Bridgestone stel bandeveiligheidswenke bekend

Bridgestone het kort ná sy 2013-bandepeilingseisoen, waarin nuwe rekords opgestel het, ’n lys van sy belangrikste bandeveiligheidswenke bekend gestel. Dié wenke is gegrond op die terugvoer van Bridgestone se bandespesialiste wat die peilings uitgevoer het. Meer as 6 000 bande is vanjaar regdeur Suid-Afrika vir skade, loopvlakdiepte en banddruk ondersoek. Die voorkoms van onpaar bande aan dieselfde voertuig is ook ondersoek.

1. Gaan banddruk elke twee weke na

Nagenoeg tien persent van al die bande in die 2013-peiling het die verkeerde banddruk gehad. Bande wat te styf gepomp is, loop in die middel af en verminder padhouvermoë. Bande wat te pap is, loop op die skouers af, en dit verswak ook hantering. Daarbenewens bou bande wat nie styf genoeg gepomp is nie, ook meer hitte op, wat kan veroorsaak dat die band bars.

2. Gaan bande gereeld na vir skade en loopvlakdiepte telkens wanneer die druk nagegaan word

Snye, kneusplekke en voorwerpe wat in die rubber vassteek, veroorsaak die algemeenste bandeprobleme, en enige daarvan kan ’n band skielik laat bars. Gaan die bande gereeld na om seker te maak jy loop nie die gevaar dat ’n band weens sulke skade sal bars nie. Bande mag ook nie tot ’n loopvlakdiepte van minder as 1,6mm, of verder as die loopvlakdiepte-aanwyser (TWI) afloop nie. Bande met ’n loopvlak van minder as 3mm sal in werklike toestande nie meer water doeltreffend genoeg kan verplaas nie. Dit kan veroorsaak dat die voertuig op deurdrenkte oppervlakke bo-op die water gly. Let ook op na oneweredige slytasiepatrone wanneer jy die bande ondersoek. Dit kan op vering- of wielsporingsfoute dui.

3. Maak seker elke wiel het klepdoppies

Klepdoppies beskerm die klep teen stof, sand en ander organiese materiaal. Die klep kan begin lek as vreemde stowwe daarin beland, en dit kan daartoe lei dat die band stadig pap word. Dit kan groot gevaar veroorsaak wanneer iemand onbewustelik met ’n wiel ry wat te pap geword het. Dié gevaar kan verminder word deur seker te maak elke klep het ’n doppie.

4. Moenie verskillende bande aan dieselfde as meng nie

Die voertuig se stabiliteit kan ernstig deur bande met verskillende loopvlakke (of van verskillende vervaardigers) aan dieselfde as benadeel word. Die voertuig sal anders in draaie na links as na regs hanteer, en kan na een kant toe trek wanneer die bestuurder rem. Sommige voertuie wat in die 2013-bandepeiling ondersoek is, het selfs vier verskillende bande gehad (vier bande waarvan elkeen verskil).

5. Ondersoek die hele wiel in sy geheel

Wanneer jy jou voertuig se bande nagaan, ondersoek die vellings ook. Soek na krake of duike in die velling, wat deur goed soos slaggate, klippe of randstene veroorsaak kan word. Kyk ook of die band nie daardeur beskadig is nie.

Wees ook op die uitkyk vir olielekke uit die naaf, wat op ’n probleem met die wiellaer kan dui. Maak ook seker al die wielboute of moere is op hul plek en stewig vas, en moenie die spaarwiel vergeet wanneer jy die bande elke tweede week ondersoek nie!

Besoek ook:

Tyre Safety and Road Safety

Posted on by jonckie

Comments Off on Bridgestone stel bandeveiligheidswenke bekend