De Villiers en Von Zitzewitz 2de in Dakar -Sneltrajek Vyf

Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz (Toyota Imperial Hilux) het hulself binne bereik van ’n top-drie-einde in die 2014-Dakar-veldtdyren in Suid-Amerika gehou deur ’n netjiese tweede plek in Donderdag se sneltrajek tussen Chilecito en Tucuman in Argentinië los te jaag. Hulle is nou vierde algeheel.

Hulle het die roete oor 527 kilometer ten spyte van ’n remprobleem en pap wiel wat hulle meer as vier minute gekos het, 4 minyte en 20 sekondes agter Nani Roma van Spanje en Michel Perin van Frankryk (MINI) en 15 min 52 sek voor die Amerikaners Robbie Gordon en Kellon Walch (Hummer) voltooi.

Roma en Perin het die algehele voorsprong wat hulle ná Dinsdag se derde sneltrajek gehad het, teruggeneem en is 31 min 46 sek voor die Argentynse jaer Argentine Orlando Terranova en sy Franse navigator Paulo Fiuza (MINI). Die verdedigende kampioene Stéphane Peterhansel en Jean Paul Cottret van Frankryk (MINI) is 39 min 59 sek verder agter in die derde plek, en net 1 min 25 sek voor De Villiers en Von Zitzewitz, wat die 2009-Dakar gewen het.

De Villiers-hulle se Toyota Imperial-spanmaats Leeroy Poulter en Rob Howie het in die tweede Toyota Hilux vasgeval toe hulle om ’n sandduin probeer ry het. Hulle het die sandlere gebruik en die motor losgekry deur agteruit uit te ry.

Die koppelaar het kort daarna begin sukkel en hulle moes stilhou om dit vloeistof te bloei. Hulle vermoed sand het in die klokhulsel beland.

Poulter, wat in sy eerste Dakar-ren deelneem, en Howie is aan die einde van die sneltrajek die 36e plek toegeken en is nou 30e algeheel.

Giniel de Villiers: “Ons het ’n relatiewe goeie dag gehad behalwe dat ons remme 15 kilometer voor die einde van die sneltrajek ingegee het. Dit was ’n lang sneltrajek wat baie hard op die motor was, maar die Toyota se vertoning was uitstekend. Die navigasiewerk was baie moeilik, maar Dirk het hom puik van sy taak gekwyt terwyl ander navigators erg gesukkel het. Ons het ’n pap wiel teen hoë spoed opgedoen en die band het aan die brand geraak, en ons dink dit is wat die remprobleem veroorsaak het.”

Leeroy Poulter: “Dit was ’n lang en moordende sneltrajek. Dit was baie warm en ons is baie dankbaar dat ons motor lugversorging het. Ons het heelwat tyd verloor toe ons moes stilhou om aandag aan die koppelaar te gee, maar het in die reguit dele weer ingehaal. Dit is ’n wrede ren – die een oomblik is jy aan die gang, en die volgende veg jy om oorlewing.”

Vrydag se sesde sneltrajek van Tucuman na Salta is die langste voor Saterdag se rusdag by die eindpunt. Die roete sal die deelnemers verder noord in Argentinië met die berugte Ruta 40 tot in die hartjie van een van dié lans se mooiste landskappe neem.

Die roete begin met 270 kilometer se oop pad, en die rengedeelte behels 424 kilometer – dieselfde afstand as een enkele ronde in die Suid-Afrikaanse veldtydrenkampioenskap. Die oorblywende renveld tot op datum het reeds sowat 4 000 kilometer van die uiteindelike roete oor 9 500 kilometer afgelê, met net meer as 2 000 van die 5 000 kilometer se rengedeeltes agter die rug.

Die eerste motor spring om 06:15 (11:15 Suid-Afrikaanse tyd) by die oornaghalte by die Hipodromo Avenida Leguizamo in Tucuman weg, en word om 16:35 (21:35 SA tyd) by die eindpunt in Salta verwag.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers en Von Zitzewitz 2de in Dakar -Sneltrajek Vyf