Toyota onthul topspanne vir nasionale tydrenne en veldrenne kampioenskap

Toyota Suid-Afrika Motors het ’n gedugte talentvolle en ervare span vir sy deelname aan die nasionale 2014-kampioenskappe vir tyd- en veldrenne saamgestel. Toyota Motorsport Suid-Afrika het die 2013-veldtydren-jaers-, navigators- en vervaardigerskampioenskappe sowel as die 2013-tydren-vervaardigerskampioenskap gewen.

Die span sal met die steun van dieselfde borg as die afgelope 30 jaar – saam met wie Toyota tien nasionale tydren-kampioenskappe en tien nasionale veldtydren-kampioenskappe gewen het – as die Castrol Toyota-span bekend staan en met ’n nuwe aanspraakmaker in veldtydrenne en ’n kombinasie van gevestigde en nuwe jaers/navigators in al twee renformules deelneem.

Die verdedigende veldtydrenkampioene Anthony Taylor en Dennis Murphy sal in Toyota se Dakar-toegeruste Hilux met onafhanklike agtervering aan die openingsronde van die veldtydrenkampioenskap deelneem om hul tweede en Toyota se 17e veldtydrenkampioenskap te probeer wen.

Dit is dieselfde voertuig waarmee Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz vanjaar in Januarie aan die Dakar-ren in Suid-Amerika deelgeneem en ’n merkwaardige vierde plek algeheel en eerste in die afdeling vir petrolaangedrewe 4×4-klas  aangeteken het. Toyota is daarop uit om sy agtste vervaardigerskampioenskap – sy sewende agtereenvolgens – te wen.

Die kampioene sal gesteun word deur ’n nuwe veldtydren-kombinasie tussen Leeroy Poulter en Rob Howie in die tweede Dakar-toegeruste Hilux waarin hulle ’n kredietwaardige 33e algeheel in Poulter se heel eerste poging in die wêreld se langste en moeilikste motorren uit die stryd getree het. Hulle was een van net 61 van die oorspronklike 154 motors wat die 14-daagse marathonren oor 9 500 kilometer deur Argentinië en Chile voltooi het.

Die Castrol-Toyota-tydrenspan sien ook anders daarna uit. Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee jaag weer in die vooraanstaande S2000-afdeling in ’n Castrol-Toyota Yaris, terwyl die tweemalige nasionale oudkampioen Hergen Fekken sy Toyota-buiging in die tweede Castrol-Yaris maak. Carolyn Swan, wat die roetenotas in 2013 vir die uitgetrede Johnny Gemmell gelees het (hulle was tweede in die kampioenskap), is steeds deel van die span. Toyota is daarop uit om sy 12e jaers-/navigators- en 22e vervaardigerskampioenskap te wen.

Toyota Motorsport sal weer ’n derde Yaris, dié keer in die kleure van Imperial, vir Giniel de Villiers en Greg Godrich voorberei. Hulle was in 2013 in hul heel eerste seisoen saam vierde algeheel en derde in die S2000-afdeling.

Sekere private Toyota-jaers sal in die nasionale veldtydren- en tydren-kampioenskappe met steun van Toyota Motorsport deelneem. In veldtydrenkringe sluit dit in Thomas Rundle (Godrich-Toyota Hilux), wat in sy eerste probeerslag ’n skitterende 25e in die Dakar-veldtydren geëindig het, Jason Venter (4×4 Megaworld-Toyota Hilux) en Johan Horn (Malelane Toyota-Hilux). Al drie sal in die topklas, Klas T vir voertuie met enjins groter as vier liter, deelneem. Al drie dié voertuie is gewese Toyota Motorsport-Hilux V8’s. Rundle se voertuig is die Hilux met onafhanklike vering waarmee De Villiers en Von Zitzewitz as naaswenners in die 2013-Dakar-veldtydren geëindig het, terwyl Venter en Horn, verlede jaar onderskeidelik eerste en tweede in die Klas D-kampioenskap (vir sessilin der-Groep N-produksievoerttuie) was, die voertuie waarmee Toyota Motorsport verlede jaar aan die nasionale kampioenskap deelgeneem het, oorgeneem het.

“Ons het ’n paar opwindende veranderings vir die nuwe seisoen,” het Glyn Hall, die spanhoof van Toyota Motorsport, gesê. “Leeroy sluit hom ná sy indrukwekkende buiging in die Dakar by die plaaslike veldtydrenkampioenskap aan. Hergen is ’n dubbele nasionale kampioen en ’n baie welkome en waardevolle toevoeging tot die tydrenspan. Ek glo ons het ’n gedugte span in al twee renformules en die hele span sien met groot entoesiasme en opgewondheid na die nuwe seisoen uit.

“Private jaers is die ruggraat van motorsport en Toyota sal voortgaan om private spanne in veldtydrenne en tydrenne te steun. Dié in tydrenne sluit in die Namibiese jaers Wilro Dippenaar en Kes Naidoo in hul PZN Panelbeaters Toyota-Auris in die S2000-Uitdaging, sowel as drie Toyota Etios R2-motors in die S1600-afdeling.

“Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle sal hul Yato Tools-Etios R2 deel, Chris Coertse en Mari van der Walt jaag in hul Electrothread Etios, en Matthew Vacy-Lyle en Schalk van Heerden sal in hul Fragram Tools-weergawe jaag.

“Dit is belangrik dat ons die deelname van private jaers in ons motors erken en ons is veral gretig om jong en opkomende tydrenjaers in die S1600-afdeling vir tweewielaangedrewe motors te help om die ervaring en vernuf op te doen om later na die senior afdeling vir vierwielaangedrewe motors op te skuif,” het Hall gesê.

Die openingsronde van die Donaldson-veldtydrenkampioenskap is die RFS 450, wat die naweek van 28 Februarie en 1 Mart in die Harrismith-omgewing in die Vrystaat beslis word.

Die tydrenkampioenskap begin op 14 en 15 Maart met die tradisionele openingsren in KwaZulu-Natal.

Toyota het ’n wedersyds voordelige borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, DeWalt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, 4×4 Mage World, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan op Twitter, www.twitter.com/toyotasa.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota onthul topspanne vir nasionale tydrenne en veldrenne kampioenskap