Toyota Motorsport mik na oorwinning in Tuinroete Tydren

Toyota Motorsport is daarop uit om die seisoen die naweek van 15 en 16 November met ’n oorwinning in die SA Tydrenkampioenskap se Tuinroete-tydren in die Wes-Kaap af te sluit.

Hoewel die kampioenskap reeds ten gunste van Mark Cronjé en Robin Houghton beslis is, sal die Castrol-Toyota-jaers Johnny Gemmell/Carolyn Swan en Leeroy Poulter/Elvéne Coetzee hoogs gemotiveerd wees om ’n ontwykende eerste oorwinning van die seisoen te beklink nadat hulle ’n paar keer só naby daaraan was.

Beide spanne is groot aanspraakmakers nadat Gemmell/Swan in die laaste twee rondes telkens die naaswenners agter Cronjé/Houghton was, en ’n algehele eerste oorwinning vir die nuwe tydren-Yaris met minder as twee sekondes in die Toyota-Kaap-handelaarstydren misgeloop het. Hulle is nou tweede in die kampioenskap en 22 punte voor Jean-Pierre Damseaux/Hilton Auffray (Span Total-Toyota Auris) in die derde plek, terwyl 25 punte nog in die laaste byeenkoms op die spel is.

Poulter en Coetzee het hierdie seisoen al ’n hele paar keer met die regte spoed vorendag gekom, en was net ongelukkig om nié die Toyota-Kaap-handelaarstydren te wen nie nadat hulle die laaste dag tot twee sneltrajekte voor die einde 27 sekondes voor was.

“Ons het vir hierdie laaste tydren van die jaar ’n aantal klein verbeterings aan die Yaris aangebring,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Die Yaris was al vyf keer op die podium – vier keer as naaswenner – en ons is baie in ons skik met die vordering wat ons met die nuwe motor se ontwikkelingsprogram gemaak het.

“Ons weet ons het ’n mededingende pakket en kon met ’n bietjie geluk aan ons kant reeds minstens twee oorwinnings gevier het. Dit is dus ons doel om hierdie naweek se tydren te wen. Leeroy en Johnny het regdeur die seisoen talle sneltrakte gewen, dus weet ek ons het die potensiaal om te wen. Ons moet dit net doen.”

Die Yaris, wat die Super 2000-klas-Toyota Auris opgevolg het, het sy buiging in Maart vanjaar in die seisoen se openingsronde, die Total-tydren in KwaZulu-Natal, gemaak. Die motor het van meet af beïndruk toe Poulter/Coetzee vierde was en Gemmell/Swan die Yaris se eerste sneltrajekoorwinning aangeteken het. Dit is die eerste Yaris wat ’n nasionale tydrenkampioenskap in enige land ter wêreld aangepak het, en is in Toyota Motorsport se werkswinkel by Kyalami ontwerp en gebou.

Giniel de Villiers en Greg Godrich sal die Imperial Toyota Yaris sy laaste uitstappie van die jaar gee. Hulle het ’n goeie eerste seisoen saam gehad en hul bestendigheid het hulle tot die vyfde plek laat styg nadat hulle in elke tydren tot dusver punte aangeteken het. Hulle is 28 punte agter hul spanmaats Gemmell en Swan en 8,5 voor Poulter/Coetzee. De Villiers, wat beter as veldtydrenjaer bekend is (hy het die 2009-Dakar-veldtydren in Suid-Amerika gewen en was vanjaar die naaswenner in ’n Toyota Imperial Hilux) jaag in maar met sy tweede tydrenseisoen vir Toyota, en het die gaping agter sy meer ervare teenstanders in elke byeenkoms vanjaar laat krimp.

Die Tuinroete-tydren begin Vrydag om 11:00 by die Garden Route-winkelsentrum in George. Die eerste dag sal uit vyf grondpadsneltrajekte bestaan, waarna die deelnemers vir die oornaghalte in Geroge sal terugkeer. Die tydren word Saterdag om 7:00 hervat met die eerste van dié dag se sewe sneltrajekte, wat ’n gedeelte van die geskiedkundige Montagu-pas sal insluit. Dit sal die eerste keer in meer as 20 jaar wees dat dié bergpas weer vir ’n tydren gebruik word. Die eerste motor word omstreeks 15:10 by die eindpunt in George verwag.

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, De Walt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg al die opwinding en gebeurlikhede van die Castrol Toyota-tydrenspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Motorsport mik na oorwinning in Tuinroete Tydren