De Villiers en Von Zitzewitz 5de na Nege Dakar -Sneltrajekte

Dinsdag se sneltrajek nege in die 2014-Dakar-veldtydren tussen Calama en die kusstad Iquique in Chile was uiteindelik baie moeiliker as wat die Suid-Afrikaanse jaer Giniel de Villiers en sy Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz (Imperial Toyota Hilux), verwag het.

Twee pap wiele het ook nie juis gehelp nie; ook nie die stof en die terrein wat deur die motors voor hulle omgedolwe is nadat hulle in die sewende plek op die pad weggespring het nie. De Villiers-hulle moes by die eindpunt van die rengedeelte oor 422 kilometer, wat met ’n dramatiese drie kilometer lange afdraande teen sandduine af tot by die oornaghalte met die Stille Oseaan in die agtergrond geëindig het, met ’n vyfde plek vir die dag tevrede wees. Hulle was 22 min 57 sek agter die sneltrajek-wenners, die verdedigende kampioene Stéphane Peterhansel en Jean Paul Cottret van Frankryk (Mini), en het twee plekke afgestaan, maar in die gesamentlike vierde plek geëindig.

Nasser Al-Attiyah van Qatar en sy Spaanse navigator, Lucas Cruz, was tweede (2 min 17 sek), terwyl Nani Roma van Spanje en Michel Perin van Frankryk (Mini) derde was (+11 min 36 sek). Die Argentynse jaer Orlando Terranova en sy Portugese navigator, Paulo Fiuza, was vierde in nog ’n Mini (+14 min 14 sek).

De Villers en Von Zitzewitz, die 2009-kampioene, het 11 min 21 sek teenoor die algehele voorlopers, Roma en Perin, verloor met nog net vier sneltrajekte oor. Hulle is nou 59 min en 46 sek agter. Peterhansel/Cottret (+12 min 10 sek), Terranova/Fiuza (+54 min 33 sek), en die voormalige kampioene Nasser Al-Attiyah van Qatar en sy Spaanse navigator, Lucas Cruz (Mini) wat +59 min 46 s agter is.

“Die sneltrajek was onverwags moeilik,” het De Villiers gesê. “Die duine-gedeelte was nie maklik nie, en die navigasie was uitdagend omdat talle navigasiepunte uitgesnuffel moes word. Ons het baie tyd teenoor die voorjaers verloor, maar ons hou aan en druk so hard as wat ons kan. Ons het nog ’n paar lang sneltrajekte en enigiets kan nog gebeur, dus bly ons positief.”

De Villiers se Toyota Imperial-spanmaat, Leeroy Pouter, wat sy eerste verskyning in die wêreld se langste en moeilikste motorren maak, en sy navigator, Rob Howie, het die wrede sy van die Dakar eerstehands ervaar. Hulle het vyf plekke teruggesak nadat hulle in die 29e posisie op die pad en 28e algeheel ná ’n goeie vertoning in die vorige sneltrajek weggespring het – hul voertuig het omgeslaan en hulle het lank op hulp van die ondersteuningsvragmotor gewag, waarna hulle die sneltrak in die 53e plek – 4 uur 9 min en 48 sek agter die sneltrajekwenners – voltooi het.

Poulter: “Ons het vanoggend agter vyf vragmotors begin en daar was aan die begin baie van die sogenaamde fesh-fesh (’n fyn poeierstof wat spesifiek aan die omgewing is).

“Hoewel ons ’n pad gehad het om te volg, was daar gereelde veldrygedeeltes wat ons moes volg. Ons het by ’n paar vragmotors verbygekom en was in die stof van ’n ander motor toe ek gedink het daar is ’n gaping om verby te steek. Dit was egter ’n skerp draai van 90 grade met ’n diep sloot. Ons is regdeur die sloot en die motor het stadig omgerol.

“’n Verbygaande vragmotor het ons op ons wiele getrek en ons het nog 20 kilometer aangery voordat ons weens ’n gebreekte boonste mik – waarskynlik weens die rolslag – moes stilhou. Ons het die motor in afwagting op die herstelwerk begin stroop en omtrent twee ure vir ons T4-ondersteuningsvragmotor gewag. Ons was 30 minute later weer op pad.

“Ons het maar stadig gevorder aangesien ons nie ’n windskerm gehad het nie en ek en Howie elkeen ’n stofbril moes gebruik. Die tegnici sal die motor vannag herstel. Dit was ’n moeilike en lang dag, maar ons moet more voortgaan om nog ervaring op te doen.”

Die spanbestuurder, Glyn Hall: “Ons sien in vanjaar se Dakar – wat dalk moeiliker is as wat die organiseerders gesê het dit gaan wees – die gevolg van wat ek as ongelykheid van die reëls oor die beheer van die verrigting van die verskillende voertuie se enjins beskou.

“Dit word deur luginlaat-beperkers gedoen. Die tweewielaangedrewe duinebesies met V8-enjins van sewe liter, soos die SMG van Carlos Sainz, het ’n 39 mm-beperker.

“Die Mini’s se dubbelturbo-diesels van drie liter het ’n 38 mm-beperker, terwyl die vyfliter-Toyota Hilux ’n 36 mm-beperker het. Die kleiner beperkers wurg die verrigting van die enjin aansienlik. Dit is nie ’n geveg op gelyke voet nie.

“Die reëls was veronderstel om ná verlede jaar se Dakar-ren hersien te word, maar dit sal eers ná vanjaar se byeenkoms gedoen word.

“Ons het tot dusver ’n paar terugslae gehad, maar dit was nie weens die Hilux se verrigting nie. Die motors is sterk – soos ons vandag gesien het toe Leeroy se Hilux gerol en hy voortgejaag het, en ook deur die feit dat Giniel ten spyte van die enjinverrigtingsnadeel ná nege sneltrajekte die enigste jaer onder die voorste vyf algeheel in iets anders as ’n Mini is. Die top-vyf word deur net minder as ’n uur van mekaar geskei, terwyl die sesde motor, die Holowczyc-Mini, meer as drie ure verder agter is.

“Iets waarop gelet kan word, is die feit dat daar nou drie Toyota Hilux 4×4’s onder die voorste tien is, terwyl ’n vierde Hilux in die 14e posisie algeheel is. Almal het ’n Suid-Afrikaanse stamboek.

“Moenie ’n fout maak nie – ons het gekom om te wen of ten minste op die podium te eindig. Ons glo ’n podiumposisie is steeds moontlik, en ons sal tot reg teen die einde daarvoor druk.”

Die private Suid-Afrikaanse jaers Thomas Rundle en Juan Mohr, wat in hul eerste Dakar in die voormalige Toyota Motorsport-Hilux jaag waarin De Villiers en Von Zitzewitz in verlede jaar se Dakar as naaswenners uit die stryd getree het, is ’n indrukwekkende 25e algeheel. Hulle was Maandag 17e algeheel ná hul beste sneltrajekuitslag van 15e algeheel, maar het Dinsdag tyd weens kragstuurprobleme verloor.

Sneltrajek 10, al met die weskus van Chile van Iquique tot Antofagasta, is in twee dele met uiteenlopende eienskappe verdeel. Die rengedeelte oor 631 kilometer begin ná ’n kort ooppadgedeelte oor 53 kilometer met ’n lang afdraande in die rigting van die kus aan die Stille Oseaan. Dit sal vir die eerste 200 kilometer uit sand bestaan, waarna die tweede deel van die sneltrajek deur poeiersand sal strek. Die roete kronkel van daar af met die streek se mynpaaie langs totdat die deelnemers deur die statige La Portuda-boog, ’n klipgooi van die oornaghalte af, verwelkom word.

Die sneltrajek begin om 08:03 (13:03 Suid-Afrikaanse tyd) en die eerste motor word om 16:38 (21:38 SA tyd) by Antofagasta verwag.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers en Von Zitzewitz 5de na Nege Dakar -Sneltrajekte