De Villiers / Von Zitzewitz herwin 4de posisie in Dakar-Ren

Giniel de Villiers en sy Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz, het in Woensdag se sneltrajek 10 oor ’n afstand van 631 kilometer tussen Iquique en Antofagasta in Chile weer bewys dat hulle die enigste petrol-aangedrewe 4×4 is wat die Mini’s die stryd kan aansê .

Die 2009-kampioene het nog ’n vinnige en stowwerige sneltrajek met poeiersand en sandduine oorkom en vierde vir die dag geëindig om hul vierde posisie algeheel (op hul eie) terug te wen. Die tydren behels nog net drie sneltrajekte uit die 13 voor die einde Saterdag in Valparaiso in Chile.

Nasser Al-Attiyah van Qatar en sy Spaanse navigator, Lucas Cruz (Mini), het die sneltrajek met ’n voorsprong van 3 min 50 sek voor die verdedigende kampioene, hul spanmaats Stéphane Peterhansel en Jean Paul Cottret van Frankryk (Mini), gewen. Nani Roma van Spanje en Michel Perin van Frankryk (Mini) was 13 min 45 sek verder agter in die derde plek, en 14 min 30 sek voor De Villiers en Von Zitzewitz.

Roma en Perin is steeds die algehele voorlopers, maar Peterhansel en Cottret, wat tweede is, het die gaping van 12 min 10 sek tot 2 min 15 sek verklein.

Al-Attiyah en Cruz is algeheel derde – 46 min 1 sek verder agter en 26 m 15 sek voor De Villiers en Von Zitzewitz.

Die Argentynse jaer Orlando Terranova en sy Portugese navigator, Paulo Piuza (Mini), wat Dinsdag derde algeheel voor De Villiers en Von Zitzewitz was, het 5 min 33 sek agter die Suid-Afrikaanse Toyota Imperial teruggesak en is nou 20 sekondes agter De Villiers-hulle in die algehele vyfde plek.

Toyota Hilux 4×4’s met ’n Suid-Afrikaanse herkoms vul die drie voorste plekke in die afdeling vir vierwielaangedrewe petrol-motors: De Villiers/Von Zitzewitz is in die eerste plek voor twee inskrywings van die Belgiese Overdrive-renspan, Marek Dabrowski en Jacek Czachor van Pole, wat tweede in die klas en sewende algeheel is, en Adam Malysz en Rafal Marton, ook van Pole, wat derde in die klas en 9e algeheel is.

De Villiers: “Ons het teen ’n sandduin vasgeval en die enjin het uitgesny. Dit was ’n simpel fout en het ons sowat ses minute gekos,” het hy gesê. “Dit klink ongelooflik, maar niemand het by ons verbygekom nie. Ons het geweet ons het Terranova, wat gister op die algehele lys voor ons was, goed ingehaal. Ons is ook deur ’n pap wiel wat van die velling af losgekom het, vertraag en het nog tyd verloor toe ek gesukkel het om teen ’n steil sandduin op te ry. Ons het dit uiteindelik reggekry nadat ons die bande afgeblaas het, en het die laaste 50 kilometer weens ’n brandstofdruk-probleem teen halwe krag voltooi. Ons is in die geheel heeltemal tevrede met die uitslag, en met die feit dat ons vir nog ’n dag oorleef het.”

De Villiers-hulle se Toyota Imperial Hilux-spanmaats, Leeroy Poulter en Rob Howie, het weer ’n hele paar uur verloor nadat ’n voorste veringkomponent 130 kilometer voor die einde van die sneltrajek gebreek het. Hulle het ’n puik lopie gehad en tot 19e in die sneltrajek opgeskuif nadat hulle 33e weggespring het. Hulle moes weer vir die T4-ondersteuningsvragmotor wag, wat hulle eers teen 22:00 (03:00 Suid-Afrikaanse tyd) sou bereik het.

Die private Suid-Afrikaanse jaers Thomas Rundle en Juan Mohr, wat in hul eerste Dakar deelneem en in dieselfde Hilux jaag waarin De Villiers en Von Zitzewitz verlede jaar tweede was, het nog ’n bestendige vertoning gelewer en was 21e in die sneltrajek. Hulle is nou 22e algeheel.

Toyota Land Cruisers vul die eerste twee plekke in die T2.1-klas. Jun Mitsuashi van Japan en Alain Guehennic van Frankryk is voor in die klas en 21e algeheel. Hul spanmaats Nicolas Gibon van Frankryk en Akira Miura van Japan is tweede en 26e algeheel.

Teruhito Sugawara, wat in die ouderdom van 72 (die oudste deelnemer) in sy 33e Dakar deelneem, en sy navigator, Hiroyuki Sugiura (Hino), is 14e in klas T4.2 en ook 14e in die vragmotor-afdeling algeheel.

Die byeenkoms baan steeds sy weg suidwaarts al met die weskus van Chile af op pad na Donderdag se 11e sneltrajek van Antofagasta na El Salvador, wat deur ’n moeilike tog deur die Atacama-woestyn, die droogste ter wêreld, oorheers word.

Die deelnemers sal ná die eerste deel oor mynpaadjies, wat talle riviere oorsteek, die hartjie van die duine in Copiapo betree en meer as ses en ’n half uur in hul motors deurbring.

Die eerste motor spring om 07:01 (12:01 SA tyd) op die ooppad-gedeelte weg, en die wenmotor word om 16:31 (21:31 SA tyd) aan die einde van die sneltrajek by die oornaghalte verwag.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

 

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers / Von Zitzewitz herwin 4de posisie in Dakar-Ren