Toyota Imperial Hilux Veldrenbakkies gereed om na Dakar Veldtydren in Suid Amerika verskeep te word

Toyota Motorsport Suid-Afrika het die eerste 2014-Dakar-veldtydrenstryd gewen deur die SA Lugdiens se spertyd vir die aflewering van die twee Toyota Imperial Hilux-dubbelkajuitbakkies wat in Januarie aan die 14-daagse marathonren oor 9 500 kilometer sal deelneem, te haal.

Die waardevolle vrag, tesame met ses ton se onderdele en toerusting, is Sondag per vliegtuig na Buenos Aires in Argentinië geneem. Die 21 lede van die Toyota Imperial Suid-Afrika-span kom op 29 Desember in Buenos Aires aan wanneer hulle die voertuie en toerusting op vragmotors sal laai en sowat 80 kilometer verder na Toyota Argentinië se monteeraanleg in Zerate sal neem. Die tegnici sal alles daar uitpak en in twee ondersteuningsvragmotors wat tussen die oornaghaltes sal reis, sowel as in ’n renvragmotor wat die deelnemers met noodsaakliker onderdele sal volg, verpak.

Die twee Toyota Imperial Hilux 4×4’s sal betyds vir ’n voorrentoets en finale toetslopie op 2 Januarie in Rosario, waar die byeenkoms begin, hermonteer word. Daarna volg die registrasie en voorondersoeke op 3 Januarie in Rosario voordat die twee Suid-Afrikaanse bakkies op 5 Januarie op die wegspringstreep sal aantree.

Die 36e Dakar-veldtydren eindig op 18 Januarie in Valparaiso in Chile.

 

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Imperial Hilux Veldrenbakkies gereed om na Dakar Veldtydren in Suid Amerika verskeep te word