Lexus RC F maak wêreldbuiging in Detroit

 

• Wêreldbekendstelling van splinteruwe ‘F’-weergawe van treffende nuwe Lexus RC-koepee

• Kragtigste Lexus 5,0-liter-V8 nog; lewer heelwat meer as 330kW

• Lugdinamiese drukvlerke, lugskorte as ‘praktiese skoonheid’ beskryf


Die aggressiewe nuwe Lexus RC F-koepee – met ’n nuwe vyfliter-enjin wat heelwat meer as 330kW (450pk) ontwikkel – sal op 14 Januarie by die Noord-Amerikaanse Internasionale Motorskou bekend gestel word.
Dié model is vir uiterste hoëspoed-stabiliteit gestileer om die kragtigste V8-verrigtingsmotor wat Lexus tot nog toe ontwikkel het, aan te vul.
Die Lexus RC F is op die skouspelagtige nuwe RC-koepee gegrond, wat in November by die Tokio-Motorskou onthul is.
Die nuweling het breër wiele en bande, ’n aktiewe drukvlerk agter, lugskorte, verkoelingskorte en koolstofvesel-komponente wat elk sorg vir wat Lexus as ‘praktiese skoonheid’ beskryf.
“Die vorm van elke komponent is versigtig ontwerp om ’n bydrae tot verrigting te lewer,” het die Lexus RC F-hoofingenieur, Yukihiko Yaguchi, gesê.
“Unieke luguitlate in die omgewing van die enjinkap en agterkant van die voorste modderskerms sorg vir die beste moontlike enjinverkoeling en hanteringstabiliteit. Hulle skep ook ’n aggressiewe voorkoms wat met die eerste oogopslag op ’n dinamiese ry-ervaring dui.”


Ontwerper-buitekant

Die kenmerkende Lexus-uurglasrooster oorheers die voorkant van die RC F en behels ’n enkele F-patroon in die roostergedeelte – van die enjinkaplyn tot by die onderste lip.
Die enjinkap is hoër as dié van die RC en help om ’n kragtige sy-aansig wat by ’n F-model pas, te skep. Die F-model word verder uitgeken aan lugopenings onder die voorste buffer en modderskerms, sowel as lugdinamiese stabiliseringsfinne wat strategies geplaas is.

Die luguitlate aan die agterkant van die voorste modderskerms het ’n L-vorm wat met die sydrumpelverlengings saamvloei, terwyl eweredig gespasieërde en trapesiumvormige viervoudige stertuitlaatpype vir verdere aggressie aan die agterkant sorg.
Die RC F het talle ontwerpkenmerke van die Lexus LFA-supermotor geërf. ’n Aktiewe agterste drukvlerk ontplooi uit die RC F se agterdek teen snelhede bo 80 km/h, en trek teen minder as 40 km/h terug om die koepee se lyne te beklemtoon wanneer die motor stilstaan.
Drie verskillende tienspeek-aluminiumsierwiele van 19″ is vir die verskillende modelle beskikbaar. Twee is met masjiene gepoleer, terwyl dié van die High Plus-weergawe deur vakmanne met die hand blinkgevryf is.


Ontwerper-binneruim

Die Lexus RC F se treffende vliegkajuitagtige binneruim vul die aggressiewe buitevoorkoms aan. Van sy unieke komponente sluit in die meters, stuurwiel, sitplekke, versierings en pedale. Die instrumentepaneel word oorheers deur ’n middel-draaiknop wat ingevolge die vier verskillende rymodusse verskil. Die inligting, skermkleur en grootte van die teks verander telkens.
Die RC F het ’n elliptiese dwarssnit-dikgreepstuurwiel wat die eerste keer in ’n Lexus gebruik word, en pronk met ratwisselpedale wat volmaak geposisioneer is.
Splinternuwe hoërug-agtersitplekke met ’n reliëf-F in die kopstutte is spesiaal ontwerp om soos noupassende atletiese sportdrag te lyk, en soortgelyke steun te bied. Die sitplekke is in vyf verskillende leerafwerkings, wat elk teenstellende stikwerk het, beskikbaar.
Uitstaande nuwe L-vormige rubbergleuwe in die rem- en versneller-pedale sorg vir ’n kombinasie van vorm en praktiese werking deur beter voetklouvermoë te bied.

Posted on by jonckie

Comments Off on Lexus RC F maak wêreldbuiging in Detroit