De Villiers en Von Zitzewitz sesde algeheel na derde in sneltrajek 2 van Dakar -Veldtydren

Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz het op ’n dag dat die Dakar-veldtydren sy tande begin wys en verskeie voorjaers in die moeilikheid beland het, gewys waarom hulle as een van die topspanne in wêreld-veldtydrenne beskou word.

Hulle het hul Toyota Imperial Hilux Maandag – nadat hulle Sondag 27e geëindig het – in die sneltrajek tussen San Luis en San Rafael in Argentinië tot ’n derde plek aangevoer en tot sesde algeheel herstel.

De Villiers-hulle het die sneltrajek oor 433 kilometer 5 minute en 34 sekondes agter die wenners, die verdedigende kampioene Stéphane Peterhansel en Jean Paul Cottret van Frankryk (MINI), en 4 min 48 sek agter die Spaanse jaer Carlos Sainz en sy Duitse navigator, Timo Gottschalk (SMG Buggy) voltooi.

Peterhansel en Cottret, wat die laaste twee Dakar-renne gewen het, is die algehele voorlopers ná twee van die ren se 13 sneltrajekte. Hulle is 28 sekondes voor Sainz en Gottschalk en 5 min 34 sek voor Nasser Al-Attiyah van Qatar en sy Spaanse navigator, Lucas Cruz (MINI). De Villiers en Von Zitzewitz, wat die 2009-Dakar-ren gewen het, is 17 min 10 sek verder agter.

Leeroy Poulter en Rob Howie het die tweede Toyota Imperial Hilux in die 16e plek – 44 min 34 sek agter die wenners – oor die eindstreep gestuur. Hulle is nou 13e algeheel – 46 min 10 sek agter die voorlopers en 29 minute agter hul spanmaats.

Giniel de Villiers: “Vandag was ’n volwaardige Dakar-sneltrajek: aan die begin was dit baie, baie vinnig – voet in die hoek – en het ons eerste sandduin ingesluit. Die duine was moeilik en dit was ontsettend warm. Ek is baie tevrede met ons vertoning. Ons het ’n bietjie tyd verloor toe ons in die stof van ander deelnemers gesit het, maar het andersins geen probleme gehad nie. Ons sal van nou af ’n skoon lopie moet hê as ons Stephane wil verhoed om voor die res van die renveld af weg te breek.”

Leeroy Poulter: “Vandag was my eerste kennismaking met sandduine en ons het ’n paar keer vasgeval. ’n Paar deelnemers het ons as gevolg daarvan verbygesteek, en ons het later, nadat ons hulle weer ingehaal het, in hul stof gesit. Die duine was baie moeilik, hoog en steil aan al twee kante. Dit was ’n lang en moeilike sneltrajek, en ek is tevrede dat ons dit gemaak het.”

Glyn Hall, spanhoof: “Dit is ná die eerste twee sneltrajekte baie duidelik dat hierdie ’n baie moeiliker Dakar as gewoonlik is – net soos die organiseerders belowe het dit gaan wees. Vandag se sneltrajek het my aan ’n eerste dag in Mauretanië in Afrika herinner. Dit was ’n aanduiding van hoe moeilik dit kan wees met ’n dodelike mengsel van sand en hoë temperature – bykans 40 grade Celcius buite die motor.

“Giniel se vertoning vandag het gewys waarom hy as een van die voorste veldtydrenjaers ter wêreld beskou word. Ons is almal baie beïndruk en tevrede met Leeroy, wat ’n fantastiese wegspring in sy heel eerste Dakar-ren ervaar. Hy het in sy eerste probeerslag oor sandduine in ’n veldtydrenmotor nogal goed gedoen.”

Die deelnemers sal in Dinsdag se derde sneltrajek van San Rafael na San Juan hul eerste voorsmaak van die berge kry. Dié roete oor 595 kilometer (301 kilometer se sneldeel en 295 op die oop pad) strek deur die voor-Andes. Die Aconcagua-vulkaan staan 6 962 meter hoog en sal die vordering van die voertuie van bo af ‘dophou’.

Die eerste motor ry om 06:08 (10:08 SA tyd) van San Rafael af weg en word om 14:18 (19:18) by die oornaghalte in San Juan verwag.

 

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers en Von Zitzewitz sesde algeheel na derde in sneltrajek 2 van Dakar -Veldtydren