De Villiers en Von Zitzewitz skuif op tot 3de algeheel in Dakar 2014

’n Skitterende sesde plek in uiters ongunstige toestande in Sondag se sewende sneltrajek – ’n mega-sirkelroete van 533 kilometer van Salta en terug teen ’n gemiddelde hoogte van 3 500 meter bo seevlak – het Giniel de Villiers van Suid-Afrika en sy Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz (Toyota Imperial Hilux) tot die derde plek algeheel laat opskuif nadat hulle in die vierde posisie algeheel weggespring het.

Dit was ’n teleurstellende dag vir die 2009-kampioene waarin die groot hoogte bo seevlak die Hilux se petrolenjin van heelwat krag beroof het. Dié nadeel is vererger deur die feit dat dit ’n baie vinnige sneltrajek was waar die deelnemers vir groot dele voluit gejaag het. Wilde lamas was uiteindelik ook ’n buitengewone hindernis en De Villiers en Von Zitzewitz het een gelukkig net-net gemis.

Die rengedeelte is gewen deur Carlos Sainz van Spanje en sy Duitse navigator, Timo Gottschalk (SMG-duinebesie), wat 4 min 45 sek voor Nasser Al-Attiyah van Qatar en sy Spaanse navigator, Lucas Cruz, was. Die verdedigende kampioene, Stéphane Peterhansel en Jean Paul Cottret van Frankryk, was derde in hul MINI (+7 min 26 sek), gevolg deur Nani Roma van Spanje en sy Franse navigator, Michel Perin (+8 min 56 sek), in nog ’n MINI.

Roma en Perin is steeds die algehele voorlopers met ’n voorsprong van 31 m 53 sek teenoor Peterhansel en Cottret (MINI). De Villiers en Von Zitzewitz is 46 min 23 sek verder agter in die derde plek, en 13 min 50 sek voor Orlando Terranova van Argentinië en sy Portugese navigator, Paulo Fiuza (MINI) wat vierde is nadat hulle op die rusdag in Salta ’n laat boete van 15 minute weens onsportiewe gedrag gekry het.

Al-Attiyah en Cruz is vyfde en 1 uur 18 min 24 sek voor Sainz en Gottschalk. Al-Attiyah sowel as Sainz is elk met ’n uur beboet nadat hulle ’n navigasiepunt misgery het.

Dit was nog ’n lang en teleurstellende dag in die stof vir De Villiers se Suid-Afrikaanse spanmaats, Leeroy Poulter en Rob Howie, in die tweede Toyota Imperial Hilux. Poulter, wat in sy eerste Dakar-ren jaag, en Howie het in die 26e posisie op die pad en 29e op die punteleer weggespring en die sneltrajek in die 68e posisie voltooi – 3 uur 13 min 48 sek agter die voorlopers – wat hulle tot 30e algeheel laat terugsak het.

“Ons het goed gedoen totdat ons ’n probleem met die stuur opgedoen het, wat ons langs die pad gestrand gelaat het terwyl ons gesukkel het om die probleem op te spoor en dit reg te maak,” het Poulter gesê. “Ons het dit uiteindelik reggekry net voordat die T4-ondersteuningsmotor daar aangekom het, en het omtrent drie ure verloor. Die res van die sneltrajek het relatief goed verloop. Ons is baie teleurgesteld dat ons teruggesak het, maar sal aanhou probeer en kyk of ons van more af kan inhaal.”

De Villiers: “Dit was ’n vinnige, volspoed-sneltrajek hoog bo seevlak, wat beter by ons diesel-teenstanders gepas het. Dit was frustrerend omdat ons doodeenvoudig nie die krag het om op gelyke voet met hulle mee te ding nie. Ons het ook in die eerste 100 kilometer tyd weens ’n pap wiel verloor. Ons het daarin geslaag om die skade teenoor ons naaste teenstanders (Nani Roma en Stéphane Peterhansel) te beperk en is deur Orlando (Terranova) se straftyd bevoordeel. Ons sien baie uit na more se eerste sneltrajek in Chile. Ons is slaggereed…”

Die deelnemers steek Maandag die Andes-bergreeks na Chile deur die Paso de Jama-pas op ’n hoogte van bykans 4 900 meter oor. ’n Ooppadgedeelte van 522 kilometer neem hulle van Salta in Argentinië na die eerste van ses sneltrajekte in Chile – ’n rengedeelte oor 302 kilometer tot in Calama. Dit word in die roetegids beskryf as ’n sneltrajek wat deur vinnige, nou gedeeltes met min verbysteekgeleenthede gekenmerk word.

Die sneltrajek begin om 05:15 (10:15 Suid-Afrikaanse tyd) en die eerste motor word om 14:50 (19:50 SA tyd) by die oornaghalte verwag.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers en Von Zitzewitz skuif op tot 3de algeheel in Dakar 2014