Toyota voer Suid-Afrika se aanslag in die Dakar -veldtydren aan!

Wat doen jy vir ’n toegif nadat jy eers derde en toe tweede in die Dakar-veldtydren was? As jy Toyota is, wie se kern-sakebeginsel die strewe na voortdurende verbetering is, mik jy vir die eerste plek en ’n gewigte oorwinning – nie net vir Toyota nie, maar ook vir die hele Suid-Afrika.

Die Toyota Imperial Suid-Afrika-renspan, wat in 2012 derde in Toyota Suid-Afrika Motors se eerste probeerslag in die wêreld se langste en moeilikste motorsportbyeenkoms was, en vanjaar as naaswenners uit die stryd getree het, sal in Januarie 2014 probeer om die 35e Dakar-veldtydren in Argentinië, Bolivië en Chile te wen en ’n groot slag vir Suid-Afrikaanse motorsport te slaan.

Die hoop van alle Suid-Afrikaanse motorsportgeesdriftiges is in die hande van die 2009-wenners en 2013-naaswenners Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz, en die Dakar-nuwelingjaer Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, wat in 2010 die tiende plek saam met Duncan Vos beklink het. Hulle sal agter die stuur van twee nuwe Toyota Imperial Hilux V8 4×4-renbakkies wees wat deur Toyota Motorsport Suid-Afrika ontwerp is en by hul werkswinkel in Johannesburg in aanbou is.

Wat is die kans dat Toyota die Dakar kan wen?

“Die Dakar is ’n allemintige uitdaging en ons moet realisties op ons kans op ’n oorwinning wees,” het Glyn Hall, die spanhoof, gesê. “Dis reeds ’n massiewe kordaatstuk net om die roete oor 14 dae en 8 500 kilometer deur twee lande en 13 sneltrajekte te voltooi. Ons is baie trots op ons podiumposisies in die afgelope twee byeenkomste, en sal daarop uit wees om weer op die podium te eindig. Ons het almal tot dusver baie hard daaraan gewerk om hierdie doelwit te behaal, en ons het ’n nuwe Hilux om ons daarmee te help. ’n Oorwinning sal ’n puik beloning vir die hele span en ons borge wees.”

Hall wys daarop dat die span nie die eerste keer daar gaan jaag nie. “Ons weet wat om te verwag. Ons is nie daarop uit om groot veranderings aan te bring nie; dis nie nodig nie. Ons het ’n baie suksesvolle pakket wat ons die afgelope drie jaar al ontwikkel, en die uitslae wat ons tot dusver behaal het, is bewys daarvan,” het Hall versekerend gesê.

“Maar ons moet nog ons algehele verrigting verbeter – net soos ons teenstanders sal doen – as ons mededingend wil bly. Dit is eintlik ’n geval van verfyning – dit is in die detail waar ons betekenisvolle verbeterings kon aanbring.

“Ons het alles wat ons in die afgelope twee Dakar-renne en elke toets wat ons gedoen het – soos ons toetsweek in die Namib-woestyn – geleer het, in ons nuwe motor ingebou. Ons het ’n string nuwighede in Namibië getoets, wat baie anders is as wat ons in ons voorbereiding vir vanjaar se Dakar gedoen het.”

Dit sal die elfde keer wees dat die Dakar-veldtydrenveterane De Villiers (41) en Von Zitzewitz (45), ’n Duitser wat deur die span as ’n ereburger van Suid-Afrika beskou word, aan die byeenkoms sal deelneem – De Villiers telkens agter die stuur van ’n veldrenmotor, en Von Zitzewitz een keer op ’n motorfiets (hy was die nuwelingjaer van die jaar toe hy die eerste keer in 1997 deelgeneem het en vyfde was) en die ander tien keer as navigator.

Dit sal Poulter (33), wat meer daaraan gewoond is om in sy Castrol-Toyota Yaris een van die voorjaers in die nasionale tydrenkampioenskap te wees, se eerste deelname aan die oeroupa van veldrenne wees, terwyl Howie (40) die derde agtereenvolgende keer die navigasiewerk deur Suid-Amerika sal doen. Poulter is net soos De Villiers een van Suid-Afrika se veelsydigste renjaers, en het nasionale kampioenskappe in motocross, renstelle en produksiemotor-baanrenne gewen. Hy pronk daarbenewens ook met ’n nasionaletydren-klaskampioenskap en renstel-wêreldkampioenskappe.

Die 2014-Dakar-veldtydren begin op 5 Januarie in Rosario in Argentinië en duur tot 18 Januarie wanneer die ren in Valparaiso in Chile eindig. Die Argentynse gedeelte behels sewe sneldele sowel as die rusdag op 11 Januarie in Salta, terwyl ses sneltrajekte in Chile beslis sal word. Die motorfietsdeelnemers sal ook aan ’n marathon-gedeelte met ’n oornaghalte in Bolivië deelneem.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Besoek ook die volgende skakels:

Safe Driving on Gravek Roads

4×4 Off-Road Driving Techniques and Vehicle Safety

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota voer Suid-Afrika se aanslag in die Dakar -veldtydren aan!