Toyota Imperial Suid Afrika renspan reg vir 2014 Dakar -Veldtydren in Suid-Amerika

Die lang wag vir die 36e Dakar-veldtydren is amper verby en die Toyota-Imperial-Suid-Afrika-renspan is met nog twee dae voor Sondag se begin in Rosario, Argentinië, slaggereed vir die wegspring.

Dit was ’n paar baie warm en dolle dae sedert die span op 29 Desember van die OR Tambo-lughawe in Johannesburg af na Buenos Aires (BA) in Argentinië gevlieg het. Die twee Toyota-Imperial-Hilux 4×4’s is ná hul vlug met SAA Cargo oor die Stille Oseaan in hittegolftoestande warmer as 40 grade Celcius in ’n werkswinkel by Toyota Argentinië se aanleg in Zarate, sowat 100 kilometer van BA, aanmekaar gesit. Die nege ton onderdele en toerusting is afgelaai en in die span se ondersteuningsvragmotors herverpak, en al twee die bakkies het ’n suksesvolle dag se toetse in Zarate agter die rug.

“Ons is reg vir die wegspring,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Die ouens was ongelooflik besig vandat hulle hier aangekom het, en alles het volgens plan verloop. Die toetswerk het goed verloop en al twee ons renjaers is tevrede en reg vir Sondag se openingsneltrajek.

“Ons moet Saterdag nog net die voorondersoek en papierwerk laat afhandel, en dan is die lang aanloop tot die ren verby. Ons is goed voorberei en voel baie positief oor die uitdaging wat op ons wag,” het Hall gesê.

Die 2009-Dakar-veldtydren-wenners Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz begin Sondag se openingsneltrajek in hul nommer 302-Hilux in die derde plek agter die voormalige wenners Stéphane Peterhansel/Jean Paul Cottret van Frankryk in hul MINI, en Nasser Al-Attiyah van Qatar en Lucas Cruz van Spanje in nog ’n MINI. Leeroy Poulter en Rob Howie jaag in die nommer 323-Hilux en spring in die 23e plek weg.

Die private jaers and Dakar-nuwelinge Thomas Rundle en Juan Mohr spring in die 103e plek weg in Hilux nommer 404, die voertuig waarin De Villiers en Von Zitzewitz in die 2013-Dakar-byeenkoms tweede was.

Sondag se sneltrajek bestaan uit ’n ooppadgedeelte van 629 kilometer, gevolg deur ’n sneltrajek oor 180 kilometer wat in San Luis eindig. Die deelnemers spring vroeg weg en kry dan padlangs koers in die rigting van Cordoba, en in die sneltrajek self wag smal tweespoorpaadjies, klipperige gedeeltes en blinde hoogtes wat heelwat paraatheid sal vereis en hulle behoorlik op die komende uitdaging sal help voorberei.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Imperial Suid Afrika renspan reg vir 2014 Dakar -Veldtydren in Suid-Amerika