Origami waarborg Lexus ES-gehalte

Die handgestikte afwerking van die voorpaneel is maar net een voorbeeld van die omvang van weelde en gehalte wat in die nuwe Lexus ES, wat eksklusief by die Miyata-aanleg in Maleisië gebou word, aangetref word.

Die hoëgehalte-afwerking, wat deur een van net twaalf uitgesoekte vakmanne gedoen is, is die gevolg van intense werwing, opleiding en toetswerk.

Een van die toetse behels dat die kandidaat ’n origami-kat uit ’n vel papier moet vou – met een hand, en dít in minder as 90 sekondes. Hierdie soort vakmanskap strek deur die hele ES-vervaardigingsproses onder die wakende oë van ‘Takumi’, oftewel vakman-meesters, wat die werkmag van 7 700 ES-personeel in die aanleg werf, oplei en evalueer.

Volgens Toshio Yoneoka, hoofbestuurder van die Miyata-aanleg, word alles van komponent-samestelling, montering en verf tot finale toetswerk onder die immer streng oë van die Takumi gedoen. Die Takumi, bedryf en stel nie net die opleidingsprogram op nie, werk ook saam met tegnici om bestaande toerusting aan te pas en te verbeter ten einde die vervaardigingsproses te verbeter. Mnr Yoneoka sê in die verfaanleg is ’n belangrike komponent van die opleiding om die vakleerlinge presiese, meetbare terugvoer oor hul vordering te gee.

“ ’n Goeie voorbeeld is die verfproses waar die oppervlak met gaaslappies gepoleer word. Ons het vasgestel dat die ideale druk wat uitgeoefen moet word, sowat 700 gram moet wees, en ons gebruik ’n meter om die presiese druk te bepaal en die vakleerlinge te wys hoe naby hulle aan die ideale druk kom,” het hy gesê.

“In ’n ander fase moet die verf verkieslik van ’n afstand van 300 mm van die binne-oppervlak van die paneel af aangespuit word, en ons gebruik instrumente om dit te meet. Ons deel nie net opdragte uit nie, maar gee ook tasbare terugvoer,” het Yoneoka gesê.

Nog ’n voorbeeld waar mens en masjien saam ingespan word, word in die rompsamestellingsproses aangetref. Mnr. Yoneoka verduidelik dat die monteerlynwerkers wat die belyning van onderdele nagaan, hul sintuie voortdurend ontwikkel.

“Hulle verfris hul tas-sin elke twee ure deur hul vingers oor ’n voorbeeld van die volmaakte saamgestelde komponent te vee om die korrekte ‘gevoel’ van die komponente te onthou,” het Yoneoka gesê.

Menslike sintuie word deur meganiese sensors aangevul waar en wanneer dit van toepassing is. Ongelykhede in byvoorbeeld die persproses kan opgespoor word deur ’n spesiaal ontwerpte hittebeeldstelsel te gebruik, wat die visuele en tasbare inspeksies waarop voorheen staatgemaak is, vervang.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Origami waarborg Lexus ES-gehalte