Nuwe rekord in Bridgestone-bandepeilings

Bridgestone se 2013-bandepeilingseisoen het ’n nuwe rekord in die voorlaaste ondersoek van die jaar by Pick n Pay se Durbanse Hipermark, wat op 19 Oktober gedoen is, opgestel.

“Ons het met nog een bandepeiling wat vanjaar in Kaapstad gedoen gaan word, ’n nuwe nasionale rekord van 5 812 bande wat nagegaan is, opgestel,” het Mandy Lovell, Bridgestone se skakelbestuurder, gesê. “Dit het die vorige rekord van 5 788 bande in 2008 oortref,” het sy verduidelik. “Ons verwag dat ons dit teen die Kaapstad-peiling met 1 000 bande kan verbeter en 2013 só die nuwe maatstaf vir die Bridgestone-bandepeilingsprojek maak.”

Durban se bydrae tot die poging het op 1 164 bande aan 291 voertuie te staan gekom. Al dié bande is deur ’n span Bridgestone-bandespesialiste vir banddruk, toestand en loopvlak ondersoek.  Die span was ook op die uitkyk vir onpaar bande en het gevind dat 19% van die voertuie meer as een fabrikaat bande gehad het. Baie voertuie het selfs drie, soms vier verskillende fabrikate bande, gehad. Bande van verskillende fabrikate en loopvlakpatrone aan een voertuig kan tot onvoorspelbare hantering lei, veral wanneer dit aan dieselfde as gebruik word. “As jy noodgedwonge bande van verskillende fabrikate moet gebruik as dié wat reeds aan die voertuig is, probeer om ten minste bande van dieselfde fabrikaat en loopvlakpatroon saam op elke as te gebruik om die negatiewe uitwerking op padhouvermoë tot die minimum te beperk,” is Lovell se raad.

Die verskil in banddruk is aangedui as ‘effens gevaarlik’ (tussen 1,8 en 2,9 bar), gevaarlik (1,5 tot 1,7 bar) en uiters gevaarlik (onder 1,5 bar of meer as 2,9 bar). Altesaam 91% van die bande wat ondersoek is, is as ‘veilig’ gegradeer, wat Durban se motoriste in die tweede plek vir 2013 – agter die 98% van Centurion se motoriste wat vroeër vanjaar gemeet is – plaas. Durbanse motoriste, waarvan 5% van die bande wat ondersoek is as ‘gevaarlik’ geradeer is, kon daarmee net die gesamentlike derde posisie vir die jaar aanteken, maar het effens beter gevaar wanneer dit by bande kom wat as ‘uiters gevaarlik’ uitgewys is: net 4% van die bande wat ondersoek is, het in hierdie kategorie geval, wat Durban in die gesamentlike tweede plek vir die jaar geplaas het.

Daar was nog goeie nuus: net 3% van die bande wat in die peiling onder die vergrootglas was, is só erg beskadig of afgeloop dat hulle dringend vervang moet word. Dit het Durban saam met Centurion in die gesamentlike eerste plek vir 2013 geplaas.

“Ons is baie tevrede met die sukses wat ons in die Durbanse bande-peiling ervaar het, maar ons is steeds bekommerd oor die hoë voorkoms van onpaar bande, wat op 19% te staan gekom het,” het Lovell gesê. “Ons doen weereens ’n beroep op motoriste om seker te maak hul voertuie se padhou- en remvermoë word nie deur gemengde bande en verskillende loopvlakpatrone benadeel nie,” het sy afgesluit.

Besoek ook: Bande and Padveiligheid

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuwe rekord in Bridgestone-bandepeilings