Toyota Motorsport rond suksesvolle 2013-Seisoen af

 

  • 1e en 3e in veldtydren-jaers- en navigatorskampioenskappe
  • 1e in vervaardigerskampioenskap
  • 1e in Klas SP
  • 1e in Klas D

Toyota het wel die veldslag verloor, maar die oorlog gewen toe Toyota Motorsport Suid-Afrika se renjaers Anthony Taylor/Dennis Murphy en Duncan Vos/Rob Howie die naweek onderskeidelik tweede en vierde in hul Klas SP-Castrol-Toyota Hilux-bakkies in die 2013-veldtydrenseisoen se laaste byeenkoms, die Atlas Copco Gold-400 in Glenharvie wes van Johannesburg, was.

Taylor en Murphy het reeds hul eerste en Toyota se 16e algehele produksievoertuig-kampioenskappe in die voorlaaste ronde van die Donaldson-veldtydrenkampioenskap, die Ford-handelaars-400 in Oktober in die Vrystaat, beklink. Vos en Howie, die 2012-kampioene, was derde in die kampioenskap toe Vos op merkwaardige wyse die agtste keer in agt jaar op die podium gestaan het. Hy het die kampioenskap vier keer gewen.

Toyotahet die vervaardigerspanprys vir die byeenkoms die sewende keer in agt renne gewen nadat dié vervaardiger vroeër reeds die algehele jaerskampioenskap die sesde jaar agtereenvolgens gewen het.

“Ons het ’n puik seisoen met ons tweede agtereenvolgende jaers- en navigatorskampioenskappe gehad, en danksy die hulp van private Toyota-jaers nog ’n vervaardigerskampioenskap ook,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Ons sou graag ’n sesde oorwinning vir die jaar wou gehad het en het hard gewerk om dit reg te kry. Al twee Toyotas het soos klokslag geloop en was regdeur so sterk soos altyd. ’n Dubbele Toyota-oorwinning het regdeur die ren moontlik gelyk, maar dit was moeilik om verby te steek terwyl pap wiele gedurig ’n groot bedreiging was.”

Die tweeToyotaMotorsport-spanne was ná Vrydag se voorren oor 60 kilometer, wat gebruik is om die wegspringorde vir Saterdag se hoofren oor 314 kilometer te bepaal, in ’n goeie posisie om weer die eerste en tweede plekke te beklink wat hulle verlede jaar in dieselfde ren behaal het toe Vos die algehele wenner was. Vos/Howie was vierde op die wegspringstreep terwyl Taylor/Murphy vyfde was.

Vos/Howie het die voortou in die eerste 80 kilometer voor Gary Bertholdt/Siegfried Rosseau en Willem Vos/Werner Weiss oorgeneem. Taylor/Murphy, wat kort agter hul spanmaats in die tweede plek was, het vier minute verloor toe hulle ’n boompie getref het terwyl hulle Vos/Howie in digte stof probeer verbysteek het. Hulle moes noodgedwonge stilhou en uitklim om hul stukkende windskerm uit te haal, en het in die agtste posisie verder gejaag. Hulle het later nog tyd verloor toe hulle weer moes stilhou om ’n pap wiel te ruil.

Vos en Howie was eerste by die verpligte kuipestop by die halfpadmerk by die Kloof-buiteklub nadat hulle die eerste van die ren se twee rondtes oor 157 kilometer met ’n voorsprong van 1 min 34 sekondes teenoor W. Vos en Weiss afgelê het. ’n Tipiese inhaalpoging deur Taylor, wat regdeur die seisoen die grootste gunsteling was, het hom sy pad deur die renveld tot ’n puik derde plek by die halfpadmerk laat oopjaag – 34 sekondes agter W Vos nadat hy bykans 4 minute teenoor die voorjaers ingehaal het.

Dit was ná ’n probleemvrye eerste rondte Vos en Howie se beurt om deur pap wiele gekniehalter te word – twee daarvan kort ná mekaar wat hulle ná die 200km-merk tot vierde agterW. Vosen Weiss, Taylor/Murphy en Bertholdt/Rosseau laat terugsak het.

Hulle het die oorblywende afstand verwoed aangepak en Bertholdt/Rosseau ingehaal, maar moes met die vierde plek ’n senutergende 28 sekondes agtertoe, en 3 minute 48 sekondes agter die uiteindelike wenners,W. Vosen Weiss, tevrede wees. Taylor en Murphy het nog ’n plek opgeskuif en tot 1 minuut 49 sekondes agter die wenners in die tweede plek geëindig

Klas D is deur die private Toyota-jaers Johan en Werner Horn in ’n Toyota Land Cruiser-bakkie voor Dana Vos en Hendrik de Kock in ’n Toyota Hilux gewen. Die klaskampioenskap is in die vorige ronde reeds deur Jason Venter en Vincent van Alleman (Toyota Hilux) gewen, en die Horn-broers se oorwinning in die laaste byeenkoms van die seisoen het hul posisie as naaswenners verseker.

Private Toyota-jaers het ook die eerste twee posisies in Klas E beklink toe Johan Pretorius/Gesina Dauth dié klas voor Douglas Fear/Kurt de Villiers gewen het. Fear/De Villiers was uiteindelik tweede in die klaskampioenskap.

Die openingsronde van die 2014-kampioenskap, die RFS 450, word die naweek van 28 Februarie en 1 Maart in die Vrystaat beslis.

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, DeWalt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, 4×4 MageWorld, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan op Twitter www.twitter.com/toyotasa.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Motorsport rond suksesvolle 2013-Seisoen af