys bo alle redelike twyfel! In die Bewysreg verwys ons dikwels na “Liewer ‘n duisend skuldiges onskuldig as een onskuldige wat skuldig bevind word”.

Fotos wat geneem word deur ander padgebruikers help met hierdie bewyslas en is baie beter as wat iemand maar net ‘n aantuiging maak rakende skuld.

Dit moet egter in ag geneem word dat so ‘n foto nie maar net goedsmoeds aangebied kan word nie. Daardie persoon wat die foto neem sal bereid moet wees om getuienis oor daardie foto te lewer.

Met die tegnologie en die vaardighede om fotos te “Photoshop” of aan te pas sal dit uiters gevaarlik wees om maar net te aanvaar in ‘n hof dat daardie foto eg is. Die persoon wat daardie foto neem sal moet kan bevestig dat hy die foto geneem het. Hy moet kan getuig wanneer en waar dit geneem is ens.

Dit is ook heel waarskynlik dat baie van hierdie fotos geneem is met ‘n selfoon deur die bestuurder – wat strydig is met die padwetgewing – en meebring dat die persoon wat daardie foto neem dus self ook ‘n oortreding begaan. Hy mag dus nie gewillig wees om daaroor getuienis te lewer nie. Vir baie is dit bloot ‘n te groot beslommernis om tyd af te staan vir so iets of hul is huiwerig om dalk geviktimiseer te word daarna!

Foto verskaf deur Nico Odendal

Maar is hierdie fotos  dan waardeloos? Glad nie!

Waar daardie bestuurder ‘n voertuig van ‘n maatskappy bestuur is dit baie waardevol om onder daardie maatskappy se aandag te bring! Die maatskappye het waardering daarvoor indien so iets onder hul aandag gebring word aangesien dit hul kan help om skade aan hul voertuie te voorkom en aangesien sulke bewyse kan help om hul bestuurders verantwoordelik te hou.

Dit is ‘n uiters belangrike hulpmiddel in vlootbestuur en opleiding van bestuurders. Tydens interne verhore rakende arbeidsaangeleenthede is hierdie fotos ook uiters waardevol.

In die onlangse fotos van die Engen vragmotor het die maatskappy dan ook dadelik gereageer deur aan te toon dat teen die bestuurder opgetree word!

Dit help ook om ander bestuurders op hul tone te hou met die besef dat dit nie net verkeersbeamptes is wat ‘n oog op hul het nie maar ook ander padgebruikers!

Hierdie fotos word ook gestuur aan die Padbestuurskorporasie waarna ‘n skrywe aan die eienaar van die voertuig gestuur word met die vermaning dat hierdie besonderhede op rekord geplaas word.

Ons wil die publiek aanmoedig om hierdie fotos te stuur aan die Arrive Alive webwerf deur dit per e-pos te stuur na info@arrivealive.co.za

Wees egter bedag daarop dat dit onwettig is om dit te neem as jy bestuur. Versoek dus ‘n passasier om dit af te neem of gebruik ‘n kamera wat gemonteer is op die windskerm [ Dashcam].

Besoek ook:

Dashboard Camera and Road Safety

Posted on by jonckie

Comments Off on Waarom word roekelose bestuurders nie dadelik toegesluit nie?