Sanral in nuwe e-Toll blaps

Die Engels- en Afrikaanstalige weergawes van die e-toltariefkennisgewings wat in die Staatskoerant gepubliseer is verskil van mekaar deurdat hulle verskillende tariewe vir dieselfde kategorieë van padgebruikers voorskryf. Dié feit het aan die lig gekom nadat die Department van Vervoer en SANRAL geweier het om die Justice Project South Africa (JPSA) leiding oor die e-tolstelsel se vervolgingsproses te gee. Die JPSA voer aan dat die foutiewe tariewe die ongeldigverklaring van die e-tolregulasies tot gevolg kan hê en motoriste dalk op terugbetaling van e-tolgeld wat reeds betaal is geregtig kan maak.

“Beide SANRAL en die Departement van Vervoer was heeltemal onbehulpsaam ten opsigte van ons navrae oor die vervolgingsproses,” het JPSA se voorsitter, Howard Dembovsky, gesê. “Hulle het ons bloot na die regulasies terugverwys. In die deurlees van die verskeie kennisgewings het ons ontdek dat die Engels- en Afrikaanstalige weergawes van die tariefkennisgewings van mekaar verskil,” het hy bygevoeg. “Albei weergawes is op 19 November 2013 deur die waarnemende Direkteur-Generaal van die Departement van Vervoer onderteken en dra dus gelyke, hoewel teenstrydige, gesag.”

“Die JPSA se regsverteenwoordigers het gistermiddag aan die Minister van Vervoer ‘n brief gerig waarin ons haar versoek om die betrokke tariefkennisgewings terug te trek en SANRAL opdrag te gee om die heffing en insamel van e-tolgeld te staak totdat die saak reggestel is,” het Dembovsky gesê. “Ons sal die media op die hoogte hou van verwikkelinge.”

Howard Dembovsky
National Chairman – Justice Project South Africa (NPC)

Posted on by jonckie

Comments Off on Sanral in nuwe e-Toll blaps