Nuwe bekostigbare Toyota Corolla Quest skep splinternuwe voertuig-segment

Toyota Suid-Afrika Motors het kort op die hakke van die nuwe 11e generasie Corolla die bekendstelling van die Corolla Quest, ’n fieterjasievrye, sinvolle, ruim en – les bes – bekostigbare gesinsmotor, aangekondig. Dié nuweling is oorgehaal om die motorweergawe van die jakkals in die hoenderhok los te laat deur ’n splinternuwe sub-C-segment te skep. (Die nuwe Corolla Quest was vanaf 5 Mei 2014 in Toyota se vertoonlokale beskikbaar.)

Soos Glenn Crompton, Vise-President van Verkope en Bemarking, dit stel: “Wanneer ’n nuwe model sy buiging maak, beland die vorige model gewoonlik in die museum. Dit was nié die geval met die vorige Corolla nie. Dié model, wat sy buiging in 2007 gemaak het, was die suksesvolste Corolla nog en het gehelp dat die Corolla-ikoon as topverkoper en die wêreld se mees geliefde motor gekroon is – altesaam 40,72 miljoen saamgestelde verkope is aan die einde van Februarie vir die Corolla aangeteken.

“Die 10e generasie word nie heeltemal uitfaseer nie, maar eerder as die volmaakte waarde-proposisie herposisioneer. Dit is natuurlik nie die eerste keer dat Toyota dit doen nie – die ongelooflik suksesvolle Tazz, wat as ’n model met ’n lang lewensiklus vervaardig is, was ’n begrotings-blitsbuks wat op die vyfdeur-luikrug van die vyfde geslag Corolla gegrond was. Dié motor het Suid-Afrikaners vir minstens ’n dekade lank puik waarde gebied tot lank nadat die model waarop hy sy sukses gebou het, in die res van die wêreld gestaak is.

“Nou is dit die Corolla Quest se beurt. Die nuweling word egter onderskei dat dit die enigste sub-C-segment-mededinger is, en met sy prys wat by net R174 900 begin, is hy ’n gewisse wen-kandidaat. Kopers wat daarop uit is om hul voertuie op te gradeer, maar nie in ’n posisie is om die finansiële sprong van die B- na die C-segment te waag nie, het nou uiteindelik ’n nuwe keuse.”

Hoeveel modelle in die Corolla Quest-reeks?

Die reeks is in die belang van eenvoud en bekostigbaarheid tot drie modelle met twee toerustingpakette beperk: die gewone weergawe, wat met ’n handrat- of outomatiese transmissie beskikbaar is, en die Quest Plus, wat net as handrat aangeskaf kan word.

Is die Quest met só bekostigbare prys nie net ’n kaalgestroopte Corolla nie?

Inteendeel – al die motors in die reeks het ’n immobiliseerder en alarm, afstand beheerde sentrale sluiting, dubbele lugsakke voor, Isofix-kindersitplekmonterings, lugversorging en reik/hoogteverstelling vir die stuurwiel.

Die grootste verskil tussen die twee pakette is die wiele – allooisierwiele vir die Plus-weergawe teenoor staalwiele, rompgekleurde deurhandvatsels vir die Plus-model, en ’n klankstelsel vir die Plus, wat ’n radio/CD-speler sowel as ’n USB- en hulp-sok insluit. (Die gewone model het toevallig wel dieselfde bedradingsharnas vir ’n klanktoestel en luidsprekers.)

Iets wat merkwaardig is, is die feit dat Toyota SA die koste kon beperk en die Corolla Quest teen ’n laer prys beskikbaar kon stel danksy vier belangrike faktore: i) die belegging in die 10e generasie van die Corolla is reeds gedek; ii) skaalbesparings, naamlik hoe meer gebou en verkoop word, hoe laer die koste; iii) ooreenstemmende algemene komponente vir die Corolla Quest en die nuwe Corolla, soos enjins en voorsitplekke, om maar net twee te noem; en iv) intelligente gebruik van standaard-toerusting.

Wat laasgenoemde betref, het die klein veranderings aan die buitekant en binneruim geensins gehalte, duursaamheid of betroubaarheid prysgegee nie, en Toyota het daarin geslaag om sy estetiese en geriefskenmerke wat steeds belangrik vir kopers is, te behou.

Een voorbeeld is die verandering na ’n dowwe, swart afwerking vir die sierrooster en nommerplaathulsels, en die rigtingwysers wat van die deurspieëls na die voorste modderskerms verskuif is.

Wat die binneruim betref, kom die matte en plafonbedekking van IMV-modelle (wat ook in die Prospecton-aanleg gebou word), wat koste dus verlaag. Soos reeds genoem, deel die nuwe Corolla Quest sy sitplekke met die nuwe Corolla, wat tot ’n groot besparing lei. Van sitplekke gepraat – die agtersitplek is aansienlik vereenvoudig, en behels nou ’n eenvormige pleks van ’n verdeelde rugleuning. Ander hersienings wat ’n uitwerking op die prys het, is die oorhoofse konsole, kaartleesliggie en sonskermliggie wat wegval. Laastens is die doekstofbeslag van die deurpanele voor en agter met gevormde viniel vervang. Die feit dat al hierdie ingenieursontwikkelings plaaslik gedoen is, het ook ’n gunstige uitwerking op die verbruiker se sak.

Wat onderskei die Corolla Quest op kosmetiese gebied van die 10e generasie Corolla?

Die nuwe Corolla Quest is geheel en al op datum met ’n aantal verfynings aan sy buitekant, wat nie net vir ’n vars benadering tot die klassieke Corolla sorg nie, maar ook vernuwende maniere bied om koste in bedwang te hou:

  • Nuwe ontwerp vir die kopligte
  • Herontwerpte stertligsamestelle
  • Rigtingwysers aan die kante is van die deurspieëls na die modderskerms verskuif
  • Die sierrooster se grys kleur is nou swart en die nommerplaathulsels verander van rompkleur na swart.

Watter enjin dryf die nuwe Corolla Quest aan?

Eenvoud en rasionalisering is die kern om koste te beperk, dus sal die Corolla Quest met net een enjin-keuse beskikbaar wees. Die enigste kragbron is die aluminium inlyn-viersilinder van 1,6 liter, wat toevallig ook in die nuwe 11e generasie Corolla ingespan word.

Die mees uitstaande kenmerk van die 1,6ℓ-enjin is sy dubbele VVT-I-stelsel. Dié stelsel, wat deur die enjin se elektroniese beheereenheid beheer word, verander die kleptydreëling van die in- en uitlaat-nokasse om klepoorbrugging teen verskillende enjinladingsvereistes te verbeter. Dié enjin se maksimum-kraglewering word as 90 kW teen 6 000 r/min aangegee, terwyl sy maksiumum-wringkrag op 154 Nm teen 5 200 r/min vasgestel is, hoewel baie daarvan van ’n baie lae enjinspoed af beskikbaar is. Kopers sal tussen ’n sesgang-handrat of outomatiese viergang kan kies.

Versnellingsyfers* kom op 10,4 sekondes vir die gewone 0-100km/h-naellopie te staan, met die topspoed ’n stewige 192km/h. Verbruik- en uitlaatgas-syfers sal later beskikbaar wees.

*Corolla Quest met handratwisseling.

Wat skuil alles onder die nuwe Corolla Quest se dop?

Die beproefde kombinasie van MacPherson-stuttipe voorvering met kronkelvere en ’n kompakte rolstaaf-uitleg agter sorg vir vasvoetige ritgehalte en lewer ’n groot bydrae tot die Corolla Quest se honger bagasieruim.

Aktiewe veiligheidstoerusting het gewis nie in die slag gebly nie – die nuweling het skyfremme in elke hoek (lugverkoelde skywe voor en soliedes agter) wat deur ’n sluitwerende remstelsel (ABS) met elektroniese remkragverdeling en noodremhulp aangevul word.

Wat sal dit kos om ’n nuwe Corolla Quest aan te skaf en in stand te hou?

 

1.6 Quest                    :           R174 900 (BTW ingesluit)

1.6 Quest outo            :           R198 900

1.6 Quest Plus            :           R197 900

Die gehalte, betroubaarheid en duursaamheid van die nuwe Corolla Quest word bekragtig deur sy waarborg van drie jaar/100 000 km, diensplan van drie jaar/45 000 km, en natuurlik die steun van TSAM se omvattende handelaarsnetwerk (192 agentskappe regdeur die land).

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuwe bekostigbare Toyota Corolla Quest skep splinternuwe voertuig-segment