Die Dakar byt terug met Woensdag se vierde sneltrajek

Die 2009-wenners Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz (Toyota Imperial Hilux) het hul sesde plek algeheel in die Dakar-veldtydren met ’n sewende plek in Woensdag se vierde sneltrajek tussen San Juan en Chilecito in Argentinië behou. Dit kon egter ’n heeltemal ander storie gewees het as die  kragstuur nie gelol het nie. Dit het hulle van ’n moontlike sneltrajekoorwinning beroof.

Dit was die langste sneltrajek van die ren tot dusver – altesaam 868 kilometer met ’n rengedeelte van 657 kilometer. De Villiers-hulle was teen die 470-kilometer-merk tweede toe hulle moes stilhou om aandag aan die kragstuur te gee. Hulle het terselfdertyd gesien een van die bande is besig om pap te word, en het sowat 14 minute verloor voordat hulle verder kon ry.

“Dit was ’n groot teleurstelling,” het De Villiers erken. “Ons het ’n goeie kans gehad om vandag se sneltrajek te wen. Die motor se verrigting is buiten die kragstuurprobleem absoluut perfek. Ons kan dit nie bekostig om aanhoudend tyd op hierdie manier te verloor nie, en sal more en die volgende paar dae moet uithaal so wat ons kan om die gaping agter die voorlopers te verklein.”

Die Dakar-veldtydren word nie om dowe neute as die wêreld se moeilikste motorsportuitdaging beskou nie – sodra ’n mens dink alles is onder beheer, byt die Dakar terug! Die eerste vier dae van die 2014-ren het selfs van die mees ervare deelnemers op die telbord op en af laat skuif.

Die nuwelingjaer Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, wat in die tweede Toyota Imperial Hilux jaag, het ’n slegte dag gehad nadat hulle die eerste drie dae puik tot tiende algeheel gevorder het en in Dinsdag se sneltrajek derde was. Beskadigde skokbrekers het hulle net 50 kilometer ná die begin van die sneltrajek gestrand gelaat, en hulle moes sowat drie ure vir hul ondersteuningsvragmotor wag voordat hulle weer aan die gang kon kom.

“Ons was tweede en het Nani Roma gejaag toe ons ’n trappie op ’n lang, reguit gedeelte teen hoë spoed tref. Die slag het die regterkantse agterste skokbrekers gebreek en ons moes stilhou. Ons het geen verdere probleme gehad nadat die T4-vragmotor aangekom en ons die skokbrekers vervang het nie. Die motor het andersins puik geloop.”

Dié terugslag het hulle van 10e tot 29e algeheel laat terugsak nadat hulle die sneltrajek in die 59e plek voltooi het – 3 uur 38 minute en 35 sekondes agter die wenners, die Spanjaard Carlos Sainz en sy Duitse navigator, Timo Gottschalk (SMG-duinebesie). Die verdedigende kampioene Stéphane Peterhansel en Jean Paul Cottret van Frankryk was tweede in hul MINI, gevolg deur hul spanmaats Nasser Al-Attiyah van Qatar en Lucas Cruz van Spanje.

Sainz en Gottschalk is nou algeheel 2 min 6 sek voor Nani Roma van Spanje en Michel Perin van Frankryk (MINI). Al-Attiyah en Cruz is derde en ’n verdere 4 min 52 sek agter. De Villiers en Von Zitzewitz is nou 39 min 10 sek agter die voorlopers, terwyl Poulter en Howie 4 uur 11 min 43 sek agter is.

Donderdag se vyfde sneltrajek van 912 kilometer tussen Chilecito en Tucuman is die langste van die byeenkoms, en behels 385 kilometer op die oop pad en ’n rengedeelte van 527 kilometer. Dié sneltrajek sal hoofsaaklik uit sand in warm toestande bestaan terwyl die deelnemers die hele dag erge veldrytoestande sal aandurf. Die aanspraakmakers op die podium het met hul aankoms by die oornaghalte in Tucuman tot net ’n handjie vol verminder, aangesien baie van die gunstelinge nie meer deel van die elite-groep is nie.

Donderdag se sneltrajek skop om 06:03 (11:03 SA tyd) af en die eerste motor word om 18:05 (23:05) by die eindpunt verwag.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on Die Dakar byt terug met Woensdag se vierde sneltrajek