Taxibestuurders jaag op langafstandroetes – navorsingsprojek

Taxibestuurders wat lang afstande tussen Kaapstad en die Oos-Kaap aflê eerbiedig nie die spoedgrens nie, is dikwels onbewus van die 100km/h-spoedgrens vir taxi’s en ry vinniger indien hulle nie die eienaars of mede-eienaars van die voertuig is nie. Taxi’s dra egter proporsioneel min by tot padsterftes.

Dit is enkele van die bevindinge van ʼn navorsingsprojek deur dr Thinus Booysen, ʼn senior lektor in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US).

In die projek het Booysen statistieke oor padsterftes en die rol van minibus-taxi’s geëvalueer.

“Met die vrywillige hulp van bestuurders het ek ʼn afhaalbare opsporingstelsel (oftewel ʼn tracking device), geborg deur Trinity Telecoms, gebruik om langafstand minibus-taxi’s die afgelope jaar te moniteer. Data oor onder meer spoed, plek en tyd is vasgelê. Dit het my in staat gestel om aankoms- en vertrektye, maksimum spoed en die gemiddelde spoed vir elke padsegment op die roete te bepaal.”

Die resultate was ietwat verrassend, sê Booysen.

“Uit die staanspoor was dit duidelik dat die minibus-taxi’s nie die spoedgrens eerbiedig nie. Interessant genoeg, toe hulle hieroor uitgevra is, het van die bestuurders verkeerdelik aangevoer dat die spoedgrens vir taxi’s 120km/h is. Hulle het ook beweer passasiers moedig hulle gewoonlik aan om te jaag ten einde betyds te arriveer. Die maksimum spoed wat gemeet is oorskry gereeld 140km/h op byna alle segmente van die roete, met ʼn maksimum spoed van 159 km/h vir alle taxi’s en segmente. Die mediaan maksimum spoed per segment is tussen 120 en 135km/h vir alle segmente vanaf Worcester na Cofimvaba in die Oos-Kaap. Op die terugrit wissel die spoed, met die mediaan bo 120 km/h tussen Tarkastad en Graaff-Reinet, en tussen Aberdeen en Worcester. Die mediaan maksimum spoed tussen Laingsburg en Worcester (die pylvak op die terugrit) is ʼn ontstellende 137 km/h op die terugrit.”

Booysen sê verder dat passasiers in taxi’s wat gemonitor is, meestal Xhosa-sprekende persone van die Oos-Kaap is wat nou in die Wes-Kaap woon. “Hierdie pendelaars staar dikwels die gevreesde vooruitsig van die nagtelike rit na die Oos-Kaap in ʼn minibus-taxi in die gesig. Hierdie besoeke is vir geleenthede soos begrafnisse en vir feesseisoene soos Kersfees en oor die Paasnaweek.”

Buite die feesseisoen kom taxi’s op ʼn Vrydagaand by byeen op plekke wat onderling bekend is (bv. die Engen Winelands 1-Stop) bymekaar, en vertrek om 19:00 op die 1200 km rit na die Mthatha-streek in die Oos-Kaap, verduidelik Booysen. Hierdie taxi’s keer dan op Sondae terug, beweeg teen ongeveer 15:00 deur Queenstown, en moet hul passasiers betyds terughê vir werk op ʼn Maandagoggend.

Gedurende die feestyd is taxi’s egter elke dag aan diens met passasiers wat meestal in die nag vervoer word.

“Die voertuig wat die meeste gebruik word, is die Toyota Quantum, wat gesertifiseer is om 15 passasiers te vervoer. Die wet vereis dat minibus-taxi’s ʼn snelheidsgrens van 100 km/h eerbiedig. Die roete wat gevolg is loop deur Beaufort-Wes en Graaff-Reinet tot by Mthatha en omgewing, met ʼn geskatte 300 van hierdie taxi’s wat op ʼn Vrydagaand deur Beaufort-Wes beweeg. Die bestuurders ry deur die nag en dieselfde drywer wat stedelinge deur die week vervoer, moet ook die afstand na die Oos-Kaap aflê. Op die terugrit moet die bestuurder by sy aankoms ook sy weeklikse diensbeurte voortsit, dikwels sonder slaap.”

Negatiewe persepsies

“Dit is in hierdie konteks en die negatiewe persepsies van die sektor, dat ons die statistiek oor padsterftes, en die rol wat minibus-taxi’s speel behoort te evalueer. Afrika het minder as 2% van die wêreld se geregistreerde voertuie, maar dra tot 20% van padsterftes by. Jaery word gesien as die rede vir 40% van die ongelukke wat deur mense veroorsaak word. Sowat 5% van alle voertuie op die pad is minibus-taxi’s wat by 8% van ongelukke betrokke is. Dit lei tot minder as 5% van padsterftes. Baie mense glo dus dat die jaarlikse ongeveer 14000 padsterftes in die land grotendeels aan hierdie taxi’s toegeskryf kan word. Dit is egter so dat langafstandtaxi’s tipies byna tien keer die afstand van die gemiddelde motor aflê, wat hul bydrae in terme van sterftes per kilometer verminder. Langafstandritte word in die middel van die nag onderneem wanneer paaie meestal verlate is. Die laer sterfte- en ongeluksyfer kan ook wees omdat die bestuurders in wese besig is om te werk, en geneig is om nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie.”

Oplossings

Volgens Booysen blyk die vertrektyd uit die Oos-Kaap een van die grootste bydraende faktore tot taxi’s se jaery te wees: vir elke uur wat die taxi later uit die Oos-Kaap vertrek, duur die terugrit 30 minute minder. “Dit maak dus sin om die logistieke uitdaging om passasiers by hul onderskeie bestemmings op te laai te optimaliseer ten einde betyds te vertrek.”

Nog ʼn interessante bydraende faktor is of die bestuurder ook die eienaar van die voertuig is: die maksimum spoed wat gemeet was, was ongeveer 10 km/h hoër indien die bestuurder in diens van die eienaar was, eerder as die eienaar self. “Dit kan dus sinvol wees om die bestuurder aandele in die bate te gee ten einde spoed te verminder,” sê Booysen.

Opsporingstelsels kan ook gebruik word om te verhoed dat bestuurders die spoedgrens oorskry. Indien alle taxi-eienaars verplig sou word om opsporingstelsels in hul voertuie te installeer, sal die gedrag van alle taxibestuurders op die pad intyds vanaf ʼn sentrale punt (geen afstandsbeheerde spoedlokvalle benodig) gemonitor kon word. Dit sou gedoen kon word deur versekering op opsporingstelsels verpligtend te maak of om motorvoertuigvervaardigers (bv. Toyota) te dwing om voertuie met hierdie toestelle toe te rus. Laasgenoemde benadering is in Brasilië gevolg, waar die wet vereis dat alle voertuie met opsporingstelsels toegerus is, al is dit net vir die voorkoming van diefstal.

“Dit is dus duidelik dat taxibestuurders wat die spoedgrens heeltemal oorskry as een van die grootste oorsake van padongelukke gesien word. Hulle is egter geneig om dit in die middel van die nag te doen wanneer die paaie leeg is. Benewens die voorgestelde intervensies moet wetstoepassing, op die korttermyn, versterk word om minibus-taxi’s se roekelose gejaag te beheer.”

Dr Booysen sal hierdie feesseisoen, met goedgunstige ondersteuning van Mix Telematics, ʼn tweede fase van die projek loods. Tien minibus-taxi’s is toegerus met opsporingstelsels wat ook roekelose bestuur, soos onverskillige versnelling en jaag om draaie monitor.

Posted on by jonckie

Comments Off on Taxibestuurders jaag op langafstandroetes – navorsingsprojek

Comments are closed.