Suksesvolle eerste week vir De Villiers/ Von Zitzewitz en Poulter/ Howie in Dakar 2014

20140111-122427.jpg
Die Suid-Afrikaanse jaer Giniel de Villiers en sy Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz (Toyota Imperial Hilux), het hul eerste week van die 2014-Dakar-veldtydren in die vierde plek algeheel afgesluit nadat hulle Vrydag in sneltrajek ses tussen Tucuman en Salta in Argentinië vierde oor die eindstreep is.

Hul spanmaats Leeroy Poulter, wat in sy eerste Dakar-ren jaag, en sy navigator, Rob Howie, is 29e algeheel nadat hulle Vrydag se sneltrajek oor ’n afstand van 424 kilometer in die 26e plek voltooi het. Dit was dieselfde afstand as ’n enkele ronde in die Suid-Afrikaanse veldtydrenkampioenskap.

Nani Roma van Spanje en sy Franse navigator, Michel Perin (MINI) is die algehele voorlopers met ’n rentyd van 22 uur 11 minute en 28 sekondes. Die deelnemers geniet Saterdag ’n welverdiende rusdag in Salta voordat die byeenkoms Sondag met die laaste van die sewe sneltrajekte in Argentinië hervat word. Daarna volg nog ses sneltrajekte in Chile voordat die ren op 18 Januarie in Valparaiso afsluit.

Dit is ’n welkome onderbreking van die ontberings in die marathon-ren oor altesaam 9 500 kilometer en ’n geleentheid om moeë lywe te laat rus en voosgeryde voertuie vir die tweede week voor te berei.

Die tweede posisie algeheel word deur die Argentynse jaer Orlando Terranova en sy Portugese navigator, Paulo Fiuza, in ’n MINI (+30 min 30 sek) beset, gevolg deur hul Franse spanmaats, die verdedigende kampioene Stéphane Peterhansel en Jean Paul Cottret (+32 min 33 sek). De Villiers en Von Zitzewitz is 40 min 54 sek verder agter, maar 46 min 41 sek voor Nasser Al-Attiyah van Qatar en sy Spaanse navigator, Lucas Cruz (MINI) in die vyfde plek. Die Spaanse jaer Carlos Sainz en sy Duitse navigator, Timo Gottschalk, is sesde in hul SMG-duinebesie en is 1 uur 59 min 38 sek agter die voorlopers.

Vyf van die voorste ses jaers is voormalige Dakar-wenners: Roma, wat die byeenkoms in 2004 op ’n motorfiets gewen het; Peterhansel, wat ses keer tussen 1991 en 1998 op ’n motorfiets en vyf keer van 2004 af in ’n motor gewen het (die afgelope twee jaar ingesluit); De Villiers wat die ren in 2009 gewen het; Al-Attiyah (2011) en Sainz, wat die 2010-wenner was.

Almal van hulle jaag in die T1-klas vir omgeboude veldtydrenmotors. Roma is voor in die klas vir vierwielaangedrewe dieselmotors, De Villiers is eerste in die klas vir vierwielaangedrewe petrolmotors, en Sainz is die voorloper in die klas vir tweewielaangedrewe petrolmotors.

De Villiers: “Ons is baie tevrede dat ons aan die einde van die eerste week hier is. Dit is een van die moeilikste Dakar-renne vandat die byeenkoms in 2009 na Suid-Amerika verskuif het – veral die laaste twee dae. Ons het ’n paar probleme gehad waarsonder ons andersins baie nader aan die voorpunt sou gewees het, maar ons is in ’n goeie posisie om die tweede week ’n aanslag op ’n podiumposisie te loods.

“Die motor werk nou goed en dit is wat ons nodig het vir wat ’n selfs nog moeiliker tweede week met ’n aantal baie lang sneltrajekte sal wees. Nani het ’n groot voorsprong, maar ons het in die afgelope ses dae gesien hoe vinnig dinge kan verander.”

Poulter: “Dit was een van die taaiste weke nog in my renloopbaan. Dankie tog vir Saterdag se rusdag! Ons is baie tevrede dat ons die eerste week oorleef het en ’n paar goeie sneltrajekuitslae geniet het. Ons besef die tweede helfte van die ren gaan selfs nog moeiliker wees, maar ek is baie beter voorberei as wat ek ’n week gelede was.”

Die spanhoof, Glyn Hall: “Dit was gewis ’n moeilike en baie dol week. Giniel en Dirk het ’n goeie lopie tot dusver gehad, en ons is in ’n stewige posisie om op 18 Januarie in Valparaiso op die podium te eindig. Leeroy het baie in sy debuutren beïndruk en het gewys hy beskik oor die vaardigheid om sneltrajekte in die geselskap van topjaers soos Giniel te voltooi. Hy en Rob kan met ’n bietjie meer geluk onder die voorste tien eindig. Die Dakar bied sy eie unieke uitdagings en hulle leer vinnig.
“’n Mens kan Saterdag nie eintlik ’n rusdag noem nie aangesien dit alles behalwe ’n rustige tydjie vir die tegniese ondersteuningspan is. Ons moet al twee motors stroop om alles na te gaan, en sekere komponente vervang as dit nodig is. Ons het nog ’n hele week se ren voor ons voordat ons kan sê ons het die Dakar weer oorwin.”

Sondag se sneltrajek sewe is ’n mega-sirkelroete van 763 kilometer van Salta en terug, wat ’n rengedeelte van 533 kilometer insluit en die deelnemers se vermoë op die proef sal stel om by die pas wat voortdurend verander, in te val. Die eerste deel is baie klipperig, waarna van die hoogste snelhede in die tweede deel van die sneltrajek aangeteken sal word. Die jaers se benaderings sal behoorlik teen ’n hoogte van bykans 3 500 meter bo seespieël beproef word. Hul dag word afgesluit waar hulle vir meer as 20 kilometer oor ’n soutpan sal jaag.

Die sneltrajek begin om 06:45 (11:45 Suid-Afrikaanse tyd) en die eerste motor word om 16:00 (21:00 SA tyd) terug by die oornaghalte in Salta verwag.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on Suksesvolle eerste week vir De Villiers/ Von Zitzewitz en Poulter/ Howie in Dakar 2014

Category: Algemeen